Minister van sport wens ‘inspirerende’ Everest-vrou geluk

Saray N’kusi Khumalo het Donderdag, 16 Mei 2019 die eerste swart vrou uit Afrika geword om die piek van Mount Everest te bereik. (Foto: Facebook via Summits with a Purpose)

Tokozile Xasa, minister van sport, het Donderdag die Johannesburgse sakevrou Saray N’kusi Khumalo gelukgewens met haar prestasie nadat sy Donderdag die piek van Mount Everest bereik het. Khumalo is die eerste swart vrou uit Afrika om dié majestueuse berg suksesvol uit te klim.

Xasa het in ʼn verklaring gesê Khumalo se prestasie maak haar opgewonde aangesien dit daarop dui dat vroue tot enigiets in staat is. “As ʼn samelewing moet ons ʼn bevorderlike omgewing bied sodat [vroue] kan slaag,” glo die minister.

Dit was Khumalo se vierde poging om die piek van die hoogste berg in die wêreld, ʼn skrikwekkende 8 840 m bo seespieël, te bereik.

“Haar kanniedood-houding is inspirerend. Dit maak nie saak hoeveel maal Saray geval het nie, sy het net aanhou opstaan. Dit behoort vir baie van ons as ʼn les te dien dat dit nie saak maak hoeveel keer jy val nie. Dit maak wel saak dat jy weer opstaan en voortbeur,” het Xasa gesê.

Maroela Media het vroeër berig Khumalo moes in 2017 per helikopter van die berg af gered word nadat sy tydens ongure weer beseer is. Sy was in 2014 op Everest gedurende ʼn ysstorting en in 2015 weer gedurende ʼn aardbewing. In 2017 kon sy daarin slaag om die suidelike piek te bereik.

Khumalo het in 2012 berg Kilimanjaro, in 2014 berg Elbrus in die suide van Rusland en in 2015 berg Aconcagua in Argentinië uitgeklim.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Hansie Slim ·

Nes jy sê tot alles in staat…….. sien hoeveel vrouens en hoeveel mans was al daar….
Neewat dink weer

jo ·

Ag regtig! Hoeveel ander vrouens van Afrika was voor haar daar? Vra maar net.

Ja ne ·

Ek wonder of daar so n hengse ophef gemaak sou gewees het as sy wit was? Ek twyfel sterk. Sou iets gelui het soos die mense wat voordeel trek uit white priviledge of white monopoly capital.

Rina Kotze ·

Veels geluk Dame.

Jy wou dit graag doen en jy het!

Aanhouer wen!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.