Minister verduidelik oor ‘smokkelpoging’ van vrou na SA

Minister Nosiviwe Mapisa-Nqakula. Foto: Flickr/GovernmentZA

Minister Nosiviwe Mapisa-Nqakula. Foto: Flickr/GovernmentZA

Nosiviwe Mapisa-Nqakula, die minister van verdediging en militêre veterane, het Maandag gesê sy “betreur” beriggewing deur die Sunday Times dat sy ʼn jong Burundese vrou onwettig die land ingesmokkel het.

Mapisa-Nqakula het gesê die berig is ʼn “opsetlike poging om die feite van die saak te verdraai”.

Die Sunday Times het berig Mapisa-Nqakula het erken dat sy van die Waterkloof-lugmagbasis na die Demokratiese Republiek van die Kongo gevlieg het om ʼn Burundese vrou te gaan haal wat in hegtenis geneem is vir die vervalsing van reisdokumente. Volgens Mapisa-Nqakula het die verslaggewer, ten spyte daarvan dat sy [Mapisa-Nqakula] die omstandighede van die voorval met die koerant bespreek het, besluit om “sy ooglopende vooroordeel en sensasie na te jaag” sonder enige agting vir “die beskerming van ʼn kind wat gered is uit ʼn lewe van mishandeling en verwaarlosing”.

“Die verslaggewer, Mzilikazi wa Afrika, het deur sy berig moontlik maande lange vordering deur die kind om te genees en haar lewe te herbou, ongedaan gemaak,” het Mapisa-Nqakula gesê.

Mapisa-Nqakula het gesê die Burundese vrou woon al twee jaar lank saam met Mapisa-Nqakula en haar gesin nadat die vrou gedwing was om haar huis te verlaat omdat haar pa haar mishandel het. Die vrou se ma het glo selfmoord gepleeg toe sy net drie jaar oud was.

“Die jong vrou het met my kinders bevriend geraak tydens verskeie vakansiebesoeke na Burundi in 2013 en 2014. In hierdie tyd het Mimi, soos ons haar noem, my familie twee keer in Suid-Afrika besoek, onder meer om die feestydperk in 2013 saam met ons deur te bring,” het Mapisa-Nqakula gesê.

“Eers nadat Mimi in Januarie [2014] na Burundi teruggekeer het, het ons bewus geraak van die omstandighede waarin sy lewe.” Die minister het gesê Mimi wou graag in Suid-Afrika woon om te studeer en in ʼn veilige omgewing te lewe. Mimi se pa wou haar egter nie toelaat om weer Suid-Afrika te besoek nie en het haar paspoort by haar afgevat, hoewel sy reeds 18 jaar oud was en sonder sy toestemming kon reis.

“Mimi het toe skuiling by vriende en ander families gesoek en versoek dat hulle haar bystaan om die nodige dokumente te bekom om op haar eie Burundi te verlaat,” het Mapisa-Nqakula gesê. Volgens die minister het Mimi die Verenigde Nasies se vlugtelingagentskap genader, maar hulle kon haar glo nie help nie.

“Hulle het haar aangeraai om ʼn tydelike Kongolese paspoort te bekom. In ʼn poging om te verhoed dat haar pa snuf in die  neus kry oor haar planne om te ontsnap, het sy ʼn vals naam by die Uvira-grenspos gebruik om in die Kongo in te kom en haar toe onder haar regte naam by die Suid-Afrikaanse ambassade aangemeld vir hulp en beskerming.”

Mapisa-Nqakula het gesê sy was bekommerd oor Mimi se veiligheid en het, in haar private hoedanigheid, aan die ambassade geskryf om te versoek dat Mimi ʼn vlugtelingsvisum kry om na Suid-Afrika te reis. Mimi is egter kort daarna in die Kongo in hegtenis geneem vir die vervalsing van reisdokumente en kon nie Frans praat om haar situasie aan die owerheid te verduidelik nie.

“Hierdie jong, weerlose vrou, wat bekend is aan my familie en ʼn vriendin van ons kinders is, was haweloos en weerloos uitgelewer aan verdere mishandeling, selfs moontlike seksuele mishandeling. Sy was vir altesaam tien dae in aanhouding,” het Mapisa-Nqakula gesê.

Mapisa-Nqakula sê sy het einde Januarie 2014 na die Kongo gereis as deel van ʼn staatsbesoek wat in elk geval gereël was. Terwyl sy daar was, het sy Mimi se lot onder hulle minister van verdediging se aandag gebring. Die betrokke minister het glo die saak ondersoek en volgens Mapisa-Nqakula bevind dat Mimi nie ʼn misdaad gepleeg het nie.

“Om te verhoed dat sy teruggestuur word na haar land, het ek aangebied om haar saam met my te neem en te help om die nodige wettige reisdokumente te bekom,” het sy gesê. “Dit is daarom totaal misleidend van die Sunday Times om te berig dat ek ʼn amptelike reis georganiseer het en ʼn afvaardiging van senior militêre en regeringsbeamptes saamgeneem het, bloot om ʼn vrou onwettig van die Kongo af in te ‘smokkel’.”

Mapisa-Nqakula het gesê Mimi het ʼn weergawe van haar Suid-Afrikaanse visum op ʼn geheuestokkie by haar gehad en dit gebruik om wettig na Suid-Afrika te reis. “Hoekom die Sunday Times dus beweer dat sy met vervalste dokumente gereis het, is vir my onverstaanbaar.”

Volgens die minister het Mimi intussen ʼn studiepermit bekom en by ʼn Suid-Afrikaanse kollege ingeskryf terwyl sy steeds in Mapisa-Nqakula se huis woon.

“Mimi is uiteindelik op ʼn pad van genesing en woon in veilige omstandighede wat haar kan lei tot ʼn vol en produktiewe lewe vorentoe. Ek is geensins spyt oor my optrede om hierdie kind by te staan nie en sou nooit met my gewete kon saamleef as iets met haar sou gebeur het en ek kon wel iets gedoen het om haar te help nie. Ek glo dit was die regte ding om te doen,” het Mapisa-Nqakula gesê.

Sy het bygevoeg dat die Sunday Times haar op die laaste nippertjie genader het om ʼn onderhoud oor die aangeleentheid toe te staan. Daar is vir haar gesê dat hulle met die artikel sal voortgaan ongeag of sy kommentaar wil lewer of nie. Sy het ook beklemtoon dat die koerant nie die feite met die VN se vlugtelingagentskap of met Mimi se familie uitgeklaar het nie.

“Weereens moes die waarheid in die slag bly weens die onetiese en onprofessionele optrede van ʼn entoesiastiese verslaggewer wat smag na glorie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Gerd Lourens ·

Beslis! Hier is nog nie genoeg onwettiges in SA nie. Nou word hulle sommer met my belastinggeld ten duurste ingevlieg.

cherokee ·

So Gerd, dan is jý eintlik diie skuldige en jy erken ruiterlik dat jy dit gefinansier het!

wessie ·

Dankie minister. Nou kan ons ook maar met ‘n geheue stokkie reis. Ek is baie dankbaar u maak dit net makliker. Ons hoef nie meer so te wag vir paspoorte en visums nie. Weereens dankie.

Johann ·

Ja shure. Altyd n absurd omvattende relaas om misbruik van mag en miskenning van wetgewing te regverdig EN NATUURLIK n swartskaap om te blameer, met die gunsteling “buite konteks en aanvallend…”. Elke keer as ek dink …dis die mees belaglike situasie; dan verras n nuwe gekespul ons.

Irene ·

Wat wil sy verduidelik sy moet uit haar amp dan gaan die persoon seker a goeie werk kry waar ons eie mense geleerdheid het en kry niks Uit se ek

KP ·

Terwyl miljoene kinders in haar eie land onder haglike omstandighede bly. Die militere vliegtuie is nou Afrika se amptelike taxidiens. Dit is seker hoekom Zuma groter vliegtuig soek.

Berhalet Beukes ·

Jy kan poog om te verduidelik… Dit bly ‘n oortreding!

m ·

Dis mos nou misbruik van magsposisie!!! Sy kan mos nie mense invlieg soos sy wil nie , en dis nog ,misbruik van staatseiendom. Is dit nou weer een van daai mense wat gaan teer op Suid Afrika se social grands . Een van die dae het die vrou ook seker ‘n ID wat gereel is. Die staat het mos ‘n Code of Conduct wat nagekom moet word word of geld dit glad nie vir haar nie.

Edel en verdag ·

Dit wat jy wil doen vir Mimi is edel en kosbaar. Daar is mense is ons land ook wat sukkel, maar ek stem saam met jou as mens iemand ken en kan help hoekom nie – dit wys jou hart is op die regte plek, wat ek egter nie saamstem is die manier hoe en met staats vliegtuig en dit klink verdag dat jy vir ‘n staatsbesoek daar was op die spesifieke tyd. Jy kan nie die mense blameer dat hul afleidings maak nie, dit klink regtig verdag. Ek hoop Mimi ploeg die mooi en edel in ons landgenote.

Gerd Lourens ·

Edel en Verdag – lekker lag ek nou vir jou kommentaar.

Die “OC” was net op die regte tyd op die regte plek met die regte staatsvervoer.

vermeende ·

Hierdie is n kwaadwillige berig, niemand kan meer in SA in gesmokkel word nie, dis onmoontlik, jy stap net oor die grens. Vra gerus vir enige Zim burger in SA.

Theo ·

Jou optrede is teenstrydig met die wet Minister en jy is skuldig, klaar. Hoe edel ook al jou bedoelings.

Koos ·

Daar is mos wettige prosedures wat gevolg moet word of is sy nie onderworpe aan dit nie en dit is nogal snaaks dat sy noem die meisie wou in ‘n veilige land bly dan moes Suid-Afrika nie eers oorweeg geword het nie

Liza ·

Ek kan nie ‘n bankrekening oopmaak sonder oorspronklike dokumente nie, maar jy bring ‘n jongvrou in die land in met ‘n “weergawe” van haar visum gestoor op ‘n geheuestokie?????

Lance ·

Geen verantwoordbaarheid nie …ons se net mooi sorry dan is alles weer mooi reg ….dis teen die wet HALLOOO !!!

Lucas ·

Wonder of sy nie sommer bietjie by Al Basjier ok gaan kuier het terwyl sy nou so aan die rondrits was met edele motiewe nie!!

Theuns ·

Ek maak die volgende waarnemings vir wat dit werd is: Burundi is n Afrika vriendelike Staat? Moes die Minister nie die probleme met Mimi se pa aan die Polsie in Burundi gerapporteer het nie? Nou maak sy haar eerder aan ” Menseroof ” skuldig? Dit is n erge oortreding. Die Pa van Mimi kan mos nou saak maak teen die minister en Suid Afrika. Wat van ‘n eis van miljoene wat die belasting betalers van SA sal moet betaal? Of is die Pa klaar omgekoop? Die agbare minister vertel ons mos ‘ n klomp tjol!!!

Benito Odendal ·

What an entangled web we weave when first we start to deceive……Eish !! tse !!!!

Schalk ·

Stuur n vrag vliegtuig, dan kan jy al die snotneuse wat deur hulle pa’s gemolesteer word red. Daar is mos genoeg geld, soos julle aangaan is dit al wat die land het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.