Minister ontken klopjag by sy huis

Zweli Mkhize. Foto: Elmond Jiyane

Zweli Mkhize, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, het ontken dat die owerhede ʼn klopjag op sy huis uitgevoer het.

Mkhize het in ʼn verklaring ook ontken dat hy of enige van sy familielede verbind word aan die politieke moorde in KwaZulu-Natal.

Dit kom na mediaberigte dat die taakspan wat politieke moorde in die provinsie ondersoek ʼn klopjag op Mkhize se huis in Pietermaritzburg uitgevoer het.

Volgens Mkhize was polisiebeamptes van die taakspan op 28 September by sy huis maar, is hy deur ene kol. Tsikelele ingelig dat daar ʼn lukrake inspeksie gedoen is rakende die veiligheidswagte wat by die hek van sy huis gestasioneer is om te verseker dat hul vuurwapens geregistreer is.

“Kol. Tsikelele het my ook die versekering gegee dat dit nie nodig is om my huis binne te gaan nie. Hulle is deur die veiligheidsmaatskappy na my huis gebring nadat die veiligheidsmaatskappy hulle ingelig het dat van hul werknemers wat vuurwapens besit by my huis gestasioneer is.”

Mkhize het bevestig dat van die veiligheidswagte wat nie die nodige vuurwapenpermitte het nie in hegtenis geneem is, maar later vrygelaat is.

“Dit moet benadruk word dat die polisie nog nooit my of enige van my familielede met enige oortreding verbind het nie. Daar was nie ʼn klopjag of deursoeking van my huis nie behalwe vir die veiligheidswagte en hul wapens wat na ʼn polisiestasie geneem is vir prosessering.”

Volgens ʼn berig in The Witness was die operasie by Mkhize se huis deel van die taakspan se ondersoek na die politieke moorde in KwaZulu-Natal. Daar word verder beweer dat ʼn neef van Mkhize in hegtenis geneem is.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.