Minister veroordeel verspreiding van ‘ou foto’

Thulas Nxesi. (Foto: Kopano Tlape/GCIS)

Thulas Nxesi, minister van arbeid en indiensneming, sê die foto van hom op sosiale media waarin dit voorkom of hy die vlak 3-afsonderingsregulasies verontagsaam, is nié midde die Covid-19-pandemie geneem nie, maar wel op ’n Oujaarsaand drie jaar gelede.

Die betrokke foto het Donderdag die lig gesien en wys hoe die minister saam met vriende op ’n bank slaap. Die minister en sy vriende dra nie maskers in die foto nie en alkohol kan in die foto gesien word.

Die foto van minister Thulas Nxesi waarin dit voorkom of hy die vlak 3-afsonderingsregulasies verontagsaam, is volgens die minister jare gelede geneem. (Foto: Twitter)

“Minister Thulas Nxesi het met groot kommer kennis geneem van die foto wat op sosiale media versprei word wat dit laat lyk of hy die regulasies oortree wat ingevolge die Wet op Rampbestuur ingestel is om die Covid-19-pandemie te hanteer,” sê die departement van arbeid en indiensneming in ’n verklaring.

“Minister Nxesi wil dit duidelik stel dat die foto op 31 Desember 2017 tydens ’n private sosiale byeenkoms met vriende geneem is.”

Die departement sê die verspreiding van só ’n foto midde die Covid-19-pandemie is nie net roekeloos nie, maar ook uiters onverantwoordelik, veral omdat die minister in Julie verlede jaar in die hospitaal met Covid-19 opgeneem is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.