Minister ontken besluit oor e-tol in KZN

Argieffoto

Argieffoto

Die ministerie van vervoer het Vrydag gesê geen besluit is nog geneem oor die e-tolstelsel in KwaZulu-Natal nie.

“Enige besluit om ʼn tolstelsel in enige deel van die land op te rig, sal saam met die owerhede geneem word,” het minister Dipuo Peters in ʼn verklaring gesê. Die besluit sal eers geneem word nadat daar met die betrokke partye vergader is.

“Ek wil dit dus duidelik stel dat enige berigte, dat ʼn besluit geneem is om e-tol in KwaZulu-Natal in te stel, onwaar is,” het Peters gesê.

Sy sê alhoewel die land die huidige padinfrastruktuuragterstand moet aanspreek, is dit belangrik om die betrokke partye te raadpleeg. “Ons fokus tans daarop om sommige uitdagings, wat weens e-tol in sommige dele van Gauteng ervaar word, op te los.”

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) het Woensdag bekend gemaak dat e-tol teen November op die N2 en N3 in die provinsie ingestel sal word. Dit sal nie soos in Gauteng ʼn bykomende tol wees nie, maar slegs ʼn alternatiewe manier om tolgeld in te samel, het Logashri Sewnarain, streeksbestuurderder van Sanral in KwaZulu-Natal en die Vrystaat, gesê.

Die e-tolstelsel sal by die bestaande Mariannhill-tolplaza op die N3 en by die Oribi-tolplaza naby Port Shepstone op die N2 ingestel word. -SAPA

Lees ook:
KZN kry ook e-tol

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.