Minister oor vordering met bek-en-klouseer

Minister Thoko Didiza. (Foto: GCIS)

Die minister van landbou, Thoko Didiza, en top-amptenare van haar departement het breedvoerige besonderhede verskaf oor die huidige uitbraak van bek-en-klouseer in Suid-Afrika, en die prentjie lyk nie goed nie.

Ook wat ander dieresiektes soos varkgriep, voëlgriep en hondsdolheid betref gaan dit taai, hoewel die departement hoë ideale koester vir die bevegting van die siektes en, in die geval van hondsdolheid, die uitwissing daarvan.

Wat bek-en-klouseer betref is Suid-Afrika (nog altyd, ook nou) in drie gebiede ingedeel. Eerstens is daar die gebied wat die Krugerwildtuin en twee KwaZulu-Natalse wildtuine genaamd Ndumo en Tembe (teen die Mosambiekse grens) insluit, waar bek-en-klouseer endemies is onder buffels.

Tweedens is daar ʼn aanliggende beskermingstrook wat altyd fyn dopgehou word vir die siekte. Die res van die land is vry van bek-en-klouseer.

Bek-en-klouseer het op 7 Januarie vanjaar uitgebreek in die beskermingstrook in ʼn gebied omsluit deur die Klein Letabarivier en verskeie paaie, te wete die R81, die R36, die N1 en die R524.

Die departement het die geaffekteerde beeste (almal in kommunale gebiede) op 14 Januarie en weer op 25 Januarie behandel.

Die jongste uitbreking volg op ʼn uitbreking van bek-en-klouseer in September verlede jaar in die Mutale-gebied in Limpopo, aanliggend tot die Krugerwildtuin en suid van die Soutpansberg.

(Argieffoto)

Van veel meer kommerwekkende belang is die uitbreking van bek-en-klouseer, ook in September verlede jaar, in die Molemole-munisipaliteit wat setel in die dorp Dendron, tussen Polokwane en Vivo. Die kommerwekkende aspek is dat dit heeltemal buite die bek-en-klouseergebied lê.

Tot dusver is daar 16 plekke in Limpopo waarvan 11 buite die bek-en-klouseerbeskermingstrook val. In ʼn hoogs kommerwekkende wending is twee van die gebiede suid van Polokwane. Die verspreiding van die siekte so ver suid is weens beeste wat op veilings verkoop en dus vervoer is.

Dit is hoekom veilings tans landswyd verbied word. Nadat parlementslede soos Annette Steyn van die DA en Tammy Breedt van die VF Plus roerende verhale vertel het van die impak van die veilingverbod op boere het die minister onderneem om die heroorweging van die landswye aard van die verbod tydens volgende week se vergadering van die landbou-beleidskomitee te opper.

Die geaffekteerde plase is onder kwarantyn geplaas en verdere plaasbesoeke duur voort.

Op 19 Junie 2017 is die eerste uitbraak nóg van voëlgriep onder hoenders in Suid-Afrika aangeteken. Die siekte kom relatief gereeld onder volstruise voor.

Sedertdien is verskeie gevalle aangeteken in alle provinsies buiten Limpopo. Die siekte kan voorkom word deur te sorg dat pluimvee nie in kontak met wilde voëls kom nie en deur voëlhokke behoorlik skoon te hou.

Varkgriep kom sedert 1928 noord van Pretoria voor; onder vlakvarke en hoenderbosluise. In 2012 het dit die eerste keer suid van Pretoria voorgekom toe dit na Gauteng en Mpumalanga versprei het, maar later in bedwang gebring is. Sedert 2016 kom dit ook in die Vrystaat, Noordwes en die Noord-Kaap voor. In April verlede jaar was daar ʼn ernstige uitbreking in die Zeerust-distrik, en in November verlede jaar naby Standerton.

Varkgriep versprei deur vendusies, en alle varkvendusies is gevolglik verbied.

Een van die grootste uitdagings is dat die getal arm landelike Suid-Afrikaanse gesinne wat een tot vyf varke besit, die afgelope vyf jaar toegeneem het van 112 000 tot 210 000, juis omdat varke is ʼn maklik versorgbare proteïenbron is.

ʼn Vark sorg bedags vir sy eie kos en eet letterlik enigiets en alles – en word dan siek. Die oplossing is om varke op hok te hou en te voer, maar baie mense kan dit glad nie bekostig nie.

Hondsdolheid kom oral in die land voor, veral in KwaZulu-Natal. Verlede jaar is tien Suid-Afrikaners aan hondsdolheid dood. Nietemin beplan die departement om hondsdolheid binne tien jaar uit te wis. Hoe, het die departement nie gesê nie, maar ʼn plan is op pad.

Enigiemand wat met ʼn vermoedelik hondsdol dier kontak gehad het moet onverwyld behandel word en nie wag tot hulle simptome toon nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Reinet

Bek en klouseer was laasjaar die eerste keer in Limpopo opgemerk. Dieremense is ook bekommerd oor Afrikaanse varkpes, nie vark griep nie. Mense is bekommerd oor vark griep, een van die goggas uit die ooste wat mense siek maak.

DD

Dis nie Varkgriep nie. Dit is Varkpes.
Varkgriep is ‘n influenza virus. Varkpes (African swine fever) is ‘n Asfivirus.
Dis twee helemal verskillende entiteite.

Kobus

“Die departement het die geaffekteerde beeste (almal in kommunale gebiede) op 14 Januarie en weer op 25 Februarie behandel.”
Ek weet nie of ek verkeerd lees nie, maar dit is vandag eers die 5de Februarie. Daar word geen jaar genoem nie.

Frederik

Ai ek wonder darem??? As die klomp regerings amptenare (narre) nie eers die vee siektes kan hokslaan nie. Wat gaan gebeur as Corona hier in Suid Afrika aanland??? Vra maar net??

Dirk

Die minister sê “… aanliggende beskermingstrook wat altyd fyn dopgehou word”. Jammer, dis ‘n twakstorie. Die omheinings is nie eers meer daar nie, dis gesteel. Langs die Kruger Wildtuin is die heinings in die Prorection Zone jare lank terug al weg. Ons het foto’s in KwaZulu-Natal teen die Mosambiek grens, daar is nie meer hekke en drade nie in die beskermingstrook nie, en daar is geen beamptes aan diens nie. Diere kan vrylik in en uit beweeg. Daar is absoluut geen beheer nie. Zero. Niks nie. Beeste word ingevoer vanuit Botswana. Ons het foto’s. Jy sal bek-en-klouseer net so min… Lees meer »