Minister na konstitusionele hof oor renosterhoring

Argieffoto

Argieffoto

Edna Molewa, die minister van omgewingsake, het gesê die verbod op plaaslike renosterhandel geld vir eers steeds aangesien sy haar nou tot die konstitusionele hof gewend het om haar saak te beveg.

Molewa het in ʼn verklaring gesê sy het Maandag ʼn versoek om appèl by die konstitusionele hof ingedien. Die aansoek beteken dat die hooggeregshof se vroeëre bevel dat die moratorium op plaaslike handel van renosterhoring gelig moet word, nou ter syde gestel is totdat die hof besluit oor die departement se appèlaansoek.

Johan Kruger, ʼn wildboer van Limpopo, het hom in 2012 tot die hof gewend om ʼn moratorium, wat in 2009 op die plaaslike handel van renosterhoring geplaas is, te laat lig. John Hume, die grootste renosterboer ter wêreld, met meer as 1 000 renosters op sy plaas buite Klerksdorp, het in 2015 by Kruger se hofgeding aangesluit as die tweede aansoeker in die saak.

Die departement van omgewingsake (DEA) het die aansoek teengestaan. Die Noord-Gautengse hooggeregshof het in 2015 in Kruger en Hume se guns beslis en die moratorium ter syde gestel. Molewa het die hooggeregshof genader om verlof tot appèl, maar dit is van die hand gewys. Molewa het haar toe tot die hoogste hof van appèl gewend, maar die departement se aansoek is in Mei weer met koste van die hand gewys.

Wildlife Ranching South Africa (WRSA) en die Vereniging vir Private Renostereienaars tree saam met Kruger en Hume as respondente in die saak op. Die respondente het 10 dae vandat die verlof tot appèl ingedien is om aan te dui of hulle die aansoek sal teenstaan en op watter grond.

Albi Modise, woordvoerder van die DEA, het aangedui dat daar intussen geen permitte vir die koop en verkoop van renosterhoring in Suid-Afrika uitgereik sal word nie. Die internasionale kommersiële handel in renosterhoring word steeds, ongeag die besluit van die konstitusionele hof, ingevolge die konvensie oor die internasionale handel in bedreigde spesies (Cites) verbied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Willie ·

Hulle moet n wereldwye verbot op dit plaas, met moord as straf… Siek mens wat dit kamptig as allerhande hulp middels wil gebruik…

Paul ·

Daar is ‘n wêreldwye verbod daarop, Willie. Nes daar ‘n wêreldwye verbod op meeste dwelmmiddels is. En kyk net hoe goed werk dit, of hoe?

Wanneer sal mense ophou om te dink mens kan beleide en wette maak vir ‘n ideale Utopia? Mens moet wette maak vir die werklikheid, nie vir ‘n droomwêreld nie.

Die werklikheid is dat dit juis die verbod op die handel is, wat renosters se dood veroorsaak, want weens die verbod het ‘n renostermeer waarde vir ‘n dief as vir die eienaar.

Karel ·

Moes sy dit nie al n paar jaar terug gedoen het nie, hoekom wag tot daar amper net een renoster oor is. Maak mens woedend as hulle nie die erns besef nie.

Paul ·

Karel, jy is duidelik nie ingelig oor die saak nie. Die internasionale handel is in die 1970s verban deur CITES.
Handel in renosterhoring is in 2009 in Suid-Afrika verban en dit bly steeds onwettig. Kyk net hoe goed het dit gewerk. In 2009 is daar 122 renosters gestroop, en in 2015 is daar byna tien keer soveel gestroop. Goed gewerk, né?

Mens kan nie wette maak wat teen die wette van ekonomie indruis nie. Die verbod op renosterhoringhandel veroorsaak dat die renosters meer waarde het vir stropers as vir die eienaars. In so situasie is dit onvermydelik dat die diere gestroop gaan word.

Watter dier is die minste bedreigd op aarde? Dit is die gewone hoender. Hoekom is dit so? Want mense is vry om handel te dryf in hoenders en in elke deel van die hoender se liggaam, van kop tot tone en van lewer tot vere. Dit gee die hoender waarde vir sy wettige eienaar.

Willie ·

Mense julle is verdwaal. Net as die verbod gelig word sal dit renosters bewaar. As boere horings kan verkoop sal stropers minder renosters stroop en boere sal verder geld kan inkry om renosters beter te bewaar. Ek meen baie van hierdie sogenaamde ” renosterbewaringsaksies” het net hulle eie finansiele belange voor oe.

Ander Koos ·

Stem saam. As renosterhoring vrylik verhandel sal stropery minder lonend wees en dus die renoster beter beskerm. Die howe dink blykbaar ook so Die minister en haar departement is verspot en mors net geld met hofsake. Hulle kan eerder die geld vir beskerming aanwend. In elk geval met huidige verbod en al kan hulle nie die stropery stop nie , laat die bedryf. en die mark dit dan doen

Takkie Takuuza ·

Ja Willie, mense dink nie. Daar is tonne horings in veilige bewaring, as hulle dit op die mark sit sal dit die aanvraag versadig en dit sal veroorsaak dat stropers nie meer geld daarvoor kry nie, dus sal dit bewaring help, maar die nar van ‘n minister baat dalk by die onwettige handel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.