Minnie se vriend ondersoek oor nalatigheid

Lede van die polisie se forensiese span op die toneel. Foto: Raahil Sain/ANA

ʼn Saak van versuim om ʼn vuurwapen veilig te berg word ondersoek teen die eienaar van die vuurwapen wat gevind is langs die liggaam van Mark Minnie, medeskrywer van die omstrede Die seuns van Bird Island en oudspeurder van die Port Elizabeth-polisie se dwelmeenheid.

Kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, het gesê die polisie het dié saak self aanhangig gemaak en dat dit apart van die geregtelike ondersoek wat oor sy dood gedoen word ondersoek word.

“Ons móét dit aanhangig maak in terme van die Vuurwapenbeheerwet aangesien Minnie die vuurwapen uit sy vriend se kluis verwyder het,” het Naidu gesê.

In terme van die wet moet ʼn vuurwapen wat geberg word nie gelaai wees nie, nie maklik toeganklik wees vir ongemagtigde gebruik nie en veilig geberg word in ʼn stewige sluitbare nie-beweegbare struktuur op só ʼn manier dat dit nie maklik verwyder kan word nie.

Naidu kon nie onmiddellik bevestig of die vriend ʼn oudpolisiebeampte is nie.

Oor die geregtelike doodsondersoek wat na Minnie se dood gedoen word, het sy gesê die polisie is steeds besig met die ondersoek. Sy kon nie onmiddellik ʼn aanduiding gee van hoe lank dit sal neem om die ondersoek af te handel nie en sê die ballistiese verslae is steeds uitstaande.

Maroela Media het vroeër berig daar is op 24 Augustus ʼn gedenkdiens vir Minnie gehou. Sy kinders het gesê hulle glo hul pa het self die sneller getrek en sy eie lewe geneem.

Mark Minnie. Foto: NB Uitgewers

Minnie is op 14 Augustus, enkele weke ná die bekendstelling van Die seuns van Bird Island, dood gevind op ʼn vriend van hom se kleinhoewe buite Port Elizabeth met ʼn skietwond aan sy kop en ʼn vuurwapen langs hom. ʼn Selfmoordbrief is ook op die toneel gevind.

Naidu het vroeër gesê die handgeskrewe selfmoordbrief is deur ʼn handskrifkenner ontleed wat bevestig het dat Minnie dit geskryf het.

Minnie het ook ʼn brief aan Chris Steyn, oud- ondersoekende joernalis en medeskrywer van die boek geskryf.

“Die jammerlike krete van die seuns van Bird Island spook die afgelope 31 jaar by my.

Uiteindelik is hulle storie bekend.

Chrissy, moenie nou opgee nie. Jy is amper daar.

Geen staatsamptenare wat jou hierdie keer verhinder om ondersoek in te stel nie.”

Minnie en Steyn beweer in Die seuns van Bird Island dat drie voormalige ministers van die Nasionale Party in die 80’s by pedofilie betrokke was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Piet ·

Uit sy, baie persoonlike, skywes kan enige persoon seker nou sien dat hy dit wel aan homself gedoen het. Verder, as hy wel ‘n speurder was soos wat hy voorgegee het, dan sou hy geweet het dat hy sy vriend in groot moeilikheid gaan bring. Alles van die persoon spreek van ongeloofwaardigheid. Wat ek wel sal glo is dat ministers in die ou SA meesters in konkel was – hulle is klaarblyklik slinks genoeg om daarmee weg te kom en het geen gewete.

Jip ·

Jip so maak dit net my gedagtes nog meer seker dat hierdie storie fiksie was. Hy behoort te weet met watter drama sy vriend nou moet deel en dit nadat die vriend goedgunstiglik vir hom gratis rusplek gegee het.

Skrywes ·

Piet, Jip en die res van julle hieronder; weet jul vir ‘n feit dat Mark Minnie nie geforseer was om die wapen uit die kluis te verwyder en die briewe te skryf nie? Dit is beslis ‘n moontlikheid. Persoonlik glo ek nie hy het die sneller getrek nie.

Piet ·

Ja, ek is oortuig hy het dit nie onder dwang geskryf nie. Aan die persoonlike aard van sy skrywes en intieme boodskappe is dit n logiese afleiding. Hy het ook met persoonlike probleme gesukkel en die skryf van die boek het dinge beslis nie makliker gemaak nie. Hy sou verder moes verduidelik en dit kon hy nie doen nie, want daar is geen bewyse nie.

Henna ·

Sien dit was Minnie se vriend se vuurwapen waar is julle liberale se opinies en hallusinasies oor die ou NP manne wat hom doodgemaak het?

Tokkel ·

Alles liegstories en toe skiet hy homself .. maar steeds beweer mense dit is die spoke uit die verlede wat hom geskiet het .. ongelukkig kom die waarheid altyd uit .. aan beide kante

Al ·

Ek wonder as jou vuurwapen ongelaai in jou kluis is, wat is die nut van om weerbaar te wees in noodgevalle?

Estelle ·

Dit is juis die regering se missie… om jou so blootgestel moontlik te hou.

Koos de Meyer. ·

On gelaaide wapen is net so goed of jy gaan oorlog toe sonder ‘n geweer. Jy moet soek vir die sletel, dan die magesyn en by daardie tyd het hulle jou klaar dood gemaak. Nie vir my nie.

madels ·

Wat n siek idee dat jou vuurwapen nie mag gelaai wees in jou kluis nie???? Dis mos n veilige plek en as in moeilikheid kan dit onmiddelik uitgehaal word…. maar natuurlik, die motief is dat as die moordenaars kom kan jy glad nie jouself verdedig nie.. :-(

Theresa ·

Sou dit maar gelaai met sekerheidsknip op aan persoon dra. Heeldag, oral. In kluis nie veel werd nie.

Dries ·

Na my beste wete is die bepaling dat ‘n vuurwapen ongelaai in ‘n kluis geberg moet word nie van toepassing op vuurwapens wat vir selfverdediging gelisensieer is nie maar slegs op vuurwapens gelisensieer vir sportskiet en jag.

Callie ·

Stop bespiegelinge. Plaas die brief. Seker hy verduidelik daarin

pieter ·

EN NOU MOET DIE BESKULDIGES DEUR DIE MEDIA EN MARK SE MENSE ONVERSKONING VRA.

Dries ·

Ek stem saam, Theresa. Niemand kan homself verdedig met ‘n wapen wat in ‘n kluis lê nie.

kas ·

Dit is so eenvoudig om te bepaal of hy die sneller getrek het.Hulle moes net die was toets op sy hande gedoen het dan het ons geweet wie het die sneller getrek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.