Minister ‘salueer’ vlieënier wat in ongeluk sterf

Justin van As (49). (Foto: Verskaf)

“In ʼn tyd van groot smart vir die familie van Justin van As, asook vir die brandbestrydingsgemeenskap, salueer ek Justin se dapperheid en toewyding aan sy werk.”

Só het die minister van bosbou, visserye en omgewingsake, Barbara Creecy, Vrydag gesê ná die dood van Justin van As (49), ʼn vlieënier van Kishugu Aviation wat Woensdagmiddag in ʼn vliegongeluk tydens ʼn brandbestrydingsoperasie naby Ngodwana in Mpumalanga dood is.

“Ek wil hulde bring en respek betoon aan ʼn ware brandbestrydingsheld wat ewig verbind was tot die red van lewens en die beskerming van ons omgewing,” sê die minister.

Maroela Media het vroeër berig die Air Tractor 802-vastevlerkvliegtuig het by die Nelspruit-lughawe opgestyg vir ʼn lugbrandbestrydingsoperasie by ʼn Sappi-plantasie. Van As het egter nooit teruggekeer nie.

Volgens die minister is Van As op Klerksdorp gebore en het hy in Mei 2019 as vlieënier by Kishugu Aviation aangesluit. Hy was ʼn ywerige leser, veral oor geskiedkundige gebeure, was mal oor navorsing en om te filosofeer oor dít wat hy gelees het.

Hy laat sy vrou, Amelia, en 18-jarige seun agter.

Justin van As (Foto: Lizelle Joubert/Facebook)

Die oorsaak van die ongeluk is in hierdie stadium nog onbekend, maar die Burgerlugvaartowerheid (BLO) het reeds met ʼn omvattende ondersoek begin.

“Die veiligheid van ons vlieëniers en grondbemanningslede bly ʼn topprioriteit en Kishugu Aviation sal saam met die BLO werk om die oorsaak van die ongeluk te bepaal,” sê Creecy.

Kishugu Aviation vorm deel van die departement se Working on Fire-inisiatief en lewer lugbrandbestrydingsdienste, lugsteun en vlieëniers aan die program.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Goldy ·

Dankie aan die minister dat sy hulde aan hierdie held bring sonder enige politieke bybedoelinge.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.