Ministers kan nie oor eie wantroue-mosie stem – DA

Die DA-leier John Steenhuisen. (Foto: Courtney Africa/ANA)

ʼn Mosie van wantroue in ʼn ganse kabinet is geen ligtelike saak nie en dit is daarom geweldig belangrik dat die stemproses vry en akkuraat is.

John Steenhuisen, leier van die DA, sê ʼn botsing van belange bestaan indien kabinetsministers Woensdag toegelaat word om oor ʼn mosie van wantroue waarby hulle betrokke is, te stem. “Hulle het duidelik ʼn regstreekse en beduidende belang in die uitslag van die stemmery op grond van hul posisies … asook al die materiële voordele van die pos,” sê hy.

Die DA sê die ministers se deelname aan die stemming sal nie volgens die norme van die Grondwet wees nie en gaan die beginsel oor die skeiding van magte tussen die uitvoerende en wetgewende gesag skend.

Die amptelike opposisie het in Februarie ʼn mosie van wantroue teen die hele kabinet ingedien weens die “verstommende getal regeringsmislukkings, optrede van beweerde korrupsie en wanbestuur sedert Mei 2019”. Die mosie is egter nie teen pres. Cyril Ramaphosa ingedien nie.

Daar word Woensdag oor die mosie gestem.

Steenhuisen het speaker Nosiviwe Mapisa-Nqakula nou gevra dat ministers verskoon word van deelname aan ʼn stemmery oor die mosie. Die DA voer aan, gegewe die gevolge wat die stemming kan inhou, is die vereiste dat LP’s op ʼn aanlyn platform aangemeld moet wees sodat die partysweep hul stemme kan tel, onvoldoende. Dit waarborg nie dat die lede inderdaad teenwoordig is wanneer daar gestem word nie.

Die DA vra die speaker nou dat elke naam uitgeroep word, waarop elke lid dan “ja” of “nee” moet antwoord wanneer daar oor die mosie gestem moet word en hierdie antwoord moet dan opgeneem word.

Steenhuisen sê dit sal verseker dat elke lid self teenwoordig is wanneer daar gestem word.

Die stemtellers moet die naamlys afteken en aan die voorsittende beampte oorhandig en nadat die stemme en akkuraatheid vasgestel is, moet die uitslag dadelik bekend gemaak word.

“Sou die akkuraatheid van die verklaring betwis word, kan die voorsittende beampte die vraag weer stel en weer ʼn opname van teenwoordiges doen,” sê Steenhuisen.

Dié telstelsel word in talle wêrelddele gebruik, maar ook in sommige provinsiale wetgewers op tuisbodem – soos Gauteng – wanneer daar oor sake van groot belang gestem moet word.

Die speaker het tot Maandag om 17:00 om terugvoer oor die DA se versoeke te gee.

Steenhuisen sê die afdanking van ʼn hele kabinet is ʼn geweldig ontwrigtende stap, maar die vlak van verwoesting aan die ekonomie wat daarbenewens veroorsaak is deur die “onbevoegdheid, traak-my-nie-agtigheid en korrupsie”, beteken daar is nou geen ander uitweg nie.

Hy sê as Ramaphosa nie sy kabinet die trekpas wil gee of aanspreeklik vir vertoning wil hou nie, sal die DA dit doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Pietertjie ·

Ek dag “it goes without saying” dat mens nie oor jou eie veroordeling kan oordeel nie. Wat ‘n narre-spul!

Althes ·

Dankie DA ek bid dat Ramaphoza se kabinet heeltemal ontbind. Ons is moeg vir ministers se prestasie wat ver onder bevredigend is, rasbevoordeelde.ministers en ministers wat nie in die breë belang dink van ALLE Suid Afrikaners nie.
Ons land het dringend ñ stelsel nodig wat WERK.

Magda ·

Hoop hulle slaag DAARIN om van Di korrupte ANC ontslae te raak. STERKTE DA

Blikkies ·

Ek het al heelwat grappies oor die toppunt van onnoselgeid gehoor, maar hier is ‘n nuwe een, uiters lagwekkend, veral deur mense in sulke hoë posisies van gesag.

Willempie ·

Hoekom is Cyril se naam nie op die lys nie ? Hy is deel van die korrupte regering….. al van Zuma se dae.

Samuel ·

Ak wat mens in goeie Afrikaans kan sê, is “good luck, DA “.

DieKriek ·

Wel, hier stem ek vir die DA. Maar gaan hulle hond haaraf maak?

Jacques ·

Mense wat nog die moeite doen om aan die algemene verkiesings deel te neem om hierdie sirkus aan die gang te hou, moet ernstig oorweeg om hulle koppe te laat lees.

Hierdie demokrasie is ‘n parodie, ‘n karikature wat lankal sy vermaaklikheidswaarde verloor het. Deur aktief daaraan deel te neem, adverteer jy jou gebrek aan begrip vir die ware toedrag van sake.

Dis ‘n verleentheid, en dit maak dat mens liewer nie jou nasionaliteit aan buitelanders wil openbaar maak nie uit vrees dat mense dmv assosiasie jou met hierdie wanfunksionaliteit sal identifiseer.

Stel jou voor jy moet bg absurditeit aan ‘n buitelander probeer verduidelik en regverdig……..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.