Minister wil hof toe oor aanstellings by SAUK

Mmamoloko “Nkhensani” Kubayi. Foto: Twitter

Mmaloko Kubayi, minister van kommunikasie, het Dinsdag aan LP’s gesê sy het haar departement opdrag gegee om teen ʼn hooggeregshofuitspraak te appelleer wat haar magte in terme van die SAUK se raadslede en aanstelling van topbestuurslede beperk.

Dié uitspraak is in die hooggeregshof in Pretoria gelewer op dieselfde dag wat pres. Jacob Zuma vir Ayanda Dlodlo met Kubayi vervang het.

Die uitspraak sit die omstandighede uiteen waaronder raadslede van hul ampte onthef mag word en gee ook die raad volmag om drie topbestuurders, naamlik die hoof- uitvoerende beampte, die hoofbedryfsbeampte en die hoof- finansiële beampte, aan te stel sónder ministeriële goedkeuring.

Kubayi het aan LP’s gesê dat nie alle dele van die uitspraak duidelik was nie. “As jy na die uitspraak kyk, is daar aspekte waaroor die regter besluit het sonder om redes daarvoor te verskaf,” het Kubayi gesê.

Sy voer ook aan die uitspraak is teenstrydig met die Wet op Arbeidsverhoudinge. Sy stem saam dat die raad sy uitvoerende beamptes moet aanstel, maar meen hulle moet ten minste met die minister oorleg pleeg.

Kubayi wil glo hê die beamptes wat aangestel word, moet professioneel en bo verdenking wees. “Ons wil nie ʼn situasie hê waar daar vrae ontstaan rakende die mense wat aangestel is nie.”

Sy voer verder aan dat die uitspraak breër nagevolge vir die staat kan inhou. “Die kwessie waar ek dink gevolge kan wyer uitkring as net vir die SAUK, is by ander staatsinstansies waar die rol van die minister in die aanstelling van bestuur verwyder word.”

Die hofaansoek is aanvanklik deur die Save Our SABC-koalisie ingedien. Lede het aangevoer dat ministeriële inmenging die onafhanklikheid van die SAUK-raad in gedrang kan bring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johann ·

Ja shure tannie Zuptopia maikie! Jy en jou handpop hoof Zuma is geworry julle kan nie meer doen wat JULLE wil.doen nie! Julle toegang tot die ANC se propaganda masjien die SAUK word nou beperk?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.