Minister, polisiehoof wag vir hofbesluit oor Zuma

Oudpres. Jacob Zuma tydens die naweek se byeenkoms by sy huis by Nkandla. (Foto: Emmanuel Croset/AFP)

Die minister van polisie, Bheki Cele, en die nasionale polisiehoof, genl. Khehla Sitole, gaan “uit respek vir die ontwikkelende regsprosesse” enige optrede om oudpres. Jacob Zuma in hegtenis te neem, staak tot sy aansoeke daaroor afgehandel is, of tot ʼn direkte opdrag van die waarnemende hoofregter daaroor gegee word.

Oudpres. Jacob Zuma, wie se aansoek om sy inhegtenisneming tersyde te laat stel Dinsdagoggend in die Pietermaritzburgse hooggeregshof aangehoor word, is vroeër skuldig bevind aan minagting van die hof en tronkstraf van 15 maande opgelê.

Die land se hoogste hof het Zuma Woensdag die vonnis opgelê en beveel dat hy binne vyf dae aanmeld om sy vonnis te begin uitdien. Sou hy versuim om dit te doen, het die hof gelas dat die polisie die oudpresident binne drie dae in hegtenis moet neem.

Zuma het daarna die aansoek by die hooggeregshof ingedien.

Met dié aansoek vra hy die hof om sy inhegtenisneming op te skort tot die Konstitusionele Hof, wat die oorspronklike vonnis opgelê het, uitspraak lewer oor sy aansoek om die besluit te herroep. Dié aansoek word volgende week aangehoor.

ʼn Brief van die staatsprokureur namens Cele en Sitole aan die waarnemende hoofregter – in hierdie stadium Raymond Zondo – lui dat die twee aan die Konstitusionele Hof se besluit hieroor sal gehoor gee.

“Dit is ons kliënte se mening dat die hangende regstappe ʼn direkte uitwerking het op die stappe wat hulle behoort te neem in terme van die hofbevel op die grondslag dat die bevel nou die onderwerp van regstappe in albei howe geword het.

“Ons kliënte is ten volle bewus dat die stappe wat mnr. Zuma gedoen het nie gekategoriseer kan word as ʼn appèlproses wat gewoonlik ʼn uitwerking op die opskort op die uitvoering van ʼn hofbevel sou gehad het nie.”

Die brief lui voorts dat Cele en Sitole weens die “unieke situasie” nou enige verdere optrede gaan staak tot die sake afgehandel is.

Zuma voer onder meer aan dat sy vonnis van tronkstraf neerkom op sogenaamde aanhouding sonder verhoor. Die 79-jarige president meen ook dat die vonnis weens sy ouderdom en gesondheid ʼn doodsvonnis vir hom sal wees.

Zuma het sy ondersteuners en die media die afgelope naweek by Nkandla toegespreek. Hy – en honderde van die ondersteuners – is te midde van die derde vlaag van die Covid-19-pandemie telkens sonder gesigmaskers opgemerk. Die oudpresident het die naweek gesê hy het nog nie die entstof teen Covid-19 ontvang nie, hoewel hy al geruime tyd daarvoor kwalifiseer.

Mzwanele Manyi, Zuma se woordvoerder, het vir die oudpresident in die bresse getree en gesê Zuma dra dalk nie ʼn masker nie weens ʼn “mediese rede” wat moontlik “vertroulik” kan wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

38 Kommentare

koos10 ·

Spuit hom in en sluit hom toe.
Hierdie stap van Zuma gaan ‘n regspresident skep wat nooit ooit weer omgekeer kan word nie!

Boer ·

Die polisie gaan nie vir my wag totdat die hof moet besluit nie, hulle sal my semuur toesluit.

Roebs ·

Van wanneer af wag die polisie om iemand toe te sluit hy het die landswette gebreek tronk toe

Kobus ·

Ek het verstaan die Grondwetlike Hof is die hoogste gesag maar nou blyk dit anders te wees. Die regters het 3 maande geneem om ‘n eenvoudige oortreding nl Verontagsaming van ‘n hofbevel af te handel.Hulle gee Zuma 5 dae tyd om aan te meld waarna 3 dae bykom vir SAP om hom te arresteer.Nou gee hulle ook nog toe om weer sy saak aan te hoor.Intussen maak hy ‘n gek van almal. Hy beweer hy is sieklik,kanddaat vir Covid en ‘n ou man. O ja,sy regspan was swak. Hy loop saam met sy impi’s sonder masker, glimlag van oor tot oor.Gaan die oortredings as ‘n oortreding deur Cele hanteer word? Hy stap nogal flink vir ‘n “sieklike ou man” en toy toy nog ‘n hond uit ‘n bos uit. Ek hou nie my asem op nie,ons regstelsel sal vandag moet bewys of hulle geloofwaardig is.Ek hou nie my asem op nie

Elinette ·

Hulle is bang vir die Zulu’s. Punt, einde van die saak.

Anoniem ·

Lagwekkend. Hul wil maar net bewys dat hul in beheer is en dat wet en orde glad nie meer in ons land bestaan nie.
Wel, as Zuma dan op vrye voet is hoekom nog enigsins ‘n Regsstelsel in ons land finansier as daardie fondse dan nuttig vir Tersiere Onderrig aangewend kan word om die beste kriminele op te lewer. Dan het ons mos nie meer ‘n Regsstelsel nodig nie.

Keith ·

Let the world know that it is Official :- the ANC and Police have hijacked the Judiciary. The ANC is now the Law of the Country.

Androclus ·

Vandag gaan hy tronk toe,sy pad is klaar geteer tronk toe nie op rooi matte nie.

Androclus ·

Niks van ouderdom nie hy was jonk toe hy so skelm gewees het,as hy vandag nie tronk toe nie is hulle almal kaders voëls met eenderse vere.

Androclus ·

Hy is bang vir 15 maande wat van daardie vrag sake wat nog wag,as hy vandag weg kom dan kan hulle maar daardie ander klomp sake van hom van die rol skrap.

Nie Verbaas ·

“Mzwanele Manyi, Zuma se woordvoerder, het vir die oudpresident in die bresse getree en gesê Zuma dra dalk nie ʼn masker nie weens ʼn “mediese rede” wat moontlik “vertroulik” kan wees.” Dink hy ons is onnosel? Of is dit nou ewe skielik n nuwe siekte? Dan kan ons dieselfde aanvoer aangesien dit as “vertroulik” bestempel kan word. Hou op speletjies speel, ons is nie onnosel nie!

koos10 ·

Ek het ook ‘n mediese rede. Ek is siek en sat vir die maskers.

Anel ·

Dan hoy ek ook summier ol om masker te dra. Spandeer 100de rande ‘n maand aan sinusmedikasie agv die masker. Ek is nie skaam om dit te sê nie. Wat is sy verskoning?

Elize ·

Mzwanele Manyi, Zuma se woordvoerder, het vir die oudpresident in die bresse getree en gesê Zuma dra dalk nie ʼn masker nie weens ʼn “mediese rede” wat moontlik “vertroulik” kan wees. Wat ‘n spul leuens!!!! Uitgeslape ou Jakkals.

Chef ·

‘Respek vir die ontwikkelende regsprosesse’ moet verstaan word as absolute miskenning van die regsprosesse wat alreeds plaasgevind het en ‘n duidelike bevestiging dat die SAP en die regstelsel deel van die Staatskapings verhore moet uitmaak. Indien die die SAP enigsins erns maak van die mandaat ‘Handhawing van wet en orde’ en daarmee saam ‘ Die beskerming van lewe en eiendom’ sou hierdie situasie nooit ontstaan het nie. Zuma moet gearresteer word en vanuit ‘n tronksel enige moontlike verdere regsopsies – wat nie alreeds uitgeput is nie – in werking probeer stel.

Die skade aangerig aan die oorblywende geloofwaardigheid van die SA regstelsel, is onmeetbaar.
Wat ‘n TRAGEDIE!!

Persheks Adri ·

Cele is ook maar lekker bang! Gewone burger teenoor ANC kaders is dubbele standaarde! Julle moes hom gevat het en nie 5 dae gegee het nie, maar wat weet ons tog nou?

Blikkies ·

Watse klomp Loutere Onsin……..Dink hulle ons is Dom en Stupid.

Maggies ·

Ek sou hierop sê… Ja, hulle dink ons is dom. Ons almal se intelligensie word onderskat want hulle weet ons hande is afgekap.

Werner ·

Na hierdie episode weet ons Zuma is die hoogste gesag in die land

Elinette ·

Dis juis hoekom hy met alles wegkom. Hy het diegene “in beheer” aan die kortetjies beet – hy weet dit en hulle weet dit ook. As Zuma val, val daar baie ander saam met hom.

RS ·

Glibberige slange bly altyd alle pogings om gevang te word te wen.

Belinda ·

Watch, sy maatjies sal sorg dat hy nie in die tjoekie gaan sit nie….

Eragrostis ·

Dis nou dieselfde polisiemag wat in Augustus 2019 deur onwettige, ongewapende immigrante uit die middestad van Johannesburg verjaag is. As dit is wat die SAPD uit Marikana geleer het, maak die naweek se optrede by Nkandla absoluut sin.

Anoniem ·

Bekkie. Sy lasbrief vir inhegtenisneming is nie terug getrek nie. Doen jou werk! Jy is ook skuldig aan minagting van die hof!!

annie ·

Cele en Zuma was aanvanklik vriende totdat hul verhouding versuur het. Hoekom het CR hom weer aangestel welwetende dat dit later problematies kan word? Zuma het Cele destyds skynbaar, soos almal onder hom, aangestel sodat hy hulle kan gebruik… selfs vir Cyril. Destyds was die Pietermaritzburg-hof se tjoklit-Shaik-partytjie/-sitting Zuma glo nogal baie goedgesind. Die regter het na bewering glo skynbaar baie vriendelik voorgekom toe hy die hofsaal verlaat, so word beweer. Kyk self weer na die video. Zuma hoop dieselfde soete gees gedy.

Suzette ·

DAAR WAS REEDS ‘N BESLUIT!!! DUHHHH!! Julle is net te slapgat om die wet toe te pas.

Pietertjie ·

En daar gaan ook dadels van kom. Oom Jakob moet nog net ‘n paar jaar aan Stalingrad vasklou…

ES ·

Cele verontagsaam die hof se bevel – hulle kan hom ook maar arresteer en 15 maande tronkstraf gee – die beste sou natuurlik wees as hy geskors wor uit sy amp, want hy was van die begin af onbevoeg.

Hennie ·

” Zuma dra dalk nie ʼn masker nie weens ʼn “mediese rede” wat moontlik “vertroulik” kan wees.” …………… hier begin sy “Shabir Shaik” moves ………………………. !!!

Jakes ·

Agbare minister, wat maak Zuma se situasie dan so uniek? Hy maak n bespotting van ons regstelsel wat voorkom asof die regbank geen tande het nie. Dit blyk ook dat die ANC soos n kat op n warm sinkplaat rondspring want as Zuma alles op die lappe bring kan dit die ANC berou.

Kokkie ·

Dat Zuma nie ‘n masker dra nie vanweë mediese redes is nou regtig een van die heel swakste redes wat ek nog in my lewe gehoor het. Die pers moet dit onder die vergrootglas plaas. Inden dit inderdaad so is, moet die pers dit ook wyd bekend maak sodat alle mense met daardie ‘kwaal’ hulle maskertjies kan weggooi. Lieg lieg lieg kom so maklik vir die ANC soos om jou oog te knip.

Aikie ·

Vrind Zuma het nie hooge kwalifikasies nie. Vrind Zuma kan ook nie groot nommers uitspreek nie, maar hy kan ‘n hele land aan sy neus rondlei. Net waar hy hom wil hê. Almal is gelyk aan mekaar in die oë van die gereg, maar daar is’ n paar wat baie meer gelyk is as ons ander. Laat Zuma sy vertoeë vanuit sy tronksel voortsit. Die doel van die straf was vir minagting en vir geen ander rede nie. Wanneer hy daar uitkom kan hy sy vertoeë vir ander redes verskerp.

absoluutgatvol ·

Schuster kan al hierdie gebruik in ‘n nuwe fliek, want dis een groot grap…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.