Minister van polisie na parlement oor McBride

Robert McBride Foto: Werner Beukes/SAPA

Robert McBride Foto: Werner Beukes/SAPA

Nadat strafregtelike aanklagte teen Robert McBride, hoof van die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod), laat vaar is, het Nathi Nhleko, minister van polisie, Dinsdag in ʼn brief aan LP’s gevra dat hulle McBride moet dissiplineer.

Nhleko het gister verslaggewers tydens ʼn mediakonferensie toegespreek, dieselfde dag waarop die brief na die parlement se portefeulje komitee vir polisie verwys is. Die minister vra LP’s in die brief om McBride te dissiplineer omdat hy volgens die minister ʼn verslag aangepas het oor die voormalige Valke-hoof Anwa Dramat en ander senior kollegas se betrokkenheid by die onwettige uitlewering van Zimbabwiërs in 2010.

Nhleko het ontken dat hy “alles in sy vermoë gedoen het om aanklagte teen McBride te bring”, maar het gesê volgens die Grondwet is die parlement by magte om die hoof van Opod te dissiplineer. “Die Grondwet [sê in effek] dit is die parlement se besluit om oor dissiplinesake te besluit wat met die uitvoerende hoof van Opod verband hou,” het Nhleko gesê.

“Dit beteken as daar oortredings of bewerings van hierdie aard is, moet die minister bloot die parlement nader en aan die parlement verslag doen van wat gebeur het en dan kan die parlement besluit hoe om die saak verder te hanteer.”

Die parlement se portefeuljekomitee vir polisie het Maandag gesê Nhleko sal volgende week voor die komitee geroep word om te antwoord op die huidige konflik tussen die SAPD en Opod. “Ons het ten alle tye stabiliteit in ons wetstoepassingsagentskappe nodig en ons kan nie ʼn situasie toelaat waar die openbare vertroue in hierdie instansies geskaad word deur onderlinge konflik nie,” het Francois Beukman, voorsitter van die komitee, in ʼn verklaring gesê.

Die konstitusionele hof het in September bevind Nhleko se besluit om McBride as hoof van Opod te skors was onwettig en ongegrond. Die hof het beveel die skorsing moet opgehef word en het die parlement beveel om binne 30 dae te besluit of hy McBride wil dissiplineer.

Nadat die parlement nie by hierdie sperdatum gehou het nie, het McBride teruggekeer werk toe. Vroeër vandeesmaand het die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) bekend gemaak dat bedrogaanklagte teen McBride en twee van sy voormalige kollegas laat vaar is nadat getuies nie bereid was om te getuig nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

snoefie ·

die man is ook onaantasbaar. soveel klagte nasr hy kom elke keer los.

jaco ·

die minister is lid van die ANC en McBride is lid van die ANC. Hoe kan die ANC dan nou die ANC aankla?

marianna ·

McBride weet iets wat die min. van polisie voor bang is dat dit sal uitkom.. Lees
” To catch a cop”

Carel ·

Halloooooo Jaco, dis nie die ANC wat die ANC aankla nie. Lees die berig dan sien jy daar is twee persone betrokke, die een wil die ander een aankla . . . eish!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.