Minister sê dan oor De Kock se parool

Eugene de Kock saam met familielede van een van sy slagoffers, Glenack Mama in Oktober 2014 (Foto uit eNuus-video)

Eugene de Kock saam met familielede van een van sy slagoffers, Glenack Mama in Oktober 2014 (Foto uit eNuus-video)

Michael Masutha, minister van justisie en korrektiewe dienste, het gesê hy sal ʼn aanbeveling deur die paroolraad in verband met Eugene de Kock se paroolaansoek, oorweeg.

“[Die paroolraad se] aanbeveling sal nie openbaar gemaak word nie,” het Mthunzi Mhaga, Masutha se woordvoerder, gesê. Volgens hom sal die minister binnekort die paroolraad se aanbeveling ontvang. “Die minister sal dan op 31 Januarie ʼn aankondiging maak.”

De Kock se regspan en die minister het in November ʼn ooreenkoms in die hooggeregshof in Pretoria aangegaan waarvolgens die paroolraad tot 19 Desember tyd het om ʼn aanbeveling te maak.

Regter Letty Molopa-Sethosa het die ooreenkoms ʼn bevel van die hof gemaak. Daar is ook ʼn soortgelyke ooreenkoms bereik vir die apartheidsmisdadiger Ferdi Barnard. Hy is in 1999 tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moord op David Webster.

Die nasionale raad vir korrektiewe dienste het, soos in die geval met De Kock, tot 19 Desember tyd om ʼn aanbeveling te maak of Barnard op parool vrygelaat moet word. Minister Masutha moet ook teen 31 Januarie in die verband ʼn besluit neem.

Klik hier vir vorige berigte oor Eugene de Kock.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.