Minister verseker publiek oor Sassa-betalings

Argieffoto

Argieffoto

Bathabile Dlamini, die minister van maatskaplike ontwikkeling, het Vrydag die regering se versekering benadruk dat alle begunstigdes wat in aanmerking kom vir welsynstoelaes, betyds hul geld sal ontvang.

Dlamini het met die LUR’e vergader wat verantwoordelik is vir maatskaplike ontwikkeling, die uitvoerende streeksbestuurders van die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa) en uitvoerende hoofde van die nasionale ontwikkelingsagentskap (NOA).

Lumka Oliphant, woordvoerder vir die departement van maatskaplike ontwikkeling, het gesê die vergadering het gehandel oor die vordering wat betref die instelling van ʼn betalingstelsel van die welsynstoelaes ná 31 Maart 2017 wanneer die huidige kontrak met Cash Paymaster Services (CPS) verstryk.

Die vergadering het bevestig dat onderhandelinge voortduur tussen die departement van maatskaplike ontwikkeling, Sassa, die nasionale tesourie en CPS wat betref ʼn oorgangsreëling terwyl die agentskap alle noodsaaklike maatreëls in plek stel om die betalings te behartig, kragtens die Wet op Maatskaplike Sekerheid. Volgens dié wet is Sassa die agent wat die administrasie en betaling van welsynsbystand, maatskaplike sekerheid en verwante dienste moet behartig.

“Daar is tydens die vergadering voorgestel dat die departement van maatskaplike ontwikkeling, tesame met Sassa en die NOA met ʼn landswye veldtog moet begin om die publiek se vrees en angs oor die betaling van welsynstoelaes ná 31 Maart te besweer,” het Oliphant bygevoeg. “Die departement wil met burgers in gesprek tree oor die kwessies waaroor hulle die meeste besorg is, om ʼn inklusiewe maatskaplike beskermingstelsel te verskaf.”

Die vergadering het ook homself daartoe verbind om al die kritieke stappe te ondersteun wat Sassa aangedui het wat betref die instelling van ʼn betalingstelsel.

“Die minister wil Suid-Afrika ook inlig dat Sassa Donderdag sy vorderingsverslag by die konstitusionele hof ingedien het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Christa ·

Hierdie regering het GEEN respek vir die Reg nie!!! Die Konstitusiele Hof het reeds DRIE jaar gelede die kontrak met CPS ONWETTIG verklaar, maar die ANC het hulle net daaraan afgevee!!

w ·

Die einste minister wat in drie jaar se tyd nie n oplossing kon vind maak nou beloftes van toelaes wat betyds sal wees. Ai hu pateties. Wens net die meerderheid wil besef hu word hul belieg

Alida ·

Ek het iets raakgelees van kontant wat aangery gaan word as dit moet. Die kapers het klaar hul planne in plek. Dit is net die ANC wat sulke risikos sal loop.

Chris Ws ·

Daai minister se versekering dat toelaas betyds betaal gaan word is niks werd nie.Dis net soos die baie beloftes wat die anc met verkiesingstye gemaak het en waarvan daar dadels gekom het.Ek hoop die wat geraak word se ogies gaan wyd oop vir die regering wat HULLE voor gestem het!

pieter ellis ·

Dit is so ietwat laat om nou te begin bokspring. Bathabile Dlamini het TWEE jaar tyd gehad om volgens n bevel van die Konstitusionele hof haar huis in orde te kry. Dit sal interessant wees om te sien of die KH enigsins tande het, want Zuma het al bewys dat hy hofbevele kan verontagsaam, dus kan sy puppet dit seker ook verontagsaam. Dis n jammerlike mislukking om staat toelaag mense se regte te beskerm. Hoop die KH sal die regte ding doen en lasbriewe vir inhegtenisnemeng uireik

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.