Minstens 10 SA’ners op Everest vasgekeer

Saray Khumalo en Donna McTaggert, twee van die Suid-Afrikaners wat na die aardbewing in Nepal op Everest vasgekeer is Foto: Ubuntu Everest, Facebook

Saray Khumalo en Donna McTaggert, twee van die Suid-Afrikaners wat na die aardbewing in Nepal op Everest vasgekeer is Foto: Ubuntu Everest, Facebook

Minstens 10 Suid-Afrikaners is tans op Everest vasgekeer na ʼn aardbewing naby Katmandoe in Nepal, wat sneeustortings op die berg veroorsaak het, het Netwerk24 Maandag berig.

Die aardbewing het tot dusver minstens 3 200 lewens geëis volgens AFP, maar talle persone is ook in Indië en Tibet oorlede. Duisende persone is beseer en talle is onder die puin vasgekeer.

Minstens 17 bergklimmers is dood ná sneeustortings op die omliggende bergreekse.

Die groep, Ubuntu Everest, het gesê 10 bergklimmers van Suid-Afrika is tussen die Everest-basiskamp en kamp 1 en kamp 2 hoër op, versprei. Saray Khumalo (43) van Johannesburg, wat poog om die eerste swart vrou te wees wat dié bekende piek uitklim, is tans vasgekeer by ʼn kamp 2 640 m bo seespieël. Sy was besig met voorbereiding vir haar reis wat op 20 Mei sou begin. Sy het Sondag in ʼn SMS aan haar ondersteuningsgroep, Ubuntu Everest, bevestig sy het die aardbewing ervaar, maar is veilig.

Die ander Suid-Afrikaners in die groep is Lysle Turner, Ronnie Muhl, Donna McTaggart, Elizabeth Bool, die avonturier Sean Wisedale, Marlette Hegyi, Wilmien van der Merwe, Nico Oosthuizen en Katlego Letheo.

Hulle is glo almal veilig, maar dit is nog nie duidelik hoe hulle van die berg af sal kom nie.

Sarieta Schultz, woordvoerder vir Ubuntu Everest, het gesê dit is moontlik dat daar nog Suid-Afrikaners op die berg kan wees waarvan hulle groep nie bewus is nie.

Van die klimmers wat by kamp 1 vasgekeer was, is reeds met helikopters gered, het Schultz bygevoeg.

Bron: George Germishuys en Claudi Mailovich, Netwerk24
Besoek Saray se webwerf.
Volg Ubuntu Everest op Facebook

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

CHRISTA ·

Ons kan hulle net in ons gebede aan die liewe HERE opdra. Hy alleen kan hulle nou beskerm.

Ester le Roux ·

Dankie, Christa, vir jou gebede – ek stem saam. Donna is ‘n vriendin van my.

Marinda Hattingh ·

Wilmien van der Merwe samel so geld in vir NG Welsyn. Sterkte Wilmien en familie, ons glo jou doelwit sal suksesvol wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.