Ministers sê oor gyselaarsdrama: ‘Dit was nie ’n bloedbad’

Mondli Gungubele, minister in die presidensie. (Foto: Siyabulela Duda/GCIS)

Die twee kabinetsministers en adjunkminister wat Donderdagaand deur ʼn groep ongelukkige weermagveterane gyselaar gehou is, het in geen stadium vir hul lewe gevrees nie.

Dit was ook nie nodig vir hul lyfwagte om in die bresse te tree en geweld toe te pas nie.

“Ons het nie bedreig gevoel nie. Ons het wel ongemaklik gevoel dat ons teen ons wil daar gehou word,” het Thandi Modise, die minister van verdediging, Vrydag gedurende ’n mediakonferensie gesê.

Modise en haar adjunk, Thabang Makwetla, is gisteraand ure lank saam met die minister in die presidensie, Mondli Gungubele, by die St. George Hotel in Irene in Pretoria aangehou waar hulle met lede van die organisasie Liberation Struggle War Veterans (LSWV) vergader het.

Die kabinetslede is deur adjunkpresident David Mabuza aangesê om die vergadering namens hom by te woon. Die groep weermagveterane het egter daarop aangedring dat Mabuza ook die vergadering bywoon. Die gesprekke het op ’n dooie punt uitgeloop en die ministers wou verdaag.

Dit is toe dat die weermagveterane die deure van die lokaal sluit en die kabinetslede van 19:00 tot 22:00 gyselaar hou. Die polisie se taakmag het eindelik ingegryp en die kabinetslede vrygelaat.

“Dit was nie ’n bloedbad nie. Dit was ’n groep mense wat gevoel het dat ons nie hulle punt insien nie. Ons het volgehou dat ons wil probeer hul punt insien,” het Modise vanmiddag aan verslaggewers verduidelik.

Gungubele het dit beaam.

“Ons was daar teen ons wil, maar geen geweld is gebruik nie… Ons was oënskynlik veilig. Maar ons was maar versigtig – dis al wat ek kan sê.”

Altesame 56 mense is in hegtenis geneem. (Skermgreep: eNCA/DSTv 403)

Hy het bygevoeg dat dit in geen stadium nodig was vir die kabinetslede se lyfwagte om in te gryp en geweld toe te pas nie. “Hulle het die situasie bekyk en besluit dat dit beter is om net kalm te bly.”

Volgens Modise is hulle regte wel geskend. “Elke Suid Afrikaner het die reg om te gaan waar hy wil gaan.”

Verslaggewers het vanmiddag aan die ministers gevra of die voorval ’n verleentheid was en tekenend is van ’n mislukte intelligensiediens.

“Dit is nie aanvaarbaar nie,” het Gungubele oor die voorval toegegee. Die minister in die presidensie het voorts gesê die kabinetslede het geen vermoede gehad dat die vergadering só sou uitdraai nie.

“As ons skaam moet voel omdat ons hulle vertrou het, is dit een van die gevolge waarmee ons kan saamleef. Ons sal wel vorentoe waaksamer wees.”

Modise het op haar beurt gesê die voorval dui daarop dat ministers nog hul medelandsburgers vertrou en graag met hulle in gesprek tree oor kwessies.

Modise voel ook nie dat Suid-Afrika ’n mislukte staat is nie, maar net getoets word. “Dit is goed om getoets te word as jy ʼn demokratiese staat is.”

Modise het voorts gesê die regering sal voortaan versigtiger wees en verseker dat só ’n gyselaarsdrama hom nie gou weer afspeel nie. Sy dink wel nie dis nodig dat ministers “vier of vyf” lyfwagte by vergaderings moet hê nie.

Maroela Media het vroeër vandag berig altesame 56 mense, onder wie sewe vroue, is in hegtenis geneem en sal na verwagting tereg staan op minstens drie aanklagte van ontvoering. Drie van die verdagtes is vir mediese ondersoeke geneem nadat hulle van pyn gekla het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Hennie ·

Tandi, jou dietemishandelaar en misdadiger, hoe dink jy het jou die sê op jou plaas gevoel toe JY nie vir hulle kos gegee het nie? En dit was nie twee ure gewees nie! Jy verdien om ongemaklik te voel tot die einde toe!

Werner ·

Met ander woorde dan was dit ook nie regtig n gyselaarsdrama nie.Die land sou ook nie skade gely het as julle nie veilig daaruit gekom het nie.

Misky ·

Waarom het julle 4 of 5 lyfwagte by vergaderings nodig Thandi? Voel julle nie veilig in die land nie?

En ek wonder nogal oor die verdagtes se pyne…. watse ‘pyne’ sal hulle nou ontwikkel as hulle in moeilikheid is en selle toe moet gaan. Waar leer of sien hulle dat dit jou uit die tronk hou????

Pablo ·

Die weermag is nou net so korrupt soos die res van die ANC. Die land is so na aan die afgrond, maar niemand besef dit nie
Inteendeel maak dit net kinders

Spyker ·

Dan was fit mos nie nodig vir die taakmag om op te tree nie. Jou veiligheidswagte het mos hulle werk gedoen!

Nie Verbaas ·

So die skuldiges gaan seker ook niks oorkom nie want die ANC korruptes het mos stemme nodig.

Shakespeare ·

Hierdie ding is gestage. Tipiese verradelike slang berig om die SAP te laat goed lyk en die Ministers laat uitstaan as “warriors”. Hulle, veral Modise kan nie eers gewete in hul eie taal spel nie….as daar so woord in hulle taal bestaan.

Blomme ·

Ek stem Shakepeare… Hierdie klink baoe verdag. Dalk iets te doen met iets probeer bereik hier knap voor die verkiesing!

Henri ·

Klink vir my soos ‘n publisiteitsfoefie en dan ‘n mors van die polisie se tyd. Wanneer gewone mense se lewens ernstig bedreig word, waar is die polisie dan?

KB ·

Hulle sal selfs ‘n gyselaarsdrama “fake” vir ‘n bietjie gratis advertensie en sentiment. Hoe kinderagtig wil hulle nou raak?

Francois ·

Soveel wagte? O ja, ek het vergeet – daai wagte dra seker nie vuurwapens nie! Die regering is mos anti-vuurwapens…

Dup ·

Die Minister het lyfwagte nodig om haar teen haar eie mense te beskerm.Dit gaan maar so in sommige Afrika lande.

AW ·

Dan waar om was die polisie daar ?

Dan waarom die Taakmag gebruik?

Dan waarom hulke arresteer ?

Maak net nie sin nie !!

Kokerboom ·

Hoekom is dit nuuswaardig? Dit het NIKS met my te doen!

Johan ·

Ag ou suur kokerboom,gun ons hier en dwarsdeur die wêreld die plesier om te lag!

Elinette ·

OK, so waarom het hulle veiligheidswagte as dié nie die nodige kon doen om die oud-terroriste op hul plek te sit en daardeur hulle (die veiligheidswagte) se mandaat uit te voer nie????

Catherina ·

Het hulle nie gewapende lyfwagte nie!!?? Nou word weermag ook ingeroep. Funny!!!

Dries ·

Dink Modise sy het swaerder gekry as die diere op haar plaas

Chris dupreez ·

Ek wonder waar kry die anc geld om die plek te huur. Klink vir my verdag

annie ·

Modise onderspeel die situasie. Waaroor presies was die oud-gestapo van Zuma ongelukkig of het hulle haar probeer oorhaal om ‘n staatsgreep te ondersteun? Toe bel sy vir Cyril en hy stel sy besoek aan Soweto af… Maar dis niks. All for love and money. Die biddiens was nie verniet ge’stage’ deur Carl Kat & Ace-terman van asbesfaam nie. Iets moes meegee en dit wou nie. Hoekom kon Zuma wat onder huisarres is vir ‘n volle uur die SABC as mondstuk gebruik vir sy hertoetrede tot die troonkamer?

Jacobus ·

Die grap word groter – behalwe dat dit nie snaaks is nie. Hier word miljoene aan salaris getrek ………

Blomme ·

Ag kom nou Modise… Wie stel nog belang in wat jy probeer sê. SA is so nie ń mislukte land nie maar moord het alledaags geword. Korrupsie is die regering se nuwe tydverdryf, die gereg word as ń sirkus uitgebeeld met narre soos Zuma in dit. Dieremishandeling word onder die tafel ingevee en jy stap vry daarvan weg en…en…en! So verduidelik vir my die betekenis van misluk as al die bogenoemde en vele meer net ń toetsing is! Siek, selfbehepte politicians!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.