Minister sê wetstoepassers se optrede was ‘barbaars’ en ‘wreed’

Lindiwe Sisulu (Foto: Chantall Presence/ANA)

Lindiwe Sisulu, die minister van menslike nedersettings, water en sanitasie, het haar misnoeë uitgespreek oor die “viktimisering en mishandeling” van inwoners van Empolweni in Khayelitsha deur wetstoepassingsbeamptes van die Kaapstadse metro.

Dit volg na ʼn video wyd versprei is wat glo wys hoe wetstoepassingsbeamptes van die Kaapstadse metro ʼn man kaal uit ʼn plakkershut gedwing en hardhandig hanteer het.

Volgens Sisulu is dit onaanvaarbaar om ʼn inwoner, wat veg vir sy basiese reg tot skuiling, só te verneder.

Die grond waarop die man se hut was, behoort aan die Kaapstadse metroraad. Die metroraad het al verskeie kere probeer om onwettige besetting op dié grond te voorkom. Die grond is geoormerk vir die installering van dienste om die groter gemeenskap te dien. Onwettige strukture is al voorheen hier verwyder, maar daar is daagliks nuwe grondbesettingspogings.

Yonela Diko, ʼn woordvoerder van Sisulu se departement, het gesê toe die Stad Kaapstad die eerste keer probeer het om hierdie inwoners van die grond te verwyder, het die minister ingegryp en die inwoners se hofproses gesteun. Hulle het die rede waarom die inwoners uitgesit moet word, bevraagteken. Na die inwoners die hofsaak gewen het, is die Stad opdrag gegee om alle materiaal van die inwoners wat hulle gekonfiskeer het, terug te besorg en die inwoners toe te laat om tydelik op die grond te bly.

Diko sê Sisulu het intussen die agentskap vir behuisingsontwikkeling (HDA) versoek om permanente strukture vir die 49 families op te rig.

Volgens Diko moet ʼn hofbevel bekom word voordat enige inwoner uitgesit mag word. “Indien die Stad mense uitgesit het, was dit sonder enige toestemming van die hof,” beweer Diko.

(Foto: Skermskoot uit video)

Maroela Media het Donderdagoggend berig vier wetstoepassingsbeamptes gaan geskors word hangende ʼn ondersoek na die voorval.

In die video, wat wyd op sosiale media versprei is, bars beamptes en ʼn kaal man skielik by die deur van ʼn plakkershut uit. Dit lyk of die nakende man hom probeer teësit om terug in die plakkershut in te gaan en hy val in die proses op die grond. Die beamptes keer hom, waarna begin word om die plakkershut af te breek.

Die man was glo besig om te bad toe hy uit die plakkershut verwyder is sodat dit afgebreek kon word.

“Dié gedrag van die wetstoepassers is onmenslik en word nie toegelaat nie. Die persoon se waardigheid is geskend,” het Sisulu gesê.

Sisulu het ʼn beroep op die Wes-Kaapse regering gedoen om so gou as moontlik agter die kap van die byl te kom en die skuldiges verantwoordelik vir hul dade te hou.

DA-leier, John Steenhuisen, het in ’n Twitter-inskrywing die Stad se vinnige optrede teen die vier wetstoepassers verwelkom. “Ons woon in ʼn demokratiese staat en nie ʼn militêre staat nie. Ons moet die wet en Handves van Menseregte ten alle tye bevorder en wreedheid verwerp,” het Steenhuisen gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

JohanR ·

Ja ou kopdoek, ekskuus ou pruik, sal nou soveel “mileage” as moontlik uit die storie wil kry omdat dit in die Wes-Kaap gebeur het. Sy is kwaai Erik, want haar pruik pas te styf, en nie genoeg suurstof kom deur!

Die Wolf ·

Probeer haar departement se onbevoegdheid wegsteek oor water besoedeling ensWonder in wat se water het die man gebad?

Sarel ·

Sy het al soveel Porteveuljes beklee ek wonder of sy nou mik vir Minister van Polisie of bloot net om Kaapstad by te kom. Want waar dit gebeur in ANC vestings is almal stil.

Pieter ·

Na aanleiding van die foto kan ek sien daar is geen politieke wins vir anc en dus gaan die storie stil en stadig verdwyn sonder dat enigiemand regtig afgedank gaan word.

Francois Le Cochon ·

Volgens die video is dit baie duidelik dat die man kaal uit sy hut uitgestorm het, en dat polisie h gekeer het om weg te hardloop. Hy is dus nie kaal uit sy hut getrek en verneder nie, soos die minister genoem het nie.

Scalla ·

Sisulu, gee hom blyplek in een van jou mansions en stel hom ook aan as een van jou vele raadgewers wat die staat miljoene per jaar kos omdat jy nie bevoeg is om die portefeulje te kan bestuur nie en al die voriges instellings is n voorbeeld daarvan.

capie ·

John Steenhuisen,, Ons woon in ʼn demokratiese staat en nie ʼn militêre staat nie. Sê Wie. Dit lyk of hy aandele in die anc probeer koop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.