Minister versoek om by MEIBC in te gryp

Argieffoto (Foto: MEIBC, Facebook)

Argieffoto (Foto: MEIBC, Facebook)

Die vakbond Solidariteit het vandeesweek in ʼn skrywe aan Mildred Oliphant, minister van arbeid, versoek dat daar dringend by die sukkelende Bedingingsraad vir die Metaal- en Ingenieursbedryf (MEIBC) ingegryp moet word. Dit volg weens die voortslepende finansiële krisis waarin die bedingsraad die afgelope paar jaar gedompel is, asook die onvermoë van partye in die raad om oor verskeie kwessies tot ʼn vergelyk te kom.

Volgens Marius Croucamp, adjunk-hoofsekretaris van die metaal- en ingenieursbedryf by Solidariteit, het gesê die MEIBC se finansiële posisie die afgelope ruk het so versleg dat die bedingingsraad al vir ʼn geruime tyd nie meer sy geskilbeslegtingsfunksie kan uitvoer nie.

“Die realiteit is dat die MEIBC binne drie maande finaal sal ontbind indien die betrokke partye nie by die volgende bestuurskomiteevergadering oor die uitbreiding en verhoging van die administrasie en geskilbeslegtingsfooi-ooreenkoms kan saamstem nie. Die huidige ooreenkoms verval op 1 Junie vanjaar, waarna die MEIBC sy enigste bron van inkomste sal kwyt wees,” het Croucamp verduidelik.

Volgens Croucamp is die enigste manier waarop die toekoms van die MEIBC verseker kan word, as die konflik tussen die partye op die hoogste vlak gefasiliteer word en daar konsensus oor die pad vorentoe bereik word. “Daar moet dringend op ʼn hoë vlak oor die bedingsraad se finansiële posisie besin word, terwyl dringende stappe gedoen moet word om die administrasie en bestuur van die bedingingsraad te verbeter. Dit is alles noodsaaklik om die toekoms van die raad te verseker,” het hy gesê.

Croucamp het verduidelik dat die MEIBC ʼn noodsaaklike rol in die metaal- en ingenieursbedryf vervul en dat dit verskeie negatiewe gevolge vir die bedryf sal inhou as die raad tot niet sou gaan. “Die MEIBC reguleer verskeie noodsaaklike arbeidskwessies kragtens ’n hoofooreenkoms waarvan die inhoud jaarliks deur die onderskeie partye in die bedryf onderhandel word. Dit sluit kwessies soos werksure, lone, verandering aan basiese diensvoorwaardes en geskilbeslegting in.

“Die bedingingsraad bring dus geordende kollektiewe bedinging op sentrale vlak mee waar konflik meer effektief gereguleer en bestuur kan word. Sou die bedingsraad ontbind, kan dit tot wydverspreide stakings en arbeidsonrus in die bedryf lei,” waarsku Croucamp.

In die skrywe wat reeds Woensdag aan die minister gerig is, versoek Solidariteit dat die minister dringend, voor die volgende bestuurskomitee vergadering wat op 25 Mei plaasvind, moet ingryp om sodoende die bogenoemde kwessies aan te pak. Solidariteit het teen Vrydagmiddag steeds op terugvoer van die minister gewag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.