Minstens 23 aanklagte teen ‘reeksverkragter’

Argieffoto

Argieffoto

Dit is moontlik dat nog aanklagte bygevoeg kan word by die bestaande 23 aanklagte teen ʼn vermeende reeksverkragter, het ʼn hof in Kaapstad Donderdag gehoor.

Die 33-jarige man se naam mag nie bekend gemaak word tot sy verhoor in die Wes-Kaapse hooggeregshof begin nie.

Hy het Donderdag vir die derde keer in die hof verskyn voor landdros Ronald Rieckerts in die Bellville-distrikshof. Hy bly in aanhouding tot 27 Oktober.

Staatsaanklaer Stefans Venter het tydens die man se eerste verskyning op 11 Mei gesê die staat gaan enige borgtogaansoek teenstaan wat die man moontlik mag bring. Tydens die man se tweede hofverskyning op 18 Mei het sy regshulpprokureur, Robyn Diedericks, aan die hof gesê haar kliënt het sy aansoek om borgtog laat vaar.

Staatsadvokaat Nokuzola Mbewana van die Wes-Kaapse Direktoraat vir Openbare Vervolging, het tydens Donderdag se hofverrigtinge Venter as die staatsaanklaer vervang. Sy sal die staat se saak in die hooggeregshof hanteer.

Mbewana het aan die hof gesê die ondersoek wat betref die 23 aanklagte is afgehandel, maar bykomende aanklagte kan bygevoeg word wanneer die man in Oktober weer in die hof verskyn.

Die man is in Mei in Epping-nywerheidsgebied in hegtenis geneem nadat die provinsiale taakspan van die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, seksuele oortredings en kinderbeskerming, omvattende ondersoeke van stapel gestuur het.

Volgens ʼn polisieverklaring het die man glo sy slagoffers genader, hulle van geld en juwele beroof en hulle daarna verkrag. Hy is in hegtenis geneem en forensiese toetse het hom met die beweerde verkragting van 23 vroue verbind. Volgens die verklaring is die beweerde misdade oor ʼn periode van vyf jaar gepleeg in Delft op die Kaapse Vlakte en Khayelitsha.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Wat-ek-lees ·

Help my, ek verstaan nie want daar was reeds hofverskynings maar die naam mag nog steeds nie bekend gemaak word?

Rapes ·

Ek stem alreeds 3 keer verskyn so sy naam mag bekend gemaak word. Die saak is verwys na ‘n hoër hof.

Sandra ·

Ek dink hy is nog nie gevra om te pleit (skuldig of onskuldig) nie, dis dalk waarom sy naam nie bekend gemaak mag word nie.

Hettie ·

Miskien hy is bekend daarom nie sy naam mag genoem word nie en sy naam word beskerm. Dalk is ek verkeerd!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.