Minister skilder rooskleurige prentjie oor mynbou-toekoms

Gwede Mantashe (Foto: Courtney Africa/African News Agency/ANA)

Die minister van minerale hulpbronne, Gwede Mantashe, het vandag ʼn positiewe en hoopvolle prentjie geskets van die hede en toekoms van die Suid-Afrikaanse mynboubedryf ten spyte van die algemene opinie dat dié bedryf op die afdraande pad is.

Volgens Mantashe is mynbou in Suid-Afrika ʼn bedryf van die toekoms, nie die verlede nie, danksy nuwe minerale neerslae wat gevind is, vordering met navorsing oor die gebruik van hidrobreking om skaliegas in die Karoo te ontgin en verbeterings in mynveiligheid.

Meer as R1 miljard is in die begroting aan die departement van minerale hulpbronne toegewys, het Mantashe gesê. Hy het daaraan toegevoeg dat Suid-Afrika weliswaar ekonomies in die pekel is, maar dat mynbou kan help om die situasie te verbeter.

Hy het die regering daartoe verbind om mynboumaatskappye te help soek na onontginde minerale velde in Suid-Afrika. In hierdie verband het hy verwys na die Elandsfontein-fosfaatreserwes langs die Kaapse Weskus, en die Molteno-skeenkoolveld in die Suid-Vrystaat en die Oos-Kaap, waarvan die kwaliteit tans getoets word.

Voorts het hy verwys na die veranderende voorkeur van wêreldmarkte ten gunste van minerale soos litium, vanadium, kobalt, nikkel, mangaan en koper.

In ʼn belangwekkende aankondiging het hy gesê daar word goed gevorder met boorgate in die omgewing van Beaufort-Wes om vas te stel hoe die grondwaterreserwes van die Karoo inmekaar steek. Dit is belangrike vordering om te sien of skaliegas ontgin kan word in die Karoo.

In ʼn verdere interessante wending het Mantashe niks gesê oor die olie- en gasvonds in die Brulpadda-kom in die see naby George, wat verlede jaar so ‘n groot deel van pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede uitgemaak het nie.

Hy het ook min detail oor veranderings in die Mynboumanifes en die Wet op die Ontwikkeling van Minerale- en Petroleumhulpbronne (MPRDA) verskaf – inligting wat noodsaaklik is om die toekoms van hierdie bedrywe te peil.

Oor die volgende drie jaar word sowat 60 nuwe mynbouprojekte landwyd beplan, wat sowat 32 000 werkgeleenthede behoort te skep, aldus Mantashe.

Sy departement werk volgens die minister hard daaraan om die agterstand met die toestaan van mynboulisensies uit die weg te ruim.

ʼn Verdere prioriteit is die uitbou van die land se wetenskaplike vermoë om minerale te verwerk, en die veiligheid van mynwerkers.

In hierdie verband het Mantashe goeie nuus gehad – die getal sterftes in myne het vanjaar met 53% afgeneem, en beserings met 11% – neigings wat die minister hoop sal voortduur in die toekoms.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Gert van Wierdapark ·

Lyk my die mini-Ster het self die “skoot hoog-deur” na die SONA toe-spraak van die pres! In die eerste plek moet hy wegbly uit die Karoo, anders gaan dit n nagmerrie vir SA word. Hy gaan nog in sy myn-bou hoop vir die toekoms trap!

Andreas ·

Jan-Jan, dis nie jou skuld nie, maar 60 mynbouprojekte wat hulle glo oor die volgende 3 jaar 32,000 werksgeleenthede sal skep, terwyl daar tans oor die 15 miljoen is, en die aanwas is daagliks? Dit is ‘n tragedie, net so is daardie laaste sin van jou ‘n tradedie, al is dit ‘n “positiewe”, maar dat daar enige sterftes is.

Andreas ·

Skuus, kom ons maak die sin klaar, terwyl daar tans oor die 15 miljoen werkloses in die land is.

Mica ·

Moenie die aanwas te pertinent onder hulle aandag bring nie. Hulle is alreeds so hand op die blaas met China. Een van die dae mag blankes net een kind hê ongeag van hulle finansiële staat.

Chris Ws ·

Eerstens Die Mynbou Handves moet laat vaar word vir vooruitgang in die’ bedryf.Verder moet arbeids wetgewing gewysig word om unies /vakbonde MINDER mag te gee.Werkskepping gaan nie so hoog wees as wat hy dink nie want mynbou maatskappye meganiseer baie meer as in die verlede agv die staak neiging in die arbeids mark.
Nee wat hy is in vir ‘n ontnugtering.Waarom is die wereld se grootse platinamyn by Rustenburg dan in die mark??Nie om dowe neute nie glo my.

Skroef ·

Die nuwe mynbou manifes maak nou seker voorsiening om blanke ambagsmanne op ouderdom 45 van werk te onteien!

LHS ·

Ek wonder of die agbare minister ooit daaraan gedink het dat daar nie water gaan wees om aan hierdie nuwe droom te verskaf nie. Suid-Afrika is eintlik n baie droë land met uiters beperkte waterbronne en weet jy wat agbare lid van die droom maar voort kabinet, myne benodig en gebruik ontsettend baie water, wat jy waarvandaan gaan kry minister?

Petrus ·

Jô. Dog skaliegas is laas week onderbus gegooi (waar dit hoord).
Oos Kaap steenkool is maar eina in vergelyking met die noorde se reserwes behalwe dat laasgenoemde deur die hele Eskom/Gupta saga “bemors” is. Lyk my die zamas is besig om almal ore aan te sit.
Minister gaan vra mense wat weet!

David ·

…en daar is in die laaste 25 jaar nie een mynskag gesink nie…. droom so voort….

John ·

…. dis hier waar CR se die groot droom uit die omgedolwe aardbodem gaan peul. Boor en die genie met die lamp sal voor jou buig: Meneer wat is jou begeerte? Praat net en ek doen. Jamie Uys was ‘n siener met: Wil jy ‘n goudmyn koop?

Trojaanse Donkie ·

Ons het nie ‘n mynbou industrie nodig nie. Mense kan enige mineraal in die wereld wat werklik iets beteken op ander plekke bekom sonder die drama va RSA en sy cadres

Jerry ·

Mynbou gaan nie net by lee beloftes bly nie, werkskepping wel! Die ANC soek die minerale op sekere plase waar daar lekker baie water is en tans nog geboer word. Sodra onteiening van daardie plase afgehandel is gaan daar gemyn word soos nog nooit voorheen in Suid Afrika gemyn was nie. Die ANC soek nie water en kos nie, hulle soek geld waarmee hulle water en kos wil invoer!

Hans ·

Hoeveel keer gaan die Molteno “steenkoolvelde” nog ondersoek word?

Trojaanse Donkie ·

Jerry 100% reg. Net die geld vir die myne gaan uit China kom op hulle voorwaardes & kaders kan miskien beloon word om die teruggeneemde plase met minerale op te help uitdeel. Die grootste uraanmyn in Namibie is dan ook in sjinese besit en onder hulle bestuur in RSA ontwerp.

Swartwolf ·

In watter sirkus werk die nar ? Mynbou in SA is ten gronde. Blameer die handves wat 26% BBBEE van dag 1 af vereis, unies en strikes, massiewe lae produktiwiteit asook staatsinmenging in die industrie. Jammer bra Gwede myne is op ander plekke veel keer koste effektief ontwikkel maak nie saak hoeveel duisende tonne minerale in grond is nie investors hardloop weg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.