‘Ministers kry druippunte ná evaluasie’

Pres. Jacob Zuma tydens ‘n antwoordsessie in die parlement (2 November 2017). Foto: Elmond Jiyane/GCIS

Die Vryheidsfront Plus het in sy evaluering van die kabinet besluit om al wat ʼn minister is ʼn F-druippunt te gee vir 2017.

“Die rede is dat die afsonderlike ministers as lede van die kabinet, kollektief verantwoordelikheid moet neem vir hoe die land regeer is en nie net die skouers kan optrek nie. Die kabinet, as uitvoerende gesag, kry nie net ʼn druippunt nie, maar word deur die VF Plus afgegradeer tot rommelstatus,” het Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, gesê.

Groenewald meen dié jaar is gekenmerk deur die onthullings van staatskaping deur die Guptas en die ontwykende antwoorde wat deur pres. Jacob Zuma tydens vraesessies gegee is. “Cyril Ramaphosa, adjunkpresident, as hoof van regeringsake in die Nasionale Vergadering, het geen stappe gedoen of aankondigings gemaak wat Zuma meer verantwoordbaar gemaak het aan die wetgewende gesag nie.”

Volgens Groenewald was die verwagting dat die kabinet, as uitvoerende gesag, kollektief sou optree en Zuma sou aanspreek om respek te toon aan die wetgewende gesag. Niks is egter gedoen nie. Hierdeur het die ministers toegelaat dat een van die steunpilare van demokrasie, naamlik die skeiding van magte, ondermyn word en hulle is daarom net so skuldig soos Zuma.

“Dieselfde geld die onthullings van staatskaping. Die kabinet het kennis geneem hiervan, maar niks gedoen om behoorlik op te tree en stappe aan te kondig oor hoe dit opgelos gaan word nie. Die ergste was dat die minister van staatsveiligheid gepoog het om die getuieleier in een van die ondersoeke na staatskaping om te koop om nie daarmee voort te gaan nie. Lede van die kabinet moes ʼn gesamentlike verklaring uitgereik het om hulle te distansieer van die minister van staatsveiligheid, wat hulle nie gedoen het nie.”

Die VF Plus meen ministers moet besef dat hulle as lede van die uitvoerende gesag nie die skouers kan optrek en sê “dit is nie my departement nie en daarom is ek nie verantwoordelik daarvoor nie”. Elke minister het ʼn plig teenoor die ander en teenoor die mense van Suid-Afrika en hulle het totaal daarin gefaal, het Groenewald gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Johann Marx ·

En steeds is NIEMAND nog vervolg nie…. Die tandlose waghonde blaf maar net heeltyd…

pieter cronje ·

nee die minister kry n groot bonus , met julle belasting geld , dank Vader ek betaal lankal nie meer belasting nie , die een groot voordeel wat die feit dat ek nie werk kan kry met my wit vel nie , veroorsaak , my eie besigheid , my eie diskresie oor hoeveel belasting ek betaal , en ek betaal zero belasting :) lekker man , lekker

snert ·

ek is ook te oud en te wit om met my kwalifikasies en ondervinding werk te kry. stuur elke dag talle cv’s en aansoeke. in twee jaar nie eers een onderhoud nie. dis die euwel van werwingsagente. maar die voordeel is, geen werk, geen belasting wat hulke kan verorber nie.

Die Skim ·

Hy verstaan nie simbole nie….. Kan sy prestasie in getalle vir hom gegee word asb

Foetie ·

Darem is dit nie dubbel syfer getalle nie want die verstaan hy ook nie.

Chris Ws ·

En die ergste van als is die anc ‘s lag net dit af!Maak nie saak HOE verrot die land se ministers is nie,niks kom van wat daar van hulle of vir hulle gese word nie want die ”gravy train” van die Guptas loop steeds EN zuma beskerm homself ,die Guptas en al wat ‘n sogenaamde ”minister” is!En die mense wat die swaarste onder die’ skermunkels ly bly vir hulle stem uit absolute onnoselheid!

Eish ·

Dit is waar, dit is soos water op n eend se rug vir die ANC. Dis die gevolg van sistemiese verroting. Die nuwe norm.

Aitoggie ·

Hulle gaan hul beslis nie daaraan steur nie, al het hulle n “z” gekry. Vir hulle beteken dit niks nie. Hulle weet nie daarvan om na beter te streef nie.

marous ·

Nou gaan hulle almal universiteit toe , vir elf en dertig jaar ….met volle betaling en voordele .

zoom zoom ·

Daar is nie enige DA minister wat veel beter verdien nie. Ook maar net daar vir die gravy.

Cherokee ·

Ek dink, en ek het dit voorheen gesê, dat Zuma en die Guptas meer punte en beter simbole verdien as wat aan hulle toegeken word. Terwyl ander kriminele karre en lorries skaak het hulle ‘n sindikaat gevorm wat ‘n land skaak met sowat 60 miljoen passasiers! Dìt is nie kleingeld nie! Ek dink nie selfs die mafia het dit ooit gedoen nie. Wat egter hul punte laat daal het is omdat hulle die land toe nie langs die pad nie maar op ‘n rommelhoop geparkeer het.

Realis ·

Die VF gee punte! Asof hulle kan? Regtig dit is so absurd. Die mentaliteit van die mier en die olifant. Wie steur hom nou eintlik daaraan?

Cherokee ·

Jy klink so DA’erig. Sou seker handegeklap het as dit deur die DA gedoen was.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.