Minister ontken ‘gebrek aan beleggersvertroue’

Khumbudzo Ntshaveni, die minister in die presidensie (Foto: GCIS)

Khumbudzo Ntshaveni, die minister in die presidensie, het die regering se standpunt benadruk dat daar “geen beleggers is wat die land in hordes verlaat nie”.

Dit volg ná mediaberigte dat Shell die land ná meer as 100 jaar verlaat.

Die minister het Donderdag haar uitlatings gemaak aan die kantlyn van die presidensiële distriksontwikkelingsmodel (DDM)-imbizo wat in Kuruman in die Noord-Kaap gehou is.

“Daar is geen beleggers wat die land in hordes verlaat nie. Dit is kommersiële transaksies waarna maatskappye kyk. Een maatskappy onttrek, ʼn ander een kom in.”

Sy sê daar was gerugte dat Volkswagen uit die land sou vertrek. “Volkswagen het pas R4 miljard herbelê ter voorbereiding van ʼn nuwe reeks motors wat tussen 2027 en 2029 vervaardig word. Dit is kommersiële transaksies wat wêreldwyd plaasvind. Elke onderneming kyk na hul eie geleenthede en bepaal wat in hul eie belang is. Dit beteken nie dit is ʼn weerkaatsing van beleggersvertroue in die land nie.”

Die minister het gesê beleggings “vloei steeds in die land in” en het as voorbeeld verwys na die Boegoebaai-projek vir groen waterstof.

“Ek kan die getalle aanhaal wat belê word. Die president het na Boegoebaai verwys. Daar is internasionale beleggers en Suid-Afrikaanse maatskappye wat by Boegoebaai met ons saamgewerk het. Wat belangrik is, is wanneer jou eie ondernemings in jou eie land belê. Dit is die grootste teken, want dit wys die internasionale gemeenskap dat ons vertroue het.”

Pres. Cyril Ramaphosa het tydens sy Staatsrede vroeër vanjaar benadruk dat groen waterstof en die vervaardiging van elektriese voertuie veral aandag geniet.

“Ons gaan ʼn spesiale ekonomiese sone in Boegoebaai inrig om belegging in groen energie te bevorder,” het die president in daardie stadium gesê. “Daar is baie belangstelling uit die privaat sektor om aan dié projek deel te neem.”

Beurtkrag en logistiek

Oor die probleme van beurtkrag en die kwessies in spoorvrag vir ondernemings, het Ntshaveni gesê die regering werk aan dié uitdagings.

“Die media het drie maande gelede gesê beurtkrag verseker dat beleggers onttrek, maar ons het beurtkrag só hanteer dat ons nou al meer as ʼn maand lank is sonder beurtkrag. Daar is gerugte dat ons diesel verbruik. Ons brand nie diesel nie. Eskom het vir ons gesê dat hulle sommige [kragopwekkingseenhede] afskakel. Hulle doen die instandhouding vroeg, omdat ons oortollige elektrisiteit het.”

Sy sê logistieke probleme by Transnet, spesifiek in Durban, word ook getakel. “Ons is goed op dreef wat betref die agterstand wat hulle beleef het. Daar is dus geen gebrek aan beleggersvertroue in die land nie. Wat betref die Wêreldbank, is ons steeds die grootste ekonomie in Afrika. Ons ding kop-aan-kop mee teen ander lande om beleggings te lok.”

Nersa bevestig Eskom verbrand diesel

Teenstrydig met die minister se uitlatings, het die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) bevestig dat Eskom vinnig besig is om sy dieselbegroting vir die 2024/2025- finansiële jaar “teen ʼn kommerwekkende koers” uit te put. Dit kom ook ná herhaaldelike ontkennings deur die Eskom-raadsvoorsitter Mteto Nyati en die minister van elektrisiteit Kgosientsho Ramokgopa dat Eskom diesel verbrand om die ligte aan te hou. Klik hier om meer te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Bolandse Nooi ·

Ja, “beleggings” vloei steeds die land in – CHINESE “beleggers” en diegene uit Pakistan!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.