Minister moet opdok ná polisie mans martel

Deur Geoffrey Allsop

Die Konstitusionele Hof het die minister van polisie beveel om R500 000 vergoeding aan Johannes Mahlangu en Phanie Mtsweni te betaal. (Foto: SAPD/Facebook)

Die Konstitusionele Hof het die minister van polisie beveel om R500 000 vergoeding aan Johannes Mahlangu en Phanie Mtsweni te betaal, nadat hulle in 2005 agt maande lank onregmatig deur polisie aangehou en gemartel is.

Mtsweni is dood voordat dié uitspraak gelewer is.

Die mans se inhegtenisneming het gevolg nadat ’n gesin in hul huis in Middelburg, Mpumalanga, vermoor is. ’n Jong meisie is tydens die voorval verkrag voordat sy doodgemaak is. Haar driejarige sussie was die enigste oorlewende.

Enkele dae later het die polisie Mahlangu se huis sonder ’n lasbrief betree en hom ten aanskoue van sy familie in hegtenis geneem. Hy is gevolglik na die Middelburg-polisiestasie vir ondervraging geneem.

Nadat Mahlangu enige betrokkenheid by die misdade ontken het, het polisiebeamptes hom ure lank gemartel totdat hy valslik skuld beken het. Sy buurman, Mtsweni, is ook valslik by die misdade betrek en op dieselfde dag sonder ’n lasbrief in hegtenis geneem.

Dit het later aan die lig gekom dat die polisie geen bewyse teen Mahlangu of Mtsweni gehad het nie, en ook nie hul grondwetlike regte aan hulle verduidelik het voordat hulle in hegtenis geneem is nie.

Hulle het die volgende dag sonder regsverteenwoordiging in die landdroshof verskyn waar hulle gevra het om op borgtog vrygelaat te word.

Voordat die hofverrigtinge begin het, het die ondersoekbeampte, ene lt. Mthombeni, Mahlangu se valse bekentenis aan die aanklaer oorhandig. Hy het egter versuim om te sê dat die bekentenis deur marteling verkry is, wat dit ontoelaatbaar in die hof sou maak.

Gegrond op die bekentenis, het die staatsaanklaer die landdros vir uitstel gevra omdat hy die borgtogaansoek wou teenstaan.

Die saak is uitgestel en die mans moes in aanhouding bly tot hul volgende verskyning.

Mahlangu het later getuig dat die landdros nooit aan hom verduidelik het dat hulle die reg gehad het om teen die aanklaer se uitstelversoek te appèlleer nie.

Hulle het in die volgende agt maande nog 14 keer in de hof verskyn waartydens die landdros elke keer beslis het dat hulle in aanhouding bly. Mahlangu het nooit vir borgtog aansoek gedoen nie. Dit blyk dat Mtsweni wel het, maar dat dit elke keer van die hand gewys is.

Die mans is eindelik vrygelaat nadat die ware oortreders vasgetrek is en die direkteur van openbare vervolging geweier het om hulle te vervolg.

Ná afloop van hul vrylating het Mahlangu en Mtsweni met regstappe in die hooggeregshof begin om die minister aanspreeklik te hou vir die miskenning van hul regte, die trauma wat hulle verduur het, die verlies aan inkomste sedert hul onregmatige inhegtenisneming, marteling én vir die agt maande wat hulle in aanhouding moes deurbring.

Geskiedenis oor die saak:

Lt. Mthombeni het in die hooggeregshof erken dat hy buiten die valse bekentenis geen bewyse teen Mahlangu en Mtsweni gehad het nie. Hy het ook erken dat hy geweet het dat die aanklaer op die bekentenis sou steun om hulle in aanhouding te hou.

Mahlangu het in die hof verduidelik hoe die polisie hulle voortdurend tydens hul aanhouding aangerand en gemartel het.

Hulle is glo ook deur ander gevangenes gedreig en aangerand wat geglo het dat hulle die misdade gepleeg het.

Mahlangu het getuig dat hulle later in afsondering geplaas is om hulle teen dié gevangenes te beskerm.

Die hooggeregshof het bevind dat hul regte misken is en hul inhegtenisneming onregmatig was.

Die hof het wel bevind dat die polisieminister nie vir die agt maande lange aanhouding aanspreeklik gehou kan word nie, aangesien die landdros ná hul eerste hofverskyning beslis het dat hulle in aanhouding bly.

Die polisieminister is gevolglik ook nie aanspreeklik vir hul verlies aan inkomste of sielkundige trauma nie.

Appèl

Mahlangu en die eksekuteur van Mtsweni se boedel het teen die uitspraak in die hooggeregshof geappelleer. Die appѐl het egter in die hooggeregshof, asook die Hoogste Hof van Appѐl misluk en die slagoffers het hulle tot die Konstitusionele Hof gewend.

Dié hof het eenparig beslis dat die bevindinge deur die hooggeregs- en appèlhof verkeerd was.

Die hof het aangevoer dat lt. Mthombeni sy plig versuim het deur die inligting te weerhou dat Mahlangu se bekentenis deur marteling verkry is. Dít, het die hof gesê, het gelei tot alles wat in die volgende agt maande gebeur het.

Die hof het ook bevind dat die appèlhof Mahlangu en Mtsweni verkeerdelik gekritiseer het vir hul versuim om vir borgtog aansoek te doen en dat dit nie die feit verander dat hulle van die begin af onregmatig in hegtenis geneem is nie.

Die hof het gevolglik bevind dat die polisieminister R500 000 aan Mahlangu en Mtsweni verskuldig is. Hy moet ook hul regskoste betaal.

Die berig het oorspronklik op Groundup verskyn.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

15 Kommentare

jongste oudste gewildste
Marisa W

Ek wil nou nie snaaks wees nie, maar R500,000 voel vir my ‘n bietjie lig. Ek dink nog ‘n nulletjie agter sal beter wees.

Witwolf

Die onreg laat mens sidder! My eerste gedagte was waarom het die landdros nie die nodige vrae gevra en hulle regte verduidelik nie! Mag ek nooit met die Suid-Afrikaanse regstelsel kennis maak nie!

Chris dupreez

Die hof moes beslis het dat hy dit uit sy sak uit moet betaal, nou betaal ons daarvoor. Ek hoop hy raak nou ontslae van die persone wat die oorsaak was hiervan

LANA is ELANè

Net WEEREENS ‘n bewys van hoe gevaarlik lede vd SAPD is.
Hulle dwing geen maar geen respek by my af nie, slegs ‘n intense vrees as ek hulle noodgedwonge raakloop of iets met hulle te doen MOET hê.

ES

Ek kan nie glo dat die hof nie die twee mans toegelaat het om regsverteenwoordigers aan te stel nie.

Dis swak, en die landdros behoort uit sy pos verwyder te word want hy het geoordeel sonder om die regte stappe te volg. Die Konstitusie gee almal die reg tot regsverteenwordiging sowel as om nie gemartel of verneder te word wanneer hulle in aanhouding is nie.

Dis skokkend.