Ministers se koppe moet rol oor Julie-oproer

Mense stap in Julie verlede jaar verby ‘n uitgebrande motorwrak in die Durban-omgewingin KwaZulu-Natal. ‘n Verdoemende verslag oor die oproer is pas bekend gestel. (Foto: Rajesh Jantilal/AFP)

Die minister van polisie, Bheki Cele, en sy destydse eweknie by staatsveiligheid, Ayanda Dlodlo, se koppe moet rol oor die grootskaalse oproer wat groot dele van veral KwaZulu-Natal en Gauteng in Julie 2021 in chaos gedompel het.

Die verslag van ʼn paneel kenners wat pres. Cyril Ramaphosa aangewys het om te bepaal of die reaksie van die land se veiligheidsdienste tydig, gepas en voldoende was, is Maandag bekend gestel en bevat verdoemende bevindings oor die regering se gebrekkige reaksie daarop.

Die paneel bevind onder meer faksiegevegte in die ANC het ʼn ernstige bron van onbestendigheid in die land geword.

DA-leier John Steenhuisen gaan selfs verder en sê die ANC se interne onmin het die “leidende rol” in die oproer gespeel.

“Die ANC is ʼn ernstige gevaar vir nasionale veiligheid. Die kwessie moet as ʼn saak van dringendheid gepak word,” sê Steenhuisen. Hy sê ook Ramaphosa het versuim om ontslae te raak van mense in sy party wat net hul eie belange dien.

Die paneel het ook bevind die polisie en intelligensiedienste se reaksie was skokkend stadig, onvanpas en onvoldoende en dat hulle versuim het om hul fundamentele rol – om lewens en eiendom te beskerm – te vervul.

“Die onvermoë om die mandaat uit te voer, is die onvermydelike gevolg van die ANC se dekades lange beleid van kaderontplooiing, waarteen die DA nou al twee dekades lank waarsku,” sê Steenhuisen.

Die minister van polisie en die polisiekommissaris het boonop onafhanklik van mekaar besluite oor die reaksie op die oproer geneem en die DA sê hulle, saam met ander in Ramaphosa se kabinet, moet aanspreeklik gehou word vir die oproer.

Luidens die verslag is daar talle redes waarom die polisie in sy taak misluk het.

Volgens die DA is dit egter Ramaphosa se vasbeslotenheid om sy party se belange bo dié van die land te stel, asook sy verbintenis tot kaderontplooiing, wat Suid-Afrika duur te staan gekom het.

Die DA se eerste aanbeveling is dat “koppe moet rol”. Die party meen Cele en Dlodlo, deesdae minister van staatsdiens en administrasie, moet dadelik uit die kabinet geskop word. “In ʼn funksionele demokrasie sou hulle lankal afgedank gewees het. Pleks daarvan het pres. Ramaphosa vir Cele ondanks die verlamming in die polisie behou en vir Dlodlo herontplooi …”

Ewe skokkend het hy die destydse minister van verdediging, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, ook herontplooi – in haar geval as speaker van die parlement. Steenhuisen sê in ʼn ander werkende demokrasie sou die hele kabinet uit skaamte en ordentlikheid bedank het.

SA is ‘kruitvat’

Brett Herron, sekretaris-generaal van GOOD, sê die verslag bevestig die “ooglopende”, maar is “teleurstellend dun oor aanspreeklikheid”. Die paneel bekragtig ook dat mense desperaat en keelvol vir die regering is.

“Suid-Afrika is ʼn kruitvat. Te veel Suid-Afrikaners het maatskaplik en ekonomies vervreem geword tot die punt wat hulle voel hulle het niks meer om te verloor nie,” sê Herron.

Volgens GOOD is die verslag die “laaste wekroep om dinge reg te stel waaroor ons aanhou praat en geen vordering mee maak nie”.

Dit sluit in die wegkalwing van die staat en sy veiligheidsinstelling, die traak-my-nie-agtige gedrag van diegene wat op die hoogste regeringsvlak aangestel is, maar nie hul werk doen nie, die skade wat aan mense en die land aangerig word deur die ANC se versuim om sy interne faksiegevegte op te los, en die absolute versuim van die land om iets omtrent armoede, ongelykheid en werkloosheid te doen.

“Die verslag skreeu ʼn waarskuwing uit. Staak die nimmereindigende beloftes en begin jou land regmaak ten bate van die kwesbaarstes,” sê Herron.

Volgens die DA verskaf die verslag genoeg bewyse vir waarom ʼn onafhanklike, geloofwaardige en aanspreeklike staatsveiligheidsagentskap nodig is. Die DA beveel aan dat dié departement onder die beheer van die presidensie weggeneem en hervorm word.

Steenhuisen sê die party gaan alles moontlik doen om te verseker dat diegene wat Suid-Afrika in die steek gelaat het, wel verantwoordelik gehou word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

37 Kommentare

jongste oudste gewildste
twaalfboor

Ekt 36 jaar diens in die polisie. In die ou dae het dit 3 ure gevat om te mobiliseer, nie 3 weke nie.

Strandloper

Die spreekwoordelike hoender sonder n kop…

marius

Daar sal dadels van kom .

Hannes

‘When a clown moves into a palace, he doesn’t become a king. The palace becomes a circus.’

Corne123

Cele se kop moet sommer eerste rol