Minister ontken interdik teen Eskom se groenkragplanne

Argieffoto (Foto: baptisteh, Pixabay)

Die vakbond Numsa het gesê hy het ʼn dringende hofinterdik bekom om Eskom te verhoed om kontrakte met 27 onafhanklike kragprodusente te sluit, maar Jeff Radebe, minister van energie, het ontken dat só interdik uitgereik is.

Radebe, wat die ooreenkomste namens die regering sou onderteken, het gesê die hooggeregshof het bloot die saak tot 27 Maart uitgestel en dat hy vrywillig ook die ondertekening tot dan uitgestel het.

Maroela Media het vroeër berig Numsa en Transform SA het hulle Maandagaand inderhaas tot die hof gewend om ʼn stokkie voor die nasionale kragvoorsiener se planne te steek. Numsa meen die kontrakte beteken Eskom sal minder steenkoolaangedrewe elektrisiteit benodig. Dit sal lei tot die sluiting van steenkoolkragstasies wat ʼn uitwerking op minstens 30 000 werkersklasfamilies sal hê wanneer werksgeleenthede gesny word, het Numsa gesê.
Die vakbond hou ook vol die kontrak sal die prys van elektrisiteit aansienlik verhoog omdat “onafhanklike kragprodusente meer kos as steenkoolaangedrewe elektrisiteit”.

Die uitstel van die ooreenkoms is ʼn terugslag vir onafhanklike vervaardigers wat sê Eskom het reeds voete gesleep om die ooreenkomste te onderteken.

Voorstanders vir groen energie sê sonkrag en windkrag op ʼn nasionale skaal kan die prys van elektrisiteit verlaag. “Hierdie verandering moet as ʼn groot geleentheid beskou word, eerder as ʼn bedreiging vir Numsa-lede,” het Dom Wills, uitvoerende hoof van die sonkragontwikkelaar Sola Future Energy, Dinsdag gesê. “Steenkoolgebaseerde bedrywighede verminder wêreldwyd, en hernubare kragopwekking neem toe. Meer as 70% van nuwe energiekonstruksie oor die volgende 20 jaar sal na verwagting groen energie wees.”

Wills het bygevoeg die jongste pryse van hernubare energie is ongeveer die helfte van die prys van tradisionele steenkoolkrag.

Die regering het gesê die ooreenkomste met die 27 onafhanklike kragvoorsieners kan effektief tot R56 miljard se beleggings lei oor die volgende twee tot drie jaar en meer as 61 000 poste skep.

Eskom verskaf ongeveer 95% van Suid-Afrika se elektrisiteit, hoofsaaklik by steenkoolkragstasies.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

9 Kommentare

Antjie ·

Ek verstaan nie mooi nie: Hoe kan die hof ʼn besluit neem wat duidelik nie in openbare belang is nie. Die minister en regter moet besluit of 30 000 steenkoolwerkers moet aanhou om ʼn bedryf in stand te hou wat hul kinders se toekoms bedreig, en ook te swak is om vir die meer as 50 miljoen ander Suid-Afrikaners voldoende krag te voorsien. In my nederige opinie is die besluit voor die hand liggend!

SjN ·

Antjie, jy redeneer reg, maar ek dink dit is n groter terugslag vir Z se seun aangesien hy n vinger in die pie het.

Oom Piet ·

Hoeveel GWh net IPP-P krag was laasjaar aan Eskom gelewer/verkoop, teen watter minimale fraksie % was bostaande antwoorde elk van Eskom se totale krag opwekking en verkope laasjaar? Piepklein % en dus ook piepklein impak op Eskom se prys vastellings deur NERSA.
Verder, soos elke projek se private befonders die voltooide werke uitbetaal kan en hoort NERSA net die tot dusver opgehoopte uitbetalings met rente versprei oor 300 maande/25 jaar verb and periode terugbetaal, befonds deur gelykstaande verhaling deur Piepklein fraksie verhoging van Eskom tariewe vanaf alle verbruikers. Ditto bedryfs en onderhouds kostes, wat na volle terugbetaling van die befondsing verband behoort te staak/moet wegval.

Boerseun ·

Eintlik is dit nie net 30000 nie dit is heelwat meer as bestuur en tegnisie in Ag geneem word. Dan onder hou die 30 000 minstens 7 mense op gemiddeld wat beteken dit beinvloed 210 000 mense waarvan die meerderheid kinders is. steenkool gaan nog n ruk bly, medupi is nog nie eers klaar nie. Eskom is bankrot so hoekom gaan hulle hulle inkomste deel met ander. Nie so voor die handliggend

Vraagteken ·

Ek stem 100% saam met jou – Eskom sal nie hierdie kontrak teken nie want hulle gaan net inkomste verloor.

Maar Eskom is bankrot weens swak bestuur en een van die redes is omdat hulle te veel werknemers het. In 2003 was hul kapasiteit ongeveer dieselfde as vandag (met ‘n 10% variansie), maar hul werknemers het verdubbel en die gemiddelde salaris het ook verdubbel (indien nie meer nie) sedert dien. Vir hulle hulle om te oorleef sal hulle defnitief van die werknemers moet laat gaan. Ongelukkig sal daar baie meer as net 210 000 beinvloed word.

Dit is wat gebeur as jou ekonomie met tyd verswak – mense word te afhanklik op ‘n infrastruktuur wat 30-50 jaar gelede gebou is (ongelukkig is die mensdom baie kortsugtig). En dan word Helen Zille afgedank as sy dit sê.

Rupert Ashford ·

Ek sal graag die syfers wil sien waarop Mnr Wills sy aanspraak van “elektrisiteit teen helfte die prys van steenkoolkrag” baseer. Nerens in die wereld het sg hernubare elektrisiteit nog ooit teen ‘n koste laer as steenkoolopgewekte elektrisiteit in die mark ingekom nie. Die markte is wereldwyd kunsmatig die hoogte ingeskiet om hernubares ekonomies lewensvatbaar te maak, en dan ook net met reuse subsidies. Die oomblik as die subsidies op enige plek in die wereld onttrek word, maak die stasies toe. So belastingbetalers moet inderwaarheid twee keer vir hulle elektrisiteit betaal (eerste keer subsidie [belastinggeld] en dan elektrisiteitsrekening) en dan is die hernubares nie eers betroubaar nie en moet nogsteeds gerugsteun word deur steenkool vir wanneer die son nie skyn nie of die wind nie waai nie…of te sterk waai. En dan het ons nog nie gepraat oor die myn van grondstowwe en vervaardiging van die sonpanele en windmeule nie, en ook nie oor wie die koste gaan dra vir die opruim en herwinning daarvan aan die einde van hulle lewensiklus nie – in Amerika en Europa is daar gevalle waar die eienaars die uitgediende goed net so laat staan en onttrek en dan moet belastingbetalers weer opdok. Die stowwe waarvan die sonpanele gemaak word is ook nie baie omgewingsvriendelik nie en sover ek weet is herwinning en vernietiging daarvan nog nie regtig opgelos nie. Wat is die groter prentjie en wie staan ‘n kans om groot te skep uit die belastingbetalers se agtersak?

Vraagteken ·

Antjie, dit nie so eenvoudig nie. Meerderheid van hierdie projekte is solar gebaseer – dit wil sê dat krag net in die dag deur hulle verskaf word. As jy na Suid Afrika se las vs. tyd van dag gaan kyk, dan sal jy vinnig sien dat ons baie krag tot ons beskikking het in die middel van die dag (ongeveer 30% is nog tot ons beskikbaar). Ongelukkig gaan hierdie projekte nie “voldoende” krag voorsien nie.

Pierre ·

Ek wonder of ons na die groter prentjie kan kyk deur iemand wat die prosesse verstaan. Ek volg hierdie gesprek redelik ernstig die afgelope tyd omdat daar beslis ‘n uitkoms is in hernubare krag. Die feit begin dat met steenkool sit ons reeds met ‘n enorme gemors weens afval en besoedeling. Krag is onmenslik duur en het dit ‘n uitwerking begin kry op Nywerhede en myne wat nie meer hierdie astronomiese kostes kan bybring nie. Dus begin van hierdie Industriee hulle deure sluit en is daar duisende mense wat hulle werk in die proses verloor. My gesonde verstand se dat hernubare energie baie goedkoper behoort te wees wat dit meer bekostigbaar behoort te maak vir almal. In die situasie behoort dit meer koste effektief te wees vir die Industrie, dit beteken dat baie nywerhede en myne wat onder druk was weer hulle deure sal kan oopmaak en dit dus tot werkskepping behoort te lei. Wat is dan die probleem, doodeenvoudig net dat die JZ kern ennergie program gaan sneuwel. Kom ons kyk na alle opsies en besluit dan op die beter een van die lot, ….

Vraagteken ·

Pierre, in die Suid Afrikaanse konteks is daar NIE ‘n uitkoms in hernubare krag nie (teensy jy reeds ‘n verbruiker is wat sy elektrisiteit rekening will verlaag of jy will onafhanklik word) – altans nog nie.

Gaan lees my vorige kommentaar; jy kan nie net ‘n ‘turbine’ (verskoon my engelse taalgebruik) sommer afsit nie. Die dryfas weeg omtrent 250 ton en hy vervorm onder sy eie gewig. Daardie kragstasie MOET elke dag loop. Tussen 08:00 en 16:00 gebruik SA nie al die elektrisiteit wat beskikbaar is nie. Ons moet eers al die krag van Eskom in die dag gebruik voordat ons na solar kan kyk. Dit will sê dat kostes vir ons soos volg gaan wees: Totale koste = Koste van kragstasie + Koste om elektrisiteit by jou IPP te koop.

As Suid Afrikaners moet ons eers ‘n aanvraag vir daardie elektriseit kry voordat ons na ‘n REIPP prosess kyk. Dit is wat gebeur as jy ‘n swak ekonomie het. Dit verbaas my dat Eskom dit’ ooit oorweeg.

Met betrekking tot besoedeling; Jammer, vir nou is dit hier om te bly.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.