Minister vra betogers om nie klasse te ontwrig

Minister Angie Motshekga tydens ‘n besoek aan ‘n skool in Brits (Foto: Molaole Montsho/ANA)

Die minister van basiese onderwys het gemeenskappe gevra om te verseker betogings ontwrig nie hulle kinders se skooldag – en dus hulle toekoms – nie, het die departement in ʼn verklaring gesê.

“Die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, is diep bekommerd oor die voortslepende ontwrigting by skole op verskeie plekke landwyd.”

Betogings het klasse in Limpopo, KwaZulu-Natal en Noordwes ontwrig.

In Zebediela in Limpopo betoog inwoners oor ʼn gebrek aan basiese dienste en padinfrastruktuur, terwyl betogers in KwaZulu-Natal leerders verhoed het om eksamen te skryf op plekke in die Ugu- en die uMgungundlovu-distrik.

In dele van Noordwes wat onder die Ratlou-munisipaliteit val, is onderrig ook weens diensleweringsbetogings ontwrig.

“Die leerders mis kritieke eksamens wat uiters belangrik is vir die matriekeksamen oor ʼn paar maande. Dis sleg om te sien dat hulle toekoms in die gedrang gebring word weens diensleweringsprobleme wat niks of bitter min met hulle te doen het,” het Motshekga gesê.

“Ons doen ʼn beroep op gemeenskappe om ons te help deur nié toe te laat dat ons kinders se toekoms weens betogings in die weegskaal is nie.”

Die minister praat met LUR’e van onderwys in die geraakte provinsies om onmiddellike oplossing te vind en ʼn plan te implementeer sodat leerders hulle werk betyds kan inhaal en halfjaareksamens kan skryf, het die departement gesê.

Diegene wat hard probeer om ʼn matrieksertifikaat te verwerf se lewens word nou weereens, en deur geen fout van hulle eie nie, ontwrig, het Motshekga gesê.

Die departement het gesê die minister sal alles moontlik doen om te verseker onderrig in die provinsies word spoedig hervat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

koos ·

In 1976 het jy ook, minister, gevra dat dit gedoen moet word, nou moet hulle nie meer nie. Ongelukkig het hulle toe al geleer dat dit al manier is hou die regering na hulle luister. Kom julle beloftes na en die betogings sal ophou.

Spike ·

Min. dit is te laat om nou te wil opvoed. Julle het hulle so groot gemaak so, die boompie is klaar verkeerd gebuig. Dit sal nooit verander nie, want alles moet in die bloedjies se skote val.

Spike ·

Lyk my hulle kry nie rus by die huis van al die opleiding nie. Hulle is doodmoeg in die klas.

Heinrich ·

In ‘n beskaafde land sou die opskrif gelees het: ” Minister waarborg studente veiligheid tydens betogings’. Maar siestog nou moet sy tog so mooi vra dat die betogers tog maar net die wet moet gehoorsaam; hulle regte of chaos te saai weeg mos swaarder as die reg op ‘n veilige opvoedingsmilieu.

emily ·

Dink sy nou regtig dit gaan help om te vra, ASB, hier kan dan nie eers betoog word sonder geweld ens. nie
Hou aan stem vir mense wat julle, Water, krag ens. ens. ens. belowe. sonder dat daar regtig iets aan gedoen word. Julle veroorsaak julle eie drama.

Danie ·

Dis soos om vir ‘n stout kind te se: “Jy moenie stout wees asb!”Die belaglike uitsprake maak my naar.
Los die kernprobleme van ontwrigting wat deur u Party gevorm is, op Minister
Eks regtig van mening daar is BAIE beter bevoegde persone as die agbare kader .Onder haar leiding het skole totaal verswak. Is sy ‘n lewenslange aanstelling?

anntjie ·

Wat jy saai sal jy tienvoudig maai. Gaan dink bietjie baie mooi oor wat julle begin het en hoe dit die toekoms ge-affekteer het. Moenie dan mooi vra of kla nie. Jy het hulle mooi geleer!

karen ·

paar jaar gelede was daar nog komanndo’s en weermagkampe – waar is hulle nou? hulle sou kon help by die skole . . .

Swannie ·

Nou hoekom sal die minister bekommerd wees oor die eksamens ? Sit die kinders maar net deur,al druip hulle. Dit word mos alreeds gedoen, of hoe ?

Gert van Wierdapark ·

Die Mini-ster van Basiese Onder-wys se vertroue in die leerders en gemeenskappe is prysens-waardig, maar ongelukkig nie Bo-wys nie (lynreg teenoor Onder-wys). Ek glo nie Salomo sou n oplossing vir die betogings ens. gehad het nie…… so min Angie sal aan iets sterker moet dink om hond haaraf teenoor die onge-lukkiges en afvalliges te maak!!!

Willem ·

Leerders se reg om eksamens te skryf kom tweede met betogers se reg om te betoog en skade te berokken eerste plek. Die leerders sukkel alreeds met ‘n swak onderwys stelsel.

Mudguard ·

Ek gaan daai foto in my kombuis ophang om die vliee weg te hou !!

Hanna Hoekom ·

“Liberation before education…” And the rest is history!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.