Minister veroordeel moord op bejaarde boer

Mpozana Khumalo (Foto: Facebook)

“Die dood van een boer of plaaswerker is een te veel en die uitwerking daarvan kom die landbousektor duur te staan.”

Só het Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, Woensdag gesê in reaksie op die moord op Mpozana Khumalo, ’n boer van die Nkomba-omgewing naby Muden in KwaZulu-Natal.

Khumalo (79) is Vrydag in ’n hospitaal dood nadat hy sowat twee weke gelede op ’n plaas aan ’n boom vasgebind, geskiet en vir dood agtergelaat is.

Didiza het nou ’n beroep op die wetstoepassingsowerhede gedoen om alles in hul vermoë te doen om Khumalo se moordenaars op te spoor en in hegtenis te neem.

Minister Thoko Didiza. (Foto: GCIS)

“Ek wil ʼn beroep op hierdie misdadigers doen om nie ons boere en plaaswerkers dood te maak nie,” het die minister gesê.

Maroela Media het vroeër berig Khumalo het op 17 November na sy seun se beeste en skape op ’n plaas gaan kyk toe hy aangeval en geskiet is.

Khumalo is tydens die aanval in die regterkant van sy bors getref en van sy selfoon en kontant beroof voordat die aanvallers gevlug het.

Werkers op die plaas het op Khumalo afgekom waarna hy na ’n hospitaal gehaas is.

Angus Williamson, voorsitter van die plaaslike boerevereniging, het Dinsdag gesê die moord op Khumalo wys weer eens dat misdaad in landelike gebiede buite beheer is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Kokerboom ·

Minister goed bedoel maar sinnelose opmerking/versoek aan boewe!!! Dis soos vir ‘n stout kind sê : jy moenie stout wees!! Kry liewer die verrotte sosiale onderbou in land reg

Persheks Adri ·

Jy doen ‘n beroep op die misdadigers om nie te moor nie gggmmmfff dit gaan mos help! Die redenasie vermoë darem verstom my

Thea ·

Pragtig minister. Hoekom nou eers dit veroordeel? Is een boer se lewe meer werd as die ander een s’n?

christo ·

Lewens beteken niks in SA nie. Ons wens ons het soos Ministers ook voltydse polisiebsskerming.

Derek ·

Hoor hoe mooi praat sy met die misdadigers, laat mens wonder? Lesufi het mos gese: rasiste is breinloos en dood, miskien moet hulle n slag in die spieel kyk, laat mens wonder?

Flip ·

Ek doen n beroep op die minister om aan ALLE plaasmoorde dieselfde aandag te gee…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.