Minister ontbind Suid-Afrikaanse Taalraad

Nathi Mthethwa, minister van kuns en kultuur (Argieffoto uit 2014) Foto: GCIS

Nathi Mthethwa, minister van kuns en kultuur (Argieffoto uit 2014) Foto: GCIS

Nathi Mthethwa, minister van kuns en kultuur, het Woensdag aangekondig dat hy die Pan Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSAT) ontbind het weens swak prestasie en ʼn gebrek aan leierskap.

“Ek het die raad van PanSAT met onmiddellike effek ontbind,” het Mthethwa in ʼn verklaring gesê. “Die ontwikkeling van ons taal en bevordering van veeltaligheid in Suid-Afrika moet versnel word. Die jaar 2016 moet tasbare resultate oplewer. Kom ons begin op ʼn skoon bladsy en reageer doelbewus op die uitdagings wat PanSAT geraak het.”

PanSAT was verantwoordelik vir die bevordering en ontwikkeling van die land se amptelike landstale, insluitend gebaretaal.

Volgens Mthethwa was daar ʼn gebrek aan ʼn gemeenskaplike begrip tussen die departement en die raad wat die strategiese rol van PanSAT moet wees, en die raad se begrip van sy rol en verantwoordelikhede was nie in lyn met die wetgewende mandaat wat deur die PanSAT-wet en die Wet op Openbare Finansiële Bestuur bepaal is nie.

“Die raad het nie die verhouding tussen die uitvoerende gesag en die raad begryp nie en nie by die raamwerk aangesluit nie, en dit het ʼn impak gehad op die begrotingstem,” het Mthetha gesê. “Die raad het ook nie omsigtig te werk gegaan wat werkgewer/werknemer-verhoudings betref nie, en dit het PanSAT blootgestel aan regseise en nakomingsvereistes met sekere statutêre voorwaardes.”

Volgens die minister het die raad ook versuim om voldoende leierskap dwarsdeur sy termyn te toon, ondanks sekere ingrypings van die departement en die portefeuljekomitee oor kuns en kultuur.

Die Nasionale Erfenisraad is aangestel om PanSAT te bestuur en seker te maak dat ʼn omdraaistrategie ontwikkel en ingestel word. “Hierdie strategie sal poog om kontantvloeiprobleme uit die weg te ruim, om produktiwiteit te verhoog en die doelwitte van PanSAT vervul word. Verdere maatreëls sal deur die loop van die jaar ingestel word om stabiliteit binne PanSAT te verseker.”

Pieter Mulder, leier van die VF Plus, het egter gesê Mthethwa se eensydige besluit om die PanSAT-raad te ontbind, is “ʼn reuse fout wat die bevordering van veeltaligheid in Suid-Afrika jare terugsit”.

“Die vraag is of die forensiese verslag wat die PanSAT-raad laat opstel het oor vorige korrupsie en misbruik van geld by PanSAT, ʼn rol gespeel het in die skielike besluit van die minister om die raad af te dank,” het Mulder gesê. “Die verslag is nog nie bekend gemaak nie en die VF Plus sal daarop aandring dat dit nou openbaar gemaak word. Wat bevind die verslag en skram die minister en die departement dalk weg van die onthulling van korrupsie en vermorsing in die verlede?”

Volgens Mulder het die bestaande PanSAT uit taal-aktiviste en kundiges uit die verskillende Suid-Afrikaanse tale bestaan. “Was hierdie raad so onbekwaam as wat die minister beweer of is hulle afgedank omdat hierdie kundiges nie na die pype van die minister en die ANC wou dans nie?”

Hy het bygevoeg die afgedankte raad het by hulle aanstelling 18 maande gelede, ʼn PanSAT geërf wat miljoene rand per jaar oorbestee het met 80% van die personeel wat reuse salarisse trek, maar niks met die bevordering van taal te doen het nie.

“Deur hierdie huidige raad met ANC-napraters te vervang gaan nie veeltaligheid in Suid-Afrika bevorder of die duur en lomp PanSAT meer doeltreffend maak nie,” het hy gewaarsku. “Suid-Afrika verloor ook ten minste weer twee jaar voordat enige nuwe raad die huidige PanSAT-probleme sal verstaan en sal kan begin oplos.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

TTh ·

Nog ‘n suksesvolle mislukking van die ANC – ek se weg met die ANC, weg met die SAKP, weg met die EFF – Afrikaans is die beste taal vir Afrika !!!

Cillers ·

As die Taalraad moet waai omdat hy nie die mas opgekom het nie en nie sy werk gedoen het, volgens die minister, kan ons nou verwag dat talle ander regeringsliggame om dieselfde rede die trekpas gaan kry? Indien wel, begin sommer by die Presidensie!

Nic Grobler ·

Die Raad het Afrikaans seker nie vinnig genoeg afgebreek nie.

Reinhardt ·

Hoe dom is die ou? Hy wil inheemse tale ontwikkel, maar in dieselfde asem wil hy alle universiteite engels maak… regtig waar. Ek sê al vir maande: As hulle Stellenbosch wil “oop” maak, dan moet hulle dit Afrikaans hou, maar Afrika tale stadig maar seker byvoeg. Nie Afrikaans afdank nie.

Manzo Khulu ·

Waarder woorde het ek nog nie gehoor nie! Ek is nie Afrikaans nie maar wel Zulu en ek nog altyd gese die inheemse taalgemeskappe moet die voorbeeld van Afrikaans begin navolg. Net jammer dat die taal uit alle oorde so stelselmatig gesmoor word. Afrikaans het bewys dat selfs ‘n ‘veragte patois’ tot ‘n wereldtaal ontwikkel en gevitaliseer kan word as sy mense vir hulle regte en erfenis hulle grond staan. Afrikatale in SA kan dieselfde pad ook volg as die swart volk net kan ontwaak en begin besef dat Engels (wat almal amper as ‘n afgod aanbid) net een kommunikasiemiddel uit menige ander is en nie die geheel en al van onderwys en wereldwysheid is nie.

marous ·

Nee Minister….julle het voorgeskryf aan die komissie welke resultaat JULLE wou he , en toe die resultaat julle nie pas nie , toe ontbind jy dit!! Wat het julle belowe oor die beskerming van ALLE inheemse tale??? Leunaars!

Trots Afrikaans ·

Engels is algemeen (common), Afrikaans is eksklusief. Ek dink ons moet darm nou nie dat elke Jan Rap en sy maat ons taal begin praat nie. Later sit ons met dieselfde probleme as die Engelse.

Hou maar Afrikaans vir die wat Afrikaans is.

Elza Lorenz ·

Nou klink hierdie storie eers na ‘n deurmekaarspul van die eerste water. Verdeel en versprei gerugte klink na ‘n goeie plan om als te ontwrig en groot geknoei weg te steek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.