Minister probeer Ramaphosa-vliegkostes wegsteek

(Argieffoto: Christophe Ena/AP)

Die minister van verdediging, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, weier om die kostes te verskaf van die huurvlug om pres. Cyril Ramaphosa en sy geselskap na Japan te vervoer vir die eindstryd van die Rugbywêreldbeker verlede jaar, waartydens die Springbokke Engeland afgeransel het.

Nou wil die DA-LP Kobus Marais haar dwing om dit te doen kragtens die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) wat administratiefregtelik toegang deur belastingbetalers waarborg tot inligting oor onkostes aangegaan met belastingbetalersgeld en oor dienste gelewer deur die regering.

Mapisa-Nqakula het ‘n ou jakkalsdraai van die ANC-regering uitgehaal om verantwoordbaarheid te ontduik toe sy in antwoord op ‘n parlementêre vraag van Marais gesê het om nasionale sekuriteitsredes en veiligheidsredes kan die koste van die vlug nie bekend gemaak word nie.

Die departement van staatsekerheid, wat vir die land se spioene verantwoordelik is en miljarde van die belastingbetaler ontvang, weier om dieselfde rede om ooit enige vrae te antwoord. Alleen maar deur lekkasies aan die media kom hul skelmstreke soms aan die lig.

Marais het gesê Mapisa-Nqakula se antwoord is sommer onsin. Niemand se veiligheid word in gedrang gebring deur die bekend maak van ‘n bedrag nie – sommiges se spandabelrigheid dalk wel. Die regering se kommer lê nie by nasionale sekuriteit nie, maar by die verleentheid as die bevolking agterkom hoeveel van hul geld gemors is.

Hy gaan dit dus nie daar laat nie, en gaan PAIA gebruik om haar te dwing om die inligting bekend te maak, sodat belastingbetalers kan weet wat met hul geld gebeur het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

A Mac ·

Nou wat het die kostes van ‘n vlug op belastingbetalers se geld te doen met spioenasie, sekuriteits- en veiligheidsredes? Net nog ‘n plek waar die rojale baljare met belastinggeld oopgevlek is.

John ·

Not to worry, Eskom huil weer in hof sy kole nat oordat hy nie sonder die weelde van nog hoèr kragtariewe skrikkeljaar vanjaar sal kan vier nie. Uithaal en wys boeties of julle braai elke aand in die donker vir mammie en kroos.

Bull ·

Ons moet net een ding onthou…..
Niemand het geweet dat ons in Wereldbeker eindstryd gaan wees nie.
Daar is op laaste oomblike besluit dat hy na Japan gaan vlieg. En dan is die kostes baie hoër was gewoonlik.

Ray ·

O ja dis waar. Soos R 150 000.00 per begrafnis vir servette. Klink meer soos die koste vir “Tote” sakke om die kos weg te dra

Johan Venter ·

Ek verkyk my altyd aan die arms wat so gelig is met die beker bo die kop.

Bolla ·

En so word ons belasting geld gemors. Geen wonder daar word so lekker gelag. Is n skande hoe geld gemors word. En nog meer mense sonder werk sit. En ons president karjakker rond. Lyk asof dit hom nie pla.

Johan Venter ·

En ons dag Staatskaping is iets van die verlede, plaas dat Cyril haar reghelp, maar nou bly hy tjoepstil, te bly iemand anders vat die hou. Ons kan maar net nie aanbeweeg met die ANC kaders se ingesteldheid nie.

Johan Venter ·

Een tree vorentoe, tien tree terug, geen wonder ons kan nie uit ‘n negatiewe sone beweeg nie!

EO ·

Johan Venter, wat bedoel jy met jy verkyk jou altyd aan die arms wat so gelig is met die beker bo die kop?

Johan Venter ·

EO, hehehehe…. ek moes gesê het, ‘met die goueware bo die kop gelig’.

Arrie ·

Die Pinotage-mafia het hom seker geborg…enige iets vir hul groot held.

Frik ·

Die koste vir Ramaphosa en sy geselskap was seker so R6 miljoen, huurvlug ingesluit.

Christo ·

Hy kon dit maar gerus self betaal het……..hy kan dit lag-lag bekostig.
Maar…… die soustrein ry seker te lekker.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.