Minister onbewus van regsaksie rakende Nkandla-verslag

Nkandla

Nkandla

Michael Masuthu, die nuut aangestelde minister van justisie, is onbewus van enige regsaksie teen die openbare beskermer rakende haar Nkandla-verslag, berig City Press.

“Ek het van die storie gehoor maar ek is nie bewus van hangende litigasie teen die openbare beskermer oor die saak nie,” het hy aan die koerant gesê. Masuthu het ook aan die koerant gesê hy glo dat indien parlement die saak laat “herleef” dié instelling die geskikte plek is om die verslag te hanteer.

Max Sisulu, voormalige speaker van die parlement, het voor die verkiesing ‘n ad-hoc komitee aangestel om ondersoek in te stel na voorleggings wat deur president Jacob Zuma gemaak is in antwoord op Thuli Madonsela, openbare beskermer, sê verdoemende Nkandla-verslag. Die komitee het egter na sy eerste sitting ontbind en gesê die nuwe parlement sal die saak verder hanteer.

Ministers in die veiligheidsgroepering het verlede maand aangekondig dat hulle ‘n geregtelike hersiening van die Nkandla-verslag sal aanvra aangesien hulle meen van die bevindinge en aanbevelings is “irrasioneel en teenstrydig” en dat die verslag regsfoute bevat.

Die City Press berig dat daar teen die naweek nog nie hofdokumente ingedien is nie.

Masuthu het aan die koerant gesê hy beskou Madonsela se verslag as “goed” in baie opsigte. “Daar is talle kwessies wat ‘n bietjie verwarrend is vir my maar wat ek nie buite die parlementêre proses wil bespreek nie.”

Madonsela het aan die koerant gesê sy sal graag met Masuthu wil vergader indien daar weer sprake van regsaksie is “om te sien of daar enige manier is om die ministers in die veiligheidsgroepering by te staan met ‘n verduideliking ten einde in die stadium regsaksie te vermy.”

Madonsela se verslag het bevind dat president Zuma onbehoorlik gebaat het by die opgraderings aan sy privaatwoning in Nkandla. Sy het onder meer voorgestel dat hy ‘n gedeelte van die geld wat spandeer is moet terugbetaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.