Minister moet Russiese vliegtuig op Waterkloof verduidelik

Waterkloof-lugmagbasis. (Foto: Wikimedia)

Daar heers opnuut vrae oor Suid-Afrika se verhouding met Rusland nadat ’n vliegtuig van ’n Russiese lugredery wat tans aan sanksies deur onder meer die Amerikaanse tesourie onderworpe is, verlede week by die Waterkloof-lugmagbasis in Pretoria geland het.

Die vragvliegtuig van die private vraglugredery Aviacon Zitotrans in Rusland het glo pos vir die Russiese ambassade in Pretoria afgelaai toe dit op 24 April stil-stil by Waterkloof geland het.

Die landing het egter aandag getrek en selfs die internasionale media gehaal met die New York Times wat daaroor berig het.

Luidens dié berig kan die landing moontlik verdere spanning tussen Suid-Afrika en die VSA veroorsaak aangesien dié land op 26 Januarie sanksies teen Aviacon Zitotrans ingestel het vir sy betrokkenheid by die vervoer van onder meer wapentuig namens die Russiese gewapende magte.

Maroela Media het self vroeër vanjaar berig dat die VSA nie beïndruk is met Suid-Afrika se verhouding met Rusland nie.

Thandi Modise, minister van verdediging, hou egter vol daar is vooraf toestemming gegee vir die landing van Aviacon Zitotrans se vliegtuig verlede week.

Kobus Marais, die DA se woordvoerder oor verdediging, sê dié party is nie daarvan oortuig nie en gaan ’n skrywe aan Modise rig waarin ʼn verdere verduideliking van haar geëis sal word oor waarom dié vliegtuig toegelaat is om by Waterkloof te land.

Thandi Modise, minister van verdediging. (Foto: Jairus Mmutle / GCIS )

Die DA wil by die minister weet of dit normale praktyk is dat goedere via die lugmagbasis ingebring word vir enige buitelandse missies. “Indien die nodige klarings nie gedoen is nie, beskou ons dit as ’n ernstige verbreking van protokol en sekuriteit,” sê Marais.

Marais wys voorts daarop dat Suid-Afrika ’n verantwoordelikheid het om te verseker dat ons lugruim en militêre basisse nie gebruik word vir doeleindes wat in stryd is met wette en internasionale verpligtinge nie.

Die VF Plus wil op sy beurt weet waarom die Waterkloof-lugmagbasis in besonder gebruik is aangesien dit ʼn militêre lugmagbasis is en nie vir kommersiële doeleindes gebruik word nie.

“Die VF Plus sou van die minister wou weet of daar ook ander lande is wat gebruik maak van die Waterkloof-lugmagbasis om hul diplomatieke pos te laat aflewer,” sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.

Groenewald sê die ANC skiet hom gereeld in die voet oor sy standpunt teenoor Rusland. “Hy sê hy wil ʼn neutrale rol speel, maar al sy optredes getuig daarvan dat hy partydig is ten gunste van Rusland.

“Om hierdie rede moet daar ook gevra word of hierdie toegewing ʼn spesiale guns was net om Rusland ter wille te wees,” het Groenewald bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

TruthDealer ·

Ons is lid vd BRICS nasies, nie waar nie? As dit n Brasiliaanse of Indiese vluegtuig was, sou Amerika daaroor hul speelgoed uit die kot gegooi het? Die absolute ongelooflike astrantheid. Dit het NIKS, ZILCH, ZERO, NADA met Amerika te doen as ons regering n Russiese vliegtuig toelaat om hier te land nie. Yankee if you’re not impressed well then go cry about it. Nobody cares.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.