Minister stel moniteringsverslag oor skole bekend

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, tydens ‘n gelukwensingsontbyt wat in Januarie vanjaar vir die topmatrieks gehou is. (Foto: Jacques Naude/ANA)

Die Suid-Afrikaanse skolestelsel verbeter, maar nie vinnig genoeg nie.

Dit is die boodskap vervat in die regering se nasionale skoolmoniteringsverslag wat Maandagoggend uitgereik is deur Angie Motshekga, minister van basiese onderwys.

Die verslag berus op empiriese navorsing wat van ʼn duisend hoërskole en ʼn duisend laerskole in die openbare onderwysstelsel (staatskole) ingewin is. Dit meet nie die kwaliteit van onderrig nie, maar wel verskeie ander belangwekkende onderwysfaktore, met die doelwit om onderwys te verbeter.

Die navorsing word onafhanklik onderneem; nie deur die staat nie.

Motshekga het toegegee dat sommige van die bevindings ongemaklik is vir die regering om net voor ‘n verkiesing bekend te maak, maar gesê sy het opdrag gegee dat dit in elk geval volledig gedoen word omdat dit die werklike situasie weerspieël.

Die aantal biblioteke in skole het sedert 2011 drasties toegeneem, deels weens die betrokkenheid van die private sektor. Waar 45% van skole in 2011 biblioteke gehad het, staan die syfer nou op 62%.

Een van die groot leemtes aan die departementele kant van die onderwysstelsel bly die funksionering van distrikskantore, wat veronderstel is om ondersteuning en voorligting aan skole te bied. In die jongste skooljaar het 94% van hoërskole en 80% van laerskole darem minstens twee besoeke per jaar van distrikskantore ontvang.

Een van die kommerwekkendste bevindings is oor onderwysers se afwesigheidskoers. Op ʼn gemiddelde skooldag is 10% van onderwysers afwesig, vergeleke met 8% in 2011. Die laagste afwesigheidsyfers, waar onderwysers die minste afwesig is, is in Limpopo en die Vrystaat.

Die grootskaalse onderwysbeursskema Funza Lushaka is besig om die gepoogde uitwerking te hê met 78% van permanente onderwysposte wat tans landwyd gevul is vergeleke met 69% in 2011.

Skoolbeheerliggame vaar nie so goed nie, met net 65% van laerskole en 55% van hoërskole se beheerliggame wat na behore funksioneer. Dit maak Motshekga bekommerd.

Beter nuus het gekom wat die verskaffing van ondersteuningshulpmiddels betref. Sowat 95% van leerlinge het werkboeke ontvang, en sowat 80% het handboeke gekry.

Die slegste nuus handel oor infrastruktuur. Slegs 59% van skole voldoen aan die tersaaklike minimumvereistes, met net 76% van skole wat toegang tot lopende water en net 80% wat toegang tot behoorlike sanitasiegeriewe het. Dit is omtrent dieselfde as in 2011.

Sedert 2011 is 216 nuwe skole gebou, met nog omtrent ʼn honderd wat tans in aanbou is. Dit bring die aantal nuwe skole sedert 2000 op sowat 1 200 te staan, en die aantal nuwe klaskamers op omtrent 38 000.

Sowat 20% van die puttoilette by skole is sedert Augustus verlede jaar met spoeltoilette vervang,

Motshekga het ʼn beroep op alle landsburgers gedoen om te help sodat die situasie verder en vinniger verbeter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Wielspore ·

Verkiesings tyd is kalkoen tyd, lawwe beloftes en stellings wat nie sin maak. Mev Angie, jou verklaring maak nie sin, wat het nou werklik verbeter?

marous ·

Hoeveel skole is afgebrand ? Hoeveel skole wat vir biljoene gebou is staan leeg ? Hoeveel geld wat vir skole begroot is , is weg ?

suez ·

wowww,wat word van die begrotings-bedrag wat jaarliks aan onderwys toegeken word???OOK DALK VERDUISTER?
SKOLE OP PLATTELAND IN HAGLIKE OMSTANDIGHEDE WAAR ONDERWYSERS MOET KINDERS KLASGEE.
PRAAT NIE EERS VAN DIE SISTEEM-PROBLEME NIE…snaaks genoeg hoeveel BELOFTES STAAN NOU WEER OP UIT DIE STOF.

SjN ·

Plaas erken hul dat hul nie bevoeg is om die job te doen nie, los maar die ongemaklike bevindings.

Judge Dredd ·

Die ewige slagoffers het baie verskonings hoekom hulle nie kan slaag nie.

Maar aangesien hierdie dinge dan so verbeter – hoekom verbeter die resultaat uitkomste nie?

Antwoord:
Dit gaan nie oor verbetering van toilette/geboue/boeke en hoeveelheid onderwysers nie.
Dit gaan oor die effektiewe oordrag van kennis vanaf die onderwyser na die leerder.
Swak onderwyser = swak leerder.

Julle kan doen net wat julle wil, maar as julle nie SADTU en die swak onderwysers uitsorteer gaan julle maar niks regkry.

Gemaskerde Sopbeen ·

“Motshekga het ‘n beroep op alle landsburgers gedoen om te help sodat die situasie verder en vinniger kan verbeter…”?? En ek doen ‘n beroep op Motshekga om haar regering te motiveer om die belasting wat ons oorbetaal sodat sy en andere hulle job moet doen, terug te gee en te bedank, sodat ons self die situasie “verder en vinniger” kan laat verbeter. Ek weier egter om te betaal vir ‘n diens, en dan in te spring en dit “self” te doen….Gaan weg!!!

Jacques ·

Wanneer gaan die agbare regering leer dat die dame nie die regte persoon is vir die pos nie ? Die dame en die hele regering dobbel met ons mooi land se toekoms .
Paar jaar terug was dit die handboeksage en die heel tyd is daar iets wat opduik van die dame af .

Wilhelmina ·

Hulle ploeter rond soos passer om sy eie as en kom nêrens. Nou word onafhanklike skole ook gedreig dat rekenmeester verslae van afgelope 20 jaar plus onvoldoende is, dit móét nou oudit verslae wees… Opdrag Vrydag 11:30 gegee en verslae moet môre voor 15:30 I wees anders GÉÉN subsidie… Nog 1000de leerders word so onderrig ontsê. Salarisse wat die staat nié betaal nie maar skole self… En dan gebeur dinge soos die! Kinders leer bitter min want hul sê “Ag ons word in elk geval deurgesit” Red nou ‘n land met só bestuurstelsel.

Gert van Wierdapark ·

Die situasie sal outomaties vinnig verbeter as regstel(l)ende aksie stopgesir word}

Ferdie Maree ·

Inligting soos deur die minister Angie Motshekga lyk nie goed nie ! Dit gaan ook nie verbeter nie . Dankie vir die skole / ouers wat ekstra fasaliteite uit eie fondse aanbou en verbeter , skole mooi instand hou en sodoende sorg vir n hoë standaard . Daar is pragtige skole waar ouers / onnies self moue oprol en trots geweek word !

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.