Minister sê oor parool vir Janusz Walus

Die foto van Walus is in November 1997 geneem. Foto: AP Photo/Cobus Bodenstein, File

Janusz Walus, die Poolse immigrant wat die destydse SAKP-leier Chris Hani in April 1993 voor sy huis in Boksburg doodgeskiet het, is vandag nogmaals parool geweier.

Die Noord-Gautengse hooggeregshof het in Desember gelas dat die minister van justisie en korrektiewe dienste, Ronald Lamola, moet besluit of Walus op parool vrygelaat moet word al dan nie.

Walus het die hof genader nadat die voormalige minister, Michael Masutha, ook teen sy vrylating op parool besluit het. Walus het die hof gevra om Masutha se besluit om te keer en hom op parool vry te laat en hom na Pole, sy geboorteland, te deporteer. Walus se regspan voer aan dat Masutha se besluit om hom parool te weier onbillik en irrasioneel was.

Lamola het egter nou aangekondig dat hy Walus se aansoek om parool wat voor hom gedien het, verwerp. Volgens Lamola het hy die hofuitsprake in ag geneem asook Walus se omstandighede en terugvoer van die Hani-familie en die SAKP.

Lamola het daarop gewys dat Walus sover baie goeie gedrag in aanhouding getoon het en verskeie rehabilitasieprogramme ondergaan het. Daar is ook in ag geneem dat Walus ʼn eerste oortreder is en dat hy berou toon vir sy dade. Walus dien al 27 jaar lank tronkstraf uit.

Volgens Lamola het hy egter ook ander faktore in ag geneem soos die aard van die misdaad. “Dit blyk dat die politieke sluipmoord op Hani uitgevoer is met die doel om chaos in die land te bewerkstellig.

“Die misdaad het ten doel gehad en destyds die potensiaal gehad om ʼn burgeroorlog in die Republiek te bewerkstellig. Daar moet ook daarop gelet word dat Walus skuldig bevind is aan moord sonder dat daar bevind is dat daar versagtende omstandighede teenwoordig was.”

Lamola meen om parool aan Walus toe te staan sal die erns ontken wat die hof versoek het tydens vonnisoplegging. “Met hierdie uitgangspunt, en om die negatiewe en positiewe faktore te balanseer, word Walus se plasing op parool nie in die stadium goedgekeur nie.”

Walus en Clive Derby-Lewis is in 1993 die doodstraf opgelê vir die moord op Hani. Die vonnisse is later na lewenslange tronkstraf omgeskakel.

Derby-Lewis is in 2015 op mediese parool vrygelaat. Hy is in November 2016 dood.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

33 Kommentare

jongste oudste gewildste
Scalla

Dubbele standaarde!!!!

Jean

Hy sal in die tronk nog doodgan.

Belinda

Eintlik so vreemd, hy is dan nou al langer as lewenslank. Wens jul wil verkragters en moordenaars ook solank agter tralies hou, meeste kinder verkragters was reeds op parool uit vir vand ie wreedste misdade, mens kan net kopkrap….. Die man is ‘n Pool, stuur hom soontoe, dit is hul gemors, hy kos SA belasting betalers onnodige geld.

Jaco

In 1989 het kommunisme in Pole al begin verwater. Teen 1990 was dit weg/verby. Alhoewel walluz toe reeds in SA was, kon hy mos toe teruggekeer het Pole toe. In 1993, toe hy vir Hani vermoor het, was dit tog duidelik wie in SA sou oorvat. So waarom het hy dan so iets simpel gedoen? Terugkeer Pole toe sou veel beter gewees het. 3.5 miljoen wit mense in SA smag na buitelandse burgerskap waarmee hulle bloot SA kan verlaat, terwyl dié man wat dit reeds gehad het, sulke nonsens aangevang het.

Pampoen

Dit is lankal nie meer straf nie. Dit is weerwraak! Ek hoop dat die mense wat hom so benadeel ook eendag in iemand anders se oe moet kyk vir genade.