Minister vra dat niemand kouevleis-produkte eet nie

Rob Davies, minister van handel en nywerheid. Foto: Departement van handel en nywerheid

“Moet geen geprosesseerde vleis eet nie.” Dit was die boodskap van die minister van handel en nywerheid, dr. Rob Davies, vanoggend aan ʼn gesamentlike parlementêre komiteevergadering oor die uitbreking van listeriose.

Hy het ook toegegee dat die regering nog nie regtig weet wat die uitbreking van die huidige epidemie veroorsaak het nie, en wat die verband is tussen die listeriose wat by die Enterprise-aanleg by Polokwane voorgekom het, en die listeriose wat by ʼn Rainbow Chickens-aanleg in die Vrystaat voorgekom het nie.

Meer as 180 mense is reeds sedert Junie verlede jaar in Suid-Afrika dood weens die omvattende voorkoms van listeria-bakterie in die land, en verskeie aanlegte waar vleis verwerk word, is reeds gesluit.

Annette Steyn, DA-LP, het te velde getrek teen die wyse waarop die regering die uitbreking hanteer, onder meer omdat dit besig is om die hele kouevleisbedryf in die land lam te lê – van die boere as leweransiers tot die vervoermaatskappye, die slagpale, die verwerkingsaanlegte en die verkooppunte.

“Dit is ʼn ramp. Niemand koop die produkte nie!” het Steyn uitgeroep.

Davies, ondersteun deur die minister van landbou, Senzeni Zokwana, het egter aangevoer dat die veiligheid van verbruikers voorrang moet geniet en dat niemand nóg weens listeriose moet sterf nie.

Davies het voorts gesê hy is baie bekommerd oor die uitwerking van die listeriose-uitbreking op Suid-Afrika se internasionale beeld as ʼn handelsvennoot.

Die uitvoer van Suid-Afrikaanse worsprodukte het sedert die begin van die listeriose-probleem met 46% afgeneem, en die uitvoere van Suid-Afrikaanse geprosesseerde vleis soos byvoorbeeld polonie met 38%.

Hoewel dit ʼn verlies van etlike honderde miljoene rand verteenwoordig, is dit net sowat 0,03% van Suid-Afrikaanse uitvoere. Davies se kommer is egter dat dit kan lei daartoe dat Suid-Afrikaanse produkte in geheel ʼn slegte naam kan kry – nie net vleisprodukte nie.

Davies het oudergewoonte onder die private sektor ingeklim en gesê maatskappye se teenstand teen minimumstandaarde in die geprosesseerde vleisbedryf het bygedra tot die huidige krisis.

Zokwana het bygevoeg dat sommige plaaslike munisipaliteite se gesondheidsinspekteurs laks is, wat die klimaat vir gesondheidsrisiko’s skep.

Amptenare van die departement van handel en nywerheid het gewaarsku dat die listeriose-gevaar nie tot vleis beperk is nie. Gerookte visprodukte is byvoorbeeld ook baie vatbaar.

Jeanette Hunter, adjunk direkteur-generaal van gesondheid, het gees tot dusver is 995 gevalle van listeriose landwyd aangemeld. Hiervan was 591 in Gauteng, 119 in die Wes-Kaap en 72 in KwaZulu-Natal.

Parlementslede van sowel die ANC as die opposisie het sterk menings oor die listeriose-uitbreking uitgespreek.

Uit ANC-geledere is die vrees uitgespreek dat die huidige probleem slegs die oortjies van die seekoei is gegewe dat die bevolking te min van die siekte weet om dit te herken. LPs het beken dat hulle bang is oor die omvang van die krisis, en vir hul gesondheid vrees.

Ghaleb Cachalia, DA-LP, het uitgewys dat tot 20 000 werkgeleenthede in die gedrang is terwyl die regering nie eens weet wat die oorsaak van die krisis is nie.

Sy kollega Patricia Kopane het gevra dat skuldiges, veral op munisipale vlak, verantwoordbaar gehou word, en dat navraag gedoen word na listeriose-syfers in Brasilië, van waar dit nie ʼn oordraagbare siekte is soos hier te lande nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Alida ·

SA se naam kan nie nog slegter word as wat reeds is nie veral die gesondheidsdept. Mense is dood van honger en die families word miljoene betaal as troosprys. Die vleis word in morsige fabrieke verwerk want daar is nie opgeleide inspekteurs nie. Nou wat nou wat is volgende!

Minister van gesondheid ·

Die minister van gesondheid moes al jare terug mense aangeraai het om nie geprosesseeerde vleis te eet nie want dis kankerbronne.

Christa J ·

Klink vir my na iets soos die 10 plae. Interessant genoeg: SA getref deur “plae” sedert ons vorige preZ amptelik aangekondig het dat SA bande met Israel verbreek.

marous ·

Handel en nywerheid se aanvoerder onder wie se wakende oog die SABS grond toe is.

J ·

My vraag is: Hoekom kry ons gereeld vrot vleis in alle slaghuise te koop. Ek sit tans met vrot vleis in my vrieskas wat ek nou gekoop het by n groot handelaar in Silverton wat aan Dros resturante vleis verskaf.

Antwoord ·

Ek stem saam met Zwokana dat munisipale gesondheidsinspekteurs nie hulle werk doen nie. Dit sluit egter ook in waar munisipaliteite self die sondebokke is byv. riool. Hoe kan jy dus optree teen jou werkgewer? Nee-wat, die hele spul bly ‘n sirkus. Hopelik is my hondepille nog listeriose-vry anders gaan ek vrek van die honger . . .

John ·

Wat mens nog meer verwonder oor listeriose is die feit dat die slimste mense op aarde juis hier gevestig is wat hierdie probleem moet kan oplos, inderwaarheid nooit eers voet in die deur laat kry het nie. Hoe het dit gebeur?

Anne Swart ·

Voedsel mpye moet hul eie gesondheidsbeamptes aanstel. Munisipaliteite ag die beroep as nie noodsaaklik nie! Alle voedselpersele, restaurante, slaghuise, ens. Is gesondheidstydbomme omdat voedsel regulasies en wette nie toegepas word nie. Hul kombuise/werkplekke/fasiliteite voldoen nie aan die gesondheidsvereistes nie. Vra maar gerus oud- inspekteurs, hulle kan boeke skryf oor hierdie saak!!

Amy ·

Gelukkig het ek nog nooit baie van kouevleis en polonie gehou nie.

Peet ·

By brandblussers word daar aangedui wanneer laas ‘n inspeksie gedoen is. Doen dieselfde met alle besighede wat handel dryf in voedsel.

Johann Heydenrych ·

Is dit minister nou besig om die hoender se laaste stertvere uit te pluk? Listeria is al vir 4 of 5 dekades bekend in die voedselbedryf en daarvoor word moet gereeld getoets word. Nie die SABS (wat slegs die SANS dokumente saam stel met hulp van die industrie en ander organisasies) of die NRCS (waghond vir DTI) het enige mag oor oop verpakkings, viennas ens nie. Daar is twee jaar gelede ‘n verpligte spesifikasie opgestel wat die NRCS sou toepas wat deur die industrie en verbruikersorganisasie/s afgeskiet was. Dit lyk vir my meer na swak beheer oor mense, toetse wat ie gedoen word nie asook higiene en sanitasie wat verwaarloos word. Die industrie sou self vir die monitering sorg. sorg. Ek dink ek weet nogal ‘n bietjie van dit ; is nou 46 in die tipe bedryf betrokke. (Nie polonie nie)

Etienne ·

Daar is meer wat wag om te gebeur. Baie in ons land misken Die Skepper en is dit outyds om oor Hom te praat. Vraag hoe ver gaan die land verwyderd raak van die Ware God van Israel?

bgj van der westhuizen ·

as die regering seker gemaak het dat almal die inspekteurs hulle werk doen en aan gestel het om dit te doen sal dit nie gebeur het nie maar vra nou ook die volgende vraag wie is die werkers en wie is in beheer van die werkers dat daar nie toe gesien was dat hulle die plek skoon maak nie onthou baie is nou die selde kleur as die werkers dit is maar gin wat van al die ander verwerk te kosse wat vekoop word

Griet ·

Stem saam, vermy vir mou die GEPROSSESEERDE produkte. Maar moenie die vars produk vermy nie. Ek werk (administratief) op ‘n varkplaas. Die prys van varkvleis het in die laaste 6 weke 75% gedaal, LET WEL: OP DIE PLAAS, NIE WAT ONS IN DIE WINKELS BETAAL NIE!!!! Die prys wat die boere nou kry is MINDER as R15/ kilo (vir ‘n karkas, voor enige verwerking) Daarna moet slagkostes aan die abbatoir betaal word (plus minus R2.50 /kilo plus BTW) Hierin lees ek ten minste 2 dinge: IEMAND is besig om die varkvleisprodusente LELIK in te loop. Dieselfde IEMAND is besig om die publiek LELIK in te loop!!!! Wanneer gaan ons as verbruikers opstaan en se GENOEG IS GENOEG!!!

Die ironie is, varkvleis, die VARS produk is 100% veilig, maar almal skeer die hele bedryf, met al die vertakkings, oor dieselfde kam.

Kan ek ‘n beroep doen dat die politici, wanneer hulle sulke uitsprake maak, beter oordeel aan die dag le? Hulle is besig om ‘n totale bedryf (die varkvleisprodusente) heeltemal te vernietig.

Maar dit is dalk te laat, meeste politici is te dom daarvoor en die res gee bloot nie om nie….

SELA

alecia ·

Ek wil net graag uitvind mag n mens spar se hoender eet , ek koop glad ni Rainbow hoender of gold nie.

Vidette ·

Ek sal se dit is verkeerde hanteering van voedsel,nl hoes in jou hande,nies,vat aan jou neus en mond en was glad nie hande nie.Als waaraan hande raak ,hetsy aan jou klere of kopvel dan is jou hande klaar besmet.
Veral aan jou neus en mond dra die grootste kieme en om voedsel wat verkoel moet word langer as ‘n halfuur buite yskas temperatuur te hou hetsy,kaas,yogurt ens.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.