Ministers, hul adjunkte ingehuldig

Cyril Ramaphosa word as die land se adjunkpresident ingehuldig. Foto: @ProudlySA

Cyril Ramaphosa word as die land se adjunkpresident ingehuldig. Foto: @ProudlySA

Hoofregter Mogoeng Mogoeng en sy adjunk Dikgang Moseneke het Maandag die nuwe ministers en hul adjunkte by die presidensiële gastehuis in Pretoria ingehuldig.

Ministers het die eed afgelê deur te beloof dat hulle die grondwet en ander wette van die land sal gehoorsaam, eerbiedig en onderhou. Hulle het verder beloof om ministers met eer en waardigheid te wees en nie direk of indirek enige geheime sake wat aan hulle toevertrou is te verklap nie.

Die eed is afgesluit met “so help my God”. Maite Nkoana-Mashabane, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, het “so help my God” in Pedi gesê terwyl Gugile Nkwinti, minister van landelike ontwikkeling, dit in Xhosa gesê het. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, het die eed op sy beurt in Zoeloe geëindig. President Jacob Zuma het die ministers se name uitgelees voor hulle ingehuldig is.

Die skare het onderlangs gegiggel toe van die ministers se geboortename uitgelees is. Dit was veral Knowledge Malusi Gigaba, minister van binnelandse sake, en Fikile April Mbalula, minister van sport, se name wat aandag getrek het. Die grootste giggel het egter gekom toe Thulas Waltermade Nxesi, minister van openbare werke, se naam uitgelees is.

Cyril Ramaphosa is vroeër as die land se adjunkpresident ingehuldig. Pres. Zuma het gister sy nuwe kabinet van 35 ministers en 36 adjunkministers aangekondig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.