Minister ontken reddingsboei vir SAUK

Minister Ayanda Dlodlo. Foto: Siyabulela Duda/GCIS

Die minister van kommunikasie het berigte van ’n reddingsboei van tot R1 miljard vir die beleërde SAUK ontken.

Minister Ayanda Dlodlo het egter nie die moontlikheid dat ’n reddingsboei later nodig gaan wees uitgeskakel nie.

Volgens Dlodlo was die regering wel in gesprek met die openbare uitsaaier, maar is daar gefokus op finansiële kundigheid en kwessies soos menslike hulpbronne en arbeid.

Khanyisile Kweyama, voorsitter van die SAUK se interimraad, het vroeër dié week gesê die openbare uitsaaier is in ’n finansiële krisis en het ’n reddingsboei van “minstens” R1 miljard van die tesourie af nodig.

Dlodlo het egter gesê daar was nog geen gesprek oor ’n reddingsboei nie. “Indien die uitkoms van die ondersoeke wat tans aan die gang is egter ’n reddingsboei noodsaak, is dit ’n besluit wat geneem sal word.”

Volgens Dlodlo is geen van die interimraad se lede finansiële kenners nie en het die departement iemand in dié verband verskaf. Sy het gesê dit is vreemd dat die parlement nie daaraan gedink het om iemand met finansiële kennis in die raad aan te stel nie.

Die voorgestelde tussentydse raad vir die SAUK is verlede maand eenparig in die parlement goedgekeur. Die parlement se portefeuljekomitee oor kommunikasie het vyf name aanbeveel vir die tussentydse raad nadat die voormalige raad amptelik in die parlement ontbind is.

Die tussentydse raad is Krish Naidoo, ʼn voormalige SAUK-raadslid wat verlede jaar bedank het, Febe Potgieter-Gqubule, Suid-Afrika se ambassadeur by die Afrika-unie, Khanyisile Kweyama, voormalige uitvoerende hoof van Business Unity SA, Mathatha Tsedu, ʼn veteraanjoernalis en professor in mediastudie aan die Universiteit van die Witwatersrand en John Mattison, professor in mediastudie aan die Universiteit van Kaapstad.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

NOOIT ·

Hierdie mense erken nooit ‘n saak nie al sterf hulle tien dode

Elizabeth ·

Enigste manier hoe ons die vermorsing gaan stop is belasting weerhou!

Johann ·

Stiir die rekening vir Zuma en sy twee Zumaikies, die Hoor Nar Rooi Oog en Faith! Tussen hulle drie se vergrype behoort hulle nog genoeg kleingeld te hê om die SAUK en SAL en ESKOM en die.Poskantoor en SPOORNET te finansier? Veral met n biekie Gupta backup?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.