Volgens die koerant het Lindiwe Sisulu, minister van staatsdiens en administrasie, vir Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging, daarvan beskuldig dat sy lieg oor die aantal vlugte wat Sisulu tussen September 2009 en Februarie 2012 onderneem het. Volgens briewe en dokumente het Sisulu nagenoeg R11 miljoen se huurvlugte op ʼn Gulfstream-straler onderneem terwyl sy die minister van verdediging was. Mapisa-Nqakula het in antwoord op ʼn parlementêre vraag in Oktober 2012 gesê Sisulu het 203 vlugte op die straler onderneem. Sisulu hou egter volg dat dit net 35 vlugte was. Sisulu het in ʼn onderhoud met die Sunday Times gesê sy wil haar naam in ere herstel en bevestig dat sy regsaksie teen haar kollega oorweeg. “Ek wil hê dat dit van my rekord geskrap moet word met die nodige verskoning en die noodsaaklike remedies. Ek sal dit nie duld nie. Ek het baie hard gewerk vir hierdie regering en my reputasie gaan nie geoffer word vir iets dom soos dit nie.”
Die koerant berig hy is in besit van nege briewe wat tussen die kantore van Sisulu, Napisa-Nqakula en adjunkminister Kgalema Motlanthe gestuur is. In ʼn brief op 9 November 2012 skryf Sisulu aan Mapisa-Nqakula: “Die antwoord wat jy gegee het, was verkeerd en ek is van mening dit was met opset.” Sy het Mapisa-Nqakula versoek om die antwoord terug te trek. Mapisa-Nqakula het intussen by monde van haar woordvoerder, Joy Peter, gesê sy gaan nie kommentaar lewer op Sisulu se bewerings nie aangesien sy die saak met Motlanthe se kantoor hanteer.
So begin die krake in die ANC-skip se romp al groter word.