Minister waarsku: Boere vervolg as hul bek-en-klouseer versprei

(Argieffoto)

Persone wat hulself skuldig maak aan die verdere verspreiding van bek-en-klouseer deur die diere te vervoer, kan op sivielregtelike en strafregtelike gronde vervolg word.

So het Thoko Didiza, die minister van landbou, Woensdag in ʼn verklaring gesê.

Dié hoogs aansteeklike kuddesiekte, wat nie skadelik vir mense is nie, het vroeër vandeesmaand weer in Limpopo uitgebreek.

Didiza het boere en vervoerders gewaarsku dat hulle moet seker maak dat enige voertuig wat vir die vervoer van diere met die siekte, wat beeste, skape, varke, bokke en ander gesplete hoefdiere raak, deeglik skoongemaak en ontsmet moet word voor diere in die voertuie gelaai word.

“Voertuie wat gebruik word om die diere na abattoirs te vervoer moet ook deeglik skoongemaak en ontsmet word voor die slagpale se perseel verlaat word,” lui die verklaring.

Didiza het ook gesê dat mense wat moontlik in kontak gekom het met diere wat die siekte dra, ook alle voorsorgmaatreëls moet tref om nie die siekte verder na gesplete hoefdiere te versprei nie.

Intussen het die Vryheidsfront Plus ook sy kommer uitgespreek oor die onsekerheid wat heers oor die omvang van die siekte. In ʼn verklaring sê die party dit is uiters kommerwekkend dat die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling nog nie in die portefeuljekomitee oor landbou kon sê wat die omvang van die jongste uitbreking van bek-en-klouseer in Limpopo is nie.

Maroela Media het vroeër berig ʼn plaas in die Molemole-distrik in Limpopo is reeds onder kwarantyn geplaas. Dié plaas is in ʼn voormalige bek-en-klouseervryesone geleë.

Intussen het Didiza ook ʼn tydelike verbod op veilings in Limpopo, Mpumalanga, Gauteng en Noordwes geplaas. TLU SA en die VF Plus het die besluit fel gekritiseer en meen dat dit net verdere ekonomiese skade berokken.

“Suid-Afrika se landbousektor gaan reeds gebuk onder die onsekerheid van grondonteiening sonder vergoeding, die droogte wat baie van die broodmandjie-provinsies reeds vir jare lank teister en nou ook die verbod op veilings in vier provinsies weens die uitbreek van bek-en-klouseer,” het Tammy Breedt, die VF Plus se LP en hoofwoordvoerder van landbou, in die verklaring gesê.

Die VF Plus het versoek dat die departement so gou moontlik gesonde gebiede binne hierdie provinsies verklaar waar veilings steeds kan plaasvind, om sodoende te verseker dat die boere en die ekonomieë van die provinsies nie finaal geknak word nie.

Sy voer aan dat die wesenlike tekort aan veeartse binne die departement van landbou ook die probleem vererger. “Dit kan as een van die redes vir vanjaar se tweede uitbreek van bek-en-klouseer beskou word.”

Die VF Plus meen die departement het nie daadwerklik opgetree nie, soos om meer veeartse aan te stel en die stelsel te verbeter,  maar eerder gefokus op die tekort aan inentings.

“Dit dui aan dat die departement nie ernstig is oor voedselsekuriteit of landbou as een van die land se hoof ekonomiese dryfvere nie. Indien die ANC-regering en die departement ernstig was oor die probleem, sou hy jare gelede seker gemaak het dat die land se rooi sones en grense beveilig word om te voorkom dat gesonde diere met besmette diere in aanraking kom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Willie ·

Kla eers julle speaker aan vir diere mishandeling dan praat jy weer…

jennefer ·

Vergadering vanmore bygewoon te Bela Bela. Dis nie die boere se skuld dat die siekte versprei nie, dis die regering se skuld. As ons gedwing word om alle uitvoer na die buiteland te staak, val die ekonomie inmekaar.
Kanaal 192 vanaand 18:30

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.