Minister weier glo om oor Grace te verduidelik

Maite Nkoana-Mashabane, die minister van internasionale betrekkinge en samewerking. Foto: Flickr/GovernmentZA

Maite Nkoana-Mashabane, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, het glo geweier om voor die parlementêre komitee oor internasionale betrekkinge te verskyn om te verduidelik hoe sy diplomatieke immuniteit aan Zimbabwe se presidentsvrou, Grace Mugabe, toegestaan het.

Die DA het Woensdag gesê Moses Masango, voorsitter van dié komitee, het op 23 Augustus aan die DA bevestig dat die minister beslis gedaag sal word om voor die komitee te verskyn. Dit is nadat die DA aan hom geskryf het om te versoek dat Nkoana-Mashabane dringend ingeroep word om haar besluit rakende Mugabe se diplomatieke immuniteit te verduidelik.

“Vandag het die DA egter ʼn brief van die minister ontvang waarin sy sê sy sal nie voor die komitee verskyn om haar besluit te verduidelik nie. Mashabane beweer aangesien die DA ʼn aansoek by die hooggeregshof ingedien het, is die saak nou sub judice,” het Stevens Mokgalapa, die DA se skaduminister van internasionale betrekkinge en samewerking, gesê.

“Dít is ʼn blatante misbruik van die sub judice-reël wat nie in hierdie geval van toepassing is nie.”

Die DA het gesê die rol van oorsig en aanspreeklikheid kan nie deur die sub judice-reël oorheers word nie en dit is net ʼn flou poging van die minister om aanspreeklikheid te ontduik. Mokgalapa het gesê die party sal weereens aan die komiteevoorsitter skryf om daarop aan te dring dat die minister onmiddellik ontbied word om voor die komitee te verskyn.

“Die DA glo minister Mashabane het ʼn onwettige en ongrondwetlike besluit geneem. Dit is hoekom ons die konstitusionele hof in hierdie verband genader het. Ons kan eenvoudig nie toelaat dat Suid-Afrika as ʼn speelterrein gebruik word vir internasionale misdadigers wat hulle nie aan ons wette steur nie,” het hy gesê.

“Elke persoon binne die grense van Suid-Afrika is gelyk voor die wet en moet die gevolge dra indien hulle ʼn onwettige oortreding begaan.”

Nkoana-Mashabane het diplomatieke immuniteit aan Mugabe verleen nadat sy na bewering ʼn Suid-Afrikaanse vrou verlede maand in ʼn hotel in Sandton aangerand het. Mugabe is gevolglik toegelaat om die land te verlaat sonder enige vervolging.

Die regering se besluit word egter in die hof betwis deur die jong model, Gabriella Engels, wat beweer Mugabe het haar aangerand, asook deur die burgerregte-organisasie AfriForum.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Eish ·

Skrikwekkende spul wat doen wat hul wil sonder verantwoordbaarheid.

Ou doepie ·

Ja wat ministers wat van nerens afkom nie en eintlik nerens is nie en om nou probeer in bes tree?? Gaan nie werk nie hoor djy want djy weti wavan djy prati onse mense moet nou beginne saamstaan en bid dis onse siening

Leahim ·

Die klomp skree net demokrasie waneer dit hulle pas alternatief glo hulle hulle kan doen wat hulle wil nou praat ek van die huidige regering en hulle Mini me DA

Protes ·

Ek kan nie wag vir die dag waneer die DA soveel moeite doen om die minister van polisie hof toe te vat om n spesiale eenheid aan te ste of om plaasmoorde n prioriteit misdaad te maak.

Coenraad ·

Protes jy gaan oud wees want jy gaan baie lank wag die DA het hulle eie premier in die weskaap uitverkoop en in die rug gesteek om stemme te wen .

Landi ·

Hierdie vrou is regtig clueless. Hoe op dees aarde beklee sy nog haar pos?!

Theresa ·

Nes duisende ander wat net so clueless is. Sy kan gedwing word om te verduidelik, want sy kan nie op haar eie net weier nie – dit gaan oor ‘n misdaad hier gepleeg – die DA of wie ookal moet net bly vasbyt totdat sy gedwing word tot verduideliking.

Koos1 ·

Nee julle, sy volg maar net die een wat haar aangestel het se voorbeeld!

SARIE VAN HEERDEN ·

Lyk my ons sal moet leer om die bunduwette te volg. As jou tjommie fouteer dan is dit reg. Ek dink die mat is al ‘n groot berg vol van alles wat daaronder ingevee word.

SjN ·

Ek dink sy weet nie eers wat sy geteken het nie, nog minder wat dit beteken.

Griki ·

Hoe verwag hulle dat ‘n persoon wat baie spaarsaam toebedeel is met intelligensie ‘n redelike antwoord moet verskaf oor ‘n onredelike besluit? Ek dink die naaste verduideliking wat hulle kan verwag is dat sy kan omdat sy die minister is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.