Minister verwelkom uitspraak teen sagtewaremaatskappy

Argieffoto. (Foto: Maroela Media)

Lindiwe Sisulu, voormalige minister van water en sanitasie en nou minister van toerisme, het die uitspraak deur die spesiale tribunaal van die spesiale ondersoekeenheid (SOE) verwelkom teen die Duitse sagtewaremaatskappy SAP.

Maroela Media het vroeër berig die spesiale tribunaal het die multinasionale tegnologiemaatskappy Systems Applications Products, bekend as SAP, beveel om meer as R400 miljoen aan die departement van water en sanitasie terug te betaal. Dit kom nadat twee sagteware lisensie- en ondersteuningsooreenkomskontrakte ter waarde van R1 miljard tussen die departement en SAP aangegaan is.

Nadat die SOE bewyse van onreëlmatighede aan die departement en SAP voorgelê het, het hulle gesamentlik ooreengekom dat die kontrakte ongeldig en onreëlmatig is

Regter Lebogang Modiba het Dinsdag bepaal die kontrakte, wat tussen 2015 en 2016 tussen die tegnologiereus en die departement van water en sanitasie aangegaan is, “grondwetlik ongeldig” was. SAP moet minstens R413 miljoen aan die departement terugbetaal.

Die bevel het effektief die twee multimiljoenrand kontrakte tersyde gestel. Die regter het bepaal dat SAP ʼn bedrag van R263 miljoen binne vyf hofdae aan die departement moet terugbetaal.

“Ek wil graag almal bedank wat dit moontlik gemaak het dat dié korrupsie onthul is, en die spesiale tribunaal wat dié saak bereg het,” sê Sisulu.

Die minister het gesê een van die groot uitdagings wat sy by die departement van water en sanitasie oorgeërf het, was ernstige korrupsie en ʼn gebrek aan gevolgbestuur.

“Korrupsie het vordering om water aan Suid-Afrikaners te lewer, ontspoor,” het sy bygevoeg.

Ondersoeke na die onreëlmatige betaling aan SAP deur die departement volg ná Sisulu in haar amp as minister van water en sanitasie versoek het dat die ondersoek bespoedig word.

Tydens die 2019/2020- finansiële jaar is ʼn bedrag van R3 119 914 964,85 ondersoek, wat proaktiewe werk ingesluit het deur die interne oudit-eenheid wat onreëlmatige uitgawes ter waarde van R1,36 miljard en R250 miljoen in die 2020/2021- finansiële jaar wou verhoed.

“As deel van die departement se proaktiewe bedrogvoorkomingsmaatreëls het die direktoraat vir forensiese oudits 22 bedrogbewusmakingsessies in verskeie direktorate in die departement gehou,” sê Steve Motale, woordvoerder van die departement. “Altesaam 900 beamptes het die sessies bygewoon.”

Wat betref SAP het die departement met sy eie interne ondersoek begin oor die onreëlmatige aanstelling van die maatskappy. Die ondersoek het ernstige administratiewe ongerymdhede onthul. Terwyl die departement se ondersoek aan die gang was, het die SOE proklamasie nr. R27 van 2018 en R44 van 2019 bekom.

Motale sê die departement se ondersoekers het dokumente en inligting met die SOE se ondersoekbeamptes gedeel.

Ná die interne verslag afgehandel is, het die departement ʼn proses van geregtelike hersiening van stapel gestuur.

Sisulu het dit gedoen as voorsitter van ʼn beraad tussen haarself en senior beamptes van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG).

“Die formidabele span wat sy aangestel het om korrupsie hok te slaan, is egter ontwrig toe sy die departement verlaat het,” het hy bygevoeg.

In haar voortgesette pogings om korrupsie binne die departement van water en sanitasie hok te slaan, het sy ook verskeie waterrade opnuut saamgestel, insluitend Umngeni, Amatola en Lepelle Noordelike Waterraad. “Sy het nou saam met die SOE gewerk en ʼn ondersoek van stapel gestuur na bewerings van bedrog en korrupsie teen Phineas Legodi, die voormalige uitvoerende hoof van Lepelle Noordelike Waterraad. Hy en ses ander staan tereg op aanklagte van hul hantering van die Giyani-waterskema.

Sisulu het ook haar versoek aan wetstoepassers benadruk om sake van korrupsie te bespoedig wat aanhangig gemaak is teen voormalige uitvoerende hoofde, insluitend die voormalige uitvoerende hoof van die Amatola-waterraad, Vuyo Zitumane.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pietertjie

Die minister het iets gesê. Dit regverdig die helse salaris wat sy betaal word.

SjN

Orals waar sy betrokke is was n flop, wat soek sy nog daar.