Minister tree op ná Zondo-onthullings

Minister Michael Masutha. Foto: GCIS

Die departement van justisie en korrektiewe dienste het begin optree teen sy amptenare wat na bewering by staatskaping betrokke was, het die betrokke minister, adv. Michael Masutha, in die parlement aangekondig.

Masutha se aankondiging tydens ʼn mediakonferensie volg op bevindings van die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping, asook besoeke ter plaatse deur die minister aan die Pollsmoor-gevangenis in Kaapstad, die Johannesburg-gevangenis en die Kgosi Mampuru-gevangenis in Pretoria.

Masutha het aangekondig die departement van korrektiewe dienste het tussen 2004 en 2017 24 kontrakte met die omstrede sakeman Gavin Watson se maatskappy Bosasa (tans bekend as African Global Operations – AGO – en onder versoek tot likwidasie) gesluit. Hy het spesifiek na kontrakte oor die bedryf van tronkkombuise verwys.

AGO verskaf tans kos aan 29% van die land se sowat 162 000 gevangenes. Die ander 71% se kos word in die tronke self gemaak.

Oudpres. Thabo Mbeki het in 2006 ʼn proklamasie uitgereik oor Bosasa se betrokkenheid by korrupte aktiwiteite betreffend kosvoorsiening, toegangsbeheer, omheining en televisies.

Ná drie jaar, in 2009, het die spesiale ondersoekeenheid aanbeveel dat die departement van korrektiewe dienste dissiplinêre stappe instel teen die departement se destydse hoofamptenaar: finansies, Patrick Gillingham, dat die departement siviele eise teen Bosasa instel om verliese te verhaal en dat die nasionale vervolgingsgesag vir Gillingham en die voormalige kommissaris van korrektiewe dienste, Linda Mti, sowel as vir Bosasa vervolg.

Sedertdien is geen vervolging ingestel nie. Dissiplinêre optrede teen Gillingham het ‘n vroeë dood gesterf nadat hy uit die departement bedank het. Die departement van korrektiewe dienste het glad nie teen Bosasa opgetree nie.

Nou hersien die departement van korrektiewe dienste egter al sy groot kontrakte. In elk geval het AGO (Bosasa) nou aansoek gedoen om likwidasie, en hulle het die departement van korrektiewe dienste in kennis gestel dat hulle 30 dae kennis gee om die kosvoorsieningskontrakte te kanselleer – die laaste kontrak wat korrektiewe dienste nog met hulle gehad het.

Die departement het nou ook dissiplinêre maatreëls ingestel teen al die amptenare teen wie bewerings voor die Zondo-kommissie gemaak is en wat nog vir die departement werk. Hulle moet redes verskaf waarom hulle nie geskors moet word nie.

Intussen is ʼn plan beraam om te verseker dat kos steeds aan die gevangenes verskaf word waar Bosasa/AGO dit tot dusver verskaf het. Verskeie veranderings word ook aan die departementele sakeplan aangebring.

Wat die departement van justisie betref, fokus die optrede op ʼn inligtingstegnologiekontrak met die maatskappy Sondolo IT. Die kontrak is sowat R930 miljoen werd en word tans vervang met ʼn nuwe kontrak en ʼn nuwe diensverskaffer.

Die departement oudit tans al sy groot kontrakte en ʼn senior personeellid is geskors. Nog ʼn senior personeellid is in kennis gestel dat hy redes moet verskaf waarom hy nie geskors moet word nie. ʼn Derde senior amptenaar is op verpligte verlof gestuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Theresa ·

Dankie vir ons land se ondergang julle. Maar o ja – Soos die een wat dit gisteraand op die Nuus gestel het: “I did nothing wrong”. Siestog – die onbevoegdheid loop soos gesmelde sneeu………………………….

Ettienne ·

Die mense wat die besluit geneem het om hulle nie te vervolg moet ook teen opgetree word.

Hannetjie ·

Nou verklaar dit vir my waarom daar so baie van
hierdie absoluut duur voertuie die paaie vol is?Ja….tyd dat daar lewensstyl oudits ook op amptenary moet uitgevoer word

Domvraag ·

En wat van die wat versuim het om die beskuldigdes in 2009 te vervolg?

Gemaskerde Sopbeen ·

Redes gee waarom jy NIE geskors moet word nie? Uuhhh…..laat ons dink: “Ek het gesien daar word R80 000,00 per maand in rekening in betaal, maar ek het nie geweet van wie dit kom of waarvoor dit was nie, toe gebruik ek dit maar…..moenie my skors nie!!” Hahahahah

Agie ·

Dis waarheid

Nog waarheid ….. lees Númeri 11 met klem op :23.
Ons HERE doen wat geen mens kan doen nie?
Ek is opgewonde om te sien wat HY doen en wag geduldig, gelowig

Of ek en jy dit sal beleef……ek weet dit nie, maar dat God hierdie oopbreek van die kwaad bewerk, is ek oortuig en HY sê…..dit wat EK begin sál EK volbring?

BlinkStephaans ·

Dit voel steeds vir my of almal wat gedeel het in die buit nou ingetrek word. Nog nêrens op ñ lys sien ek die vet katte wat al oor en oor geimpliseer is se name nie. Dit voel vir my hulle word tyd gegun om so veel as moontlik bewyse te laat wegraak of getuies om te koop.

Thinus ·

Ag Mashutha, julle is almal kop in een mus en jy moes van als geweet het want hulle is mos jou comrades. Nou wil jy optree? Arresteer en tronkstraf is al wat hulle verdien. Die ANC is darm useless as dit kom om hul eie mense vas te vat. Het geen ruggraat nie.

Manie ·

Die man is so besig met politiekery net soos Lesufi. Besig om Janus Wallus in die tronk te hou vir die kommuniste dat hy nie by sy werk waarvoor hy enorme salaris kry uitkom

Gert J ·

Die probleem in SA is nie die onbevoegdheid van die Parlement nie, MAAR DIE ONBEVOEGDHEID VAN DIE MENSE WAT HULLE IN STEM.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.