Minister sê jammer aan swart huurderboer oor grond

Minister Thoko Didiza.

Die DA het die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming se aankondiging dat hy nie gaan appelleer in die David Rakgase-saak nie, verwelkom.

Geregtigheid het uiteindelik in die Rakgase-saak geskied en die DA vertrou dat Rakgase sal voortgaan om sy land suksesvol te bewerk sodat hy ’n trotse nalatenskap vir sy toekomstige geslagte kan laat, het Annette Steyn, die DA se skaduminister vir landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, gesê.

Minister Thoko Didiza het tydens ʼn konferensie in Bloemfontein aan Food For Mzansi gesê die departement moet eintlik om verskoning vra aan Rakgase aangesien die kwessie eintlik lank terug reeds opgelos moes word.

Die omstredenheid hou verband met ʼn plaas van net meer as 3 000 ha, waarop Rakgase (78) al dekades lank boer. Hy huur die grond by die staat en sukkel al jare lank om dit te koop.

Die Pretoriase hooggeregshof het verlede maand ʼn besluit van die adjunk-direkteur-generaal van die departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming om die verkoop van die plaas af te keur, tersyde gestel. Die hof het beveel die regering moet die plaas binne 30 dae aan Rakgase verkoop volgens die bepalings en voorwaardes en die bedrag wat van toepassing sou wees as die plaas in 2003 aan hom verkoop sou gewees het.

Die departement het in 2003 al Rakgase se aanbod om die plaas te koop aanvaar ná die departement hom die opsie gegee het om die plaas te koop as ʼn begunstigde van die Grond en Herverspreiding vir Landbou-ontwikkelingsprogram (GHLOP) wat intussen opgeskort is. Dié program moes voorheen benadeelde burgers help om grond en landbouwerktuie spesifiek vir landboudoeleindes aan te skaf.

Rakgase het die hof genader nadat dit aan die lig gekom het dat die regering nie die grond sal verkoop nie en eerder vir hom ʼn verdere 30-jaar-huurooreenkoms aangebied het.

“Die DA is lankal van mening dat die ANC-regering nie die reg van swart Suid-Afrikaners om grond te besit, steun nie. In werklikheid poog hulle eerder om opkomende swart boere as lewenslange huurderboere onder hul beheer te hou,” het Steyn gesê.

Die DA het ’n beroep op meer boere gedoen om na vore te kom en die party te kontak om hulle te help om grondeienaars te word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Joesi ·

Jaaaa lekker, julle het gedink dis n wit boer, nou dat hy die regte velkleur is, kry hy sommer n jammer ook.

Sanna ·

Mens het maar net meer trots en lewensversekering as mens kan vertel ek het dit gekoop, dit is myne. Welgedaan mnr Rakgase!!

AndrewL ·

Dis seker waarom onteiening sonder vergoeding so gedruk word, om alles te beheer en vernietig. Welgedaan aan dié boer!

Loun ·

Van n boer aan n mede boer,
Baie geluk Mnr Rakgase, gaan en geniet jou boerdery en sterkte, mag jy geseën wees met dit wat jy aanpak en doen.
Jou deursettingsvermoë is vir my n inspirasie.

Heuningbeker ·

Ek dink dis omdat hy eerlik en hardwerkend en suksesvol was en die plaas nie in n “estina” wou laat verval het en die kaders nie kon skep dat hulle nie aan hom wou verkoop nie. Naie geluk Mnr Rakgase!!

Heuningbeker ·

Ek dink dis omdat hy eerlik en hardwerkend en suksesvol was en die plaas nie in n “estina” wou laat verval het en die kaders nie kon skep dat hulle nie aan hom wou verkoop nie. Baie geluk Mnr Rakgase!!

se net ·

Daar is min swart boere wat n sukses maak van die grond wat vir hul gegee is en as daar wel een is wat suksesvol boer en nie net vat nie en wat sekerlik sy diere kos gee en strots is op wat hy doen, word hy deur die staat ingedoen. Hopelik word al die huurgelde ook terugbetaal aan die boer. Wat is n boer?????? Dit is as plant, dier en grond in jou bloed is. Dit is nie n velkleur nie.

SjN ·

Baie geluk, sal graag wil weet wat was die huur bedrag per hektaar per jaar asook die prys waarteen hy dit nou kan koop.

JR ·

Dit wys jou eerlikheid pluk vrugte af iets wat die ANC . EFF. en BLF moet aan leer

sweis ·

So gedink nico swak van jou en die rede hoekom die minderhede met soveel disrespek behandel word n joernalis moet ten alle tye die ware feite gee en ek weet jy gaan hierdie nie plaas maar jy moet ten minste die besluit maak of jy n regte goeie joernalis is of n pop marionet.

landofgrond ·

‘…om sy land suksesvol te verwerk’ – seker eerder sy grond …

Alida ·

Joesie haal asb jou kleurbril af. Ek skaam my vir my eie mense. Mnr Rakgase is n eerlike en hardwerkende boer en nie n sleg mens wat klippe gooi en bande brand om grond te kry nie. Hy wend die grond aan vir die regte redes. Kyk na die persoon nie sy kleur nie asb

Deloris ·

Seker eerste saak wat so vinnig aandag kry en uitgesorteer is….. Dit kan gedoen word. Maar nee

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.