Minister verkla oor Dubai-reis wat Guptas glo betaal

Ayanda Dlodlo. Foto: http://www.gov.za

Die DA gaan Ayanda Dlodlo, minister van kommunikasie, by die parlement se gesamentlike komitee oor etiek en ledebelange verkla nadat dit aan die lig gekom het dat die Gupta-familie glo betaal het sodat sy na Dubai kon reis.

Volgens Phumzile van Damme, die DA se skaduminister van kommunikasie, het hulle die parlement se register vir ledebelange behoorlik bestudeer en gevind dat Dlodlo nie haar reis na Dubai in 2015 sowel as haar verblyf in die luukse Oberoi-hotel verklaar het nie. Dlodlo was toe adjunkminister van staatsdiens en administrasie.

Vytjie Mentor, voormalige ANC-LP, het vroeër vandeesweek beweer Dlodlo het glo ook in 2009 ʼn aanbod van ʼn Franse kernkragmaatskappy aanvaar vir ’n eersteklasvlug om die Franse Ope-tennistoernooi te gaan kyk, vir ʼn ruk in ʼn luukse hotel oor te bly en glo ook op ʼn inkopietog te gaan.

Volgens die DA is dié uitgawes nie in die register van ledebelange verklaar nie.

Dokumente dui glo aan haar verblyf in Dubai is gereël deur Sahara Computers [wat deur die Guptas besit word]. Die hele reis, wat die verblyf, spabehandelings, etes by haar kamer en ‘n huurmotor insluit, is glo deur Fana Hlongwane, wat ook in die staatskapingverslag betrek word, betaal.

“In terme van die parlementêre gedragskode moet reise, die onkoste daarvan en spesifiek enige reise wat onderneem word waarin die lid nie as ʼn verteenwoordiger van die publiek gaan nie, ook verklaar word,” het Van Damme gesê.

“Die Gupta-e-posse wat onlangs aan die lig gekom het, toon net weereens die ongetwyfelde invloed wat die Guptas op talle ANC-verteenwoordigers het. Minister Dlodlo het bevestig dat Sahara Computers wel vir haar die reis gereël het en dat Hlongwane daarvoor betaal het. Dié bekentenis is dus die eerste amptelike verwesenliking van die skokkende strekking van die staatskaping.”

Die DA meen die e-posse verskaf bewyse dat die ANC Suid-Afrika misbruik vir die gewin van ʼn paar individue met politieke bande, ten koste van 55 miljoen burgers.

Die DA het gesê hulle sal voortgaan om enige moontlike bande wat Dlodlo met die Guptas het te ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

snoefie ·

sy was vur opleiding frankryk toe en vir afronding Dubai toe.

Dikkes ·

Genade! Is daar geen einde aan die mense se kriminaliteite nie?

zonk ·

Wat het Mmusi in Zambia gaan soek en wie het sy rit gesponser.

Justice ·

Ek vertrou dat sy onmiddelik deur die ANC geskors is sonder enige vergoeding – die DA het mos nou die voorbeeld op `n veel geringe aanklag gestel.

al ·

Ons landsburgers wag vir geregtigheid – of is ons net goed genoeg om gemelk te word vir ons belastinggeld?

cc ·

Ek het ‘n vakansie nodig – hoe kontak ek die Guptas om in Dubai te gaan vakansie hou – miskien sal Sahara my ook borg

Vat my saam ·

Ek kort ook ‘n vakansie wat ek nie kan bekostig en betaal nie en vryelik inkopies doen met geld wat uuuhhmm uit die lug val, Gupta lug.

Koos1 ·

Prez. Zuma, is daar dan niemand wat jy kan aanstel wat nie bande met die Guptas het nie.

al ·

Die hele vrot regering sal hul tasse moet pak en waai as hul ñ eerbare mens wil aanstel.
Definitief nie onder die Zupta administrasie nie.

jean ·

Blah…blah…blah…..ek dink ek gaan ook volgende week vir die Gupta-spul in Dubai kuier…hulle betaal..

Willie ·

Die vis vrot gewoonlik van die kop af… Dis nie eindelik skokkend nie, daar is baie in die Gupta hande…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.