Minister sê oor probleme met myn by Ogies

Die Goedgevonden-myn. Foto: D.Gallop/Wikimedia Commons

Die minister van minerale hulpbronne, Gwede Mantashe, het besonderhede bekend gemaak oor wat die regering beplan om te doen oor die probleme wat die Goedgevonden-steenkoolmyn vir inwoners van Ogies veroorsaak.

Mantashe het geantwoord op ’n skriftelike parlementêre vraag van die DA-LP James Lorimer.

Volgens Mantashe toon die staat se inligting dat daar nie mynbou binne 300 m van enige woonhuise plaasvind nie.

Hy het wel gesê dat inspeksies van die staatsowerhede verskeie oortredings van wette en regulasies deur die myn aan die lig gebring het.

Dit volg op inspeksies deur amptenare van die departement, en het tot gevolg dat die staat nie sal help om die mynmaatskappye te verdedig in die klasaksie wat inwoners van Ogies rakende regulatoriese, omgewings- en gesondheidskwessies gebring het nie.

Volgens Mantashe sluit die myn se oortredings in dat hulle bepalings oor oordadige stof oortree het, dat hulle nie regulasies oor plofstof en ontploffings nagekom het nie, onvoldoende risikobestuur, onvoldoende veiligheidsmaatreëls, dat van die ondergrondse konstruksies nie deur die rotsingenieur goedgekeur is nie, dat werknemers nie genoegsaam medies getoets is nie, dat ongekwalifiseerde personeel aangestel is en dat arbeidsregulasies oortree is.

Volgens Mantashe is die opdrag gegee om dringend stappe te doen en aan die nodige gesondheid- en veiligheidsregulasies te voldoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hendrik UAE ·

Nou hoe nou?Gewoonlik kan hulle nie gou genoeg die myn stop totdat alle afwykings aangaande veiligheid aangespreek is nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.