Minister wil ou groen vuurwapenlisensies ongeldig laat verklaar

Bheki Cele (Foto: Kopano Tlape/GCIS)

Bheki Cele, minister van polisie, beoog om alle lisensies wat kragtens die ou Vuurwapenwet uitgereik is, bekend as die ou groen lisensie, ongeldig te laat verklaar.

Organisasies moedig vuurwapeneienaars met die ou groen lisensies nou aan om so gou as moontlik vir ʼn nuwe vuurwapenlisensie aansoek te doen.

Dít volg nadat die kantoor van die staatsprokureur die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringsvereniging (SA Jagters) Dinsdag namens die polisie in ʼn brief in kennis gestel het dat die minister van voorneme is om ʼn hofinterdik van Junie 2009, waarvolgens die ou groen vuurwapenlisensies as geldig beskou is, te herroep.

Luidens die brief, wat Maroela Media onder oë gehad het, het vuurwapeneienaars met die ou groen lisensies volgens Cele meer as genoeg tyd gehad om hul lisensies kragtens die nuwe Vuurwapenwet te hernu aangesien daar oor die afgelope tien jaar drie amnestieperiodes was, waarvan die derde tot Januarie 2021 verleng is.

Die kantoor van die staatsprokureur versoek in die brief dat SA Jagters sy hoofaansoek van 2009 onttrek sodat die interdik herroep kan word. Sou die organisasie instem, sal Cele SA Jagters nie aanspreeklik hou vir die koste nie.

Volgens SA Jagters was hy die stap deur Cele te wagte.

Volgens SA Jagters het sy raad dus reeds sy lede vooraf gemaan om solank bevoegdheid te bekom om aansoek te doen vir nuwe lisensies om die ou groen lisensies te vervang.

“Daar is uiteraard heelparty lede van die publiek wat steeds staatmaak op die ou groen vuurwapenlisensies en wat in presies dieselfde omstandighede as lede van SA Jagters sal wees indien die staat wel die interdik herroep. Die raad van SA Jagters het reeds in gesprek getree met sy regspan om te besluit hoe om hierdie saak vorentoe te bestuur.”

Luidens inligting beskikbaar is daar 670 000 ou groen lisensies wat moontlik nog geldig kan wees.

SA Jagters is van mening dat dit dus nie haalbaar is om die huidige amnestie te gebruik om wapens in te handig en vir nuwe lisensies aansoek te doen nie aangesien dit sal beteken dat daar in die sowat 100 werksdae wat oor is van die amnestietydperk minstens 6 700 wapens per dag by die polisie ingehandig sal moet word.

“Dít is bo en behalwe die naastenby 3 000 wapens per dag waarvan die wit lisensies verval het wat ook in hierdie tydperk ingehandig moet word. ’n Ander werkbare oplossing sal gevind moet word,” het SA Jagters gesê.

Die burgerregteorganisasie AfriForum raai op sy beurt vuurwapeneienaars aan om van die huidige amnestietydperk gebruik te maak.

“Indien die tussentydse hofbevel tersyde gestel word, sal die houer van ’n groen lisensie geag word om in onwettige besit van ’n vuurwapen te wees, aangesien die bevel nie meer daar sal wees om die eienaar te beskerm nie. Die eienaar sal dus nie ’n geldige rede hê om in besit van die wapen te wees nie,” het Marnus Kamfer, AfriForum se regs-en-risikobestuurder vir gemeenskapsveiligheid, gesê.

“SA Jagters sal na alle waarskynlikheid met die staatsprokureur vergader om die aangeleentheid te bespreek en om tot ’n moontlike vergelyk te kom. Dit sal egter raadsaam wees vir houers van groen lisensies om hul opsies te oorweeg, soos om gebruik te maak van die huidige amnestieperiode.”

Ingevolge die Wet op Beheer van Vuurwapens (60 van 2000) kan ’n persoon wat skuldig bevind word aan die onwettige besit van ’n vuurwapen tot 15 jaar tronkstraf opgelê word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

33 Kommentare

jongste oudste gewildste
katerinadiekat

Enigiets om blankes te ontwapen en nog meer weerloos te laat. Afriforum moet nou regtig begin probeer om vir ons Afrikaners vlugteling status n westerse lande te verkry. Dis onmoontlik om n toekoms in hierdie land te he. Ons sal moet wegkom.

Blondie76

Nog ‘n slim plan om mense te ontwapen. Dit sal nooit ophou nie, om elke hoek en draai probeer die regering om mense te ontneem van alles, om ‘n houvas te hê op alles wat ‘n mens doen en het. Die blok raak kleiner en die mens word in ‘n hoek gedruk. Dis gevaarlik om die mens wat al so lank onderdruk is in ‘n hoek te druk, hoop regtig julle is reg vir die dag wat die mens opstaan teen dit wat julle doen. Daardie dag is nie meer ver nie want die mens is verby keelvol vir die… Lees meer »

Scalla

Skenk eerder aandag aan die onwettige vuurwapens

Miskruier

Die polisie is nie in staat om te verhoed dat jy n slagoffer van misdaad word nie, hul taak is net om die skuldige aan te keer. Selfbeskerming is noodsaaklik, daarvoor benodig jy n vuurwapen. N mens is baie veiliger in n buurt waar die meerderheid n vuurwapen het, selfs al het jyself nie een nie.

Persheks

Stuur jou eie mense wat in die mag is vir opleiding, want hulle weet nie eers hoe om ‘n wapen te gebruik nie! Ons het lankal wit kaarte ou groot hoed lankal al