Minnaar trap wéér na goud

Suid-Afrika se Greg Minnaar in aksie. Foto: Twitter.

Suid-Afrikaanse sportliefhebbers het nóg ’n rede gekry om te glimlag. En daarvoor moet ons vir Greg Minnaar bedank.

Die 39-jarige Suid-Afrikaner het so pas die UCI Bergfietswêreldkampioenskap (afdraandkategorie) in Italië gewen. Dit is die vierde keer in sy roemryke loopbaan dat hy met die louere wegstap nadat hy ook in 2003, 2012 en 2013 die kampioenskap gewen het.

“Ek het lanklaas ’n medalje gewen en ek het baie druk op myself geplaas om een hier te wen. Ek is egter mal oor die sportsoort en ek dink steeds nie dat ek dit heeltemal bemeester het nie – daar is gereeld ’n nuwe uitdaging wat opduik,” het Minnaar ná sy oorwinning gesê.

’n Rukkie later het hy ’n foto van homself met sy trofee op sy Facebook-blad gedeel.

“Dankie vir almal se liefde, ek is nog nie heeltemal seker wanneer dit gaan insink nie,” het hy onderaan geskryf.

Suid-Afrika se kampioenpadfietsryer, Daryl Impey, het Minnaar op sosiale media gelukgewens en hom onder meer as die “beste ooit” bestempel.

“Welgedaan Greg Minnaar. Jy sorg dat ons vlag hoog in Italië wapper. Wêreldkampioen!” het die krieketspeler Farhaan Behardien getwiet.

Theo Erlangsen en Johann Potgieter het onderskeidelik 36ste en 61ste geëindig.

  • Finale uitslae:
  1. Greg Minnaar (Suid-Afrika) 3:28.963
  2. Benoit Coulanges (Frankryk) +0.227
  3. Troy Brosnan (Australië) +0.441
  4. Loris Vergier (Frankryk) +1.166
  5. Danny Hart (Groot-Brittanje) +1.850

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Gerhard ·

Dis vir my jammer hoe min mense weet van die bergbok. In die downhill MTB is hy gewoonlik “die een” wat almal wil wen. Legende in sy sport in ons eie tyd.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.