Ministers sê oor jongste afsonderingsregulasies

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma. (Foto: Siya Duda/ GCIS)

Geen godsdienstige byeenkomste sal vir die volgende twee weke toegelaat word nie hoewel reis tussen provinsies in dié stadium wel toegelaat word aangesien talle Suid-Afrikaners nie oor die feesgety tuis is nie.

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, Bheki Cele, minister van polisie, en Roland Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, het Dinsdagoggend meer duidelikheid oor die jongste afsonderingsregulasies tydens ’n virtuele mediakonferensie gegee.

Maskers

Die ministers het benadruk dat Suid-Afrikaners voortaan boetes of tronkstraf opgelê sal word indien hulle versuim om gesigmaskers in die openbaar te dra.

Volgens Lamola kan skuldiges soveel as ses maande tronkstraf opgelê word terwyl die bedrag van boetes deur die betrokke landdros in die saak vasgestel sal word. Diegene wat skuldig bevind word, sal ook ’n misdaadrekord hê.

Die ministers het dit duidelik gestel dat hoewel die regering nie Suid-Afrikaners in die tronk wil stop nie, daar nie gehuiwer sal word indien landsburgers versuim om hul gesigmaskers te dra of die aandklokreël te gehoorsaam nie.

“Die regering wil nie mense tronk toe stuur nie. Die regering wil net hê Suid-Afrikaners moet veilig wees,” het Dlamini Zuma vanoggend gesê.

Aandklokreël

Bheki Cele. Foto: Jairus Mmutle/GCIS

Geen persoon mag hul huise saans van 21:00 tot soggens 06:00 verlaat indien dit nie vir ’n noodgeval is of hulle ʼn noodsaaklike diens moet lewer nie.

Cele het gesê polisiebeamptes sal nie diegene wat van 21:01 buite die bepaalde ure sonder ’n geldige rede buite hul huise betrap word, bloot beveel om huis toe te gaan nie, maar eerder summier in hegtenis neem.

Die minister het spesifiek ’n beroep op jong mense gedoen om die regulasies na te kom. “Almal is kwesbaar vir die virus.”

Alkohol

Cele het verder gewaarsku dat alkohol slegs in Suid-Afrikaners se huise gebruik mag word.

Geen alkohol mag vervoer of selfs van een huis na ʼn ander vervoer word nie.

“Hou alle drank waar dit nou is. Moenie drank in jou kattebak of selfs jou hande vervoer nie. Moenie drank na die bure neem nie. Jy sál in hegtenis geneem word.”

Die minister het verder gesê polisiebeamptes sal ook op die uitkyk wees vir truuks soos drank wat in teepotte versteek en bedien word. Onwettige drankhandelaars sal ook nie oorgesien word nie.

Begrafnisse

(Foto: pixabay)

Roubeklaers by begrafnisse word tot ’n maksimum van 50 beperk.

Dlamini-Zuma het daarop gewys dat begrafnisse verkieslik nie langer as twee uur mag duur nie. “Hoe korter die diens, hoe beter,” het die minister gesê aangesien begrafnisse die risiko inhou om superverspreider-byeenkomste te wees.

Oorledenes moet verkieslik binne vyf dae ter ruste gelê word en geen byeenkomste word ná afloop van die begrafnis toegelaat nie. Geen nagwake word toegelaat nie.

Restaurante, fliekteaters, casino’s

Suid-Afrikaners kan steeds restaurante, casino’s en fliekteaters besoek hoewel die persele tot 50 mense binnenshuis en 100 mense buite beperk word. ’n Sosiale afstand van 1,5 meter moet ten alle tye gehandhaaf word.

Die persele sluit daagliks teen 20:00.

Strande en parke

Strande in die Oos-Kaap, Wes-Kaap en KwaZulu-Natal is tot verdere kennisgewing gesluit vir die publiek hoewel vissers op strande toegelaat sal word. Strande in die Noord-Kaap bly in dié stadium oop aangesien die provinsie nie as ’n brandpunt vir Covid-19 verklaar is nie.

Alle parke is gesluit vir die publiek hoewel botaniese tuine, pretparke en akwariums van 09:00 tot 18:00 mag oopbly. Besoekers word egter binnenshuis tot 50 en 100 buite op ’n slag beperk.

Suid-Afrikaners mag steeds buite gaan oefen en met hul honde gaan stap hoewel dit nie op die strand mag gebeur nie.

Riviere en mere is tot verdere kennisgewing verbode vir die publiek hoewel mense wat afhanklik is van die water steeds water mag gaan haal en hul klere mag was.

Verblyf

Argieffoto (Foto: ming dai fr/Pixabay)

Alle hotelle en gastehuise bly oop.

Openbare vervoer

Daar is geen wysigings aan regulasies wat openbare vervoer betref nie. Maskers is wel verpligtend.

Internasionale reis

Internasionale reis word steeds toegelaat.

Die 18 landgrense wat gedeeltelik oop was, sal wel nou ten volle oopgestel word terwyl die 34 landgrense wat gesluit was, gesluit bly. Die hawe in Kosibaai in KwaZulu-Natal open egter op 1 Januarie.

Reisigers wie se internasionale vlugte ná 21:00 land sal wel toegelaat word om by die huis te kom hoewel hulle bewyse vir die betrokke vlug sal moet kan lewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.