Minister moet taakspan opstel oor staatsgrond vir behuising

Foto: Vincent Lali

Deur Matthew Hirsch, GroundUp

Pres. Cyril Ramaphosa het die minister van onderskeidelik menslike nedersettings en openbare werke opdrag gegee om eise deur behuising-aktiviste te ondersoek dat grond na gemeenskappe oorgedra word, het Vincent Magwenya, presidensiële woordvoerder, bevestig.

In Augustus het GroundUp berig dat aktiviste van Ndifuna Ukwazi en ander organisasies na die president se Kaapstadse woning opgeruk het om te eis dat die Wet op die Beskikking van Staatsgrond van 1961 gebruik word om staatsgrond vir behuising beskikbaar te stel.

Dit gee aan die president die mag om enige stuk staatsgrond in die land te skenk, verkoop, verhuur of te ruil. Die aktiviste het reeds 32 ​​stukke grond in Gauteng, KwaZulu-Natal en die Wes-Kaap geïdentifiseer wat hulle meen vir behuising gebruik kan word.

Gefrustreer deur die gebrek aan reaksie van Ramaphosa en die kantoor van die president, het die aktiviste verlede maand ʼn ope brief hieroor geskryf.

Magwenya sê egter die navrae is eers op 30 April ontvang.

“Dit lyk of hierdie e-posse nie die toepaslike kantoor in die presidensie bereik het nie en nie die nodige aandag ontvang het nie.

“Die president het die minister van menslike nedersettings en minister van openbare werke en infrastruktuur opdrag gegee om ʼn gesamentlike taakspan op die been te bring om aandag te gee aan die kwessies wat Ndifuna Ukwazi geopper het.”

Benewens Ndifuna Ukwazi sluit organisasies wat by die veldtog betrokke is in Indibano Yabahlali, Intlungu YaseMatyotyombeni, Reclaim the City, Housing Assembly, Surplus People’s Project, Abahlali baseMjondolo (KwaZulu-Natal) en die Inner City Federation (Johannesburg).

Mpho Raboeane, waarnemende direkteur van Ndifuna Ukwazi, sê hulle beplan om binnekort meer voorleggings aan die presidensie te doen.

“Om verblyfreg te verseker gaan die speelveld vir Suid-Afrikaners in die algemeen verander. Met sekuriteit kan mense in hul huis begin belê en dit gebruik as ʼn manier om toegang tot die formele ekonomie te verkry,” het sy gesê.

  • Hierdie berig is oorspronklik op GroundUp gepubliseer en word met vergunning gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

domheks ·

Hoe gouer hulle besef CR sorg net vir homself en die kaders, hoe beter. CR kan sommer sy 5 plase ook skenk …

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.