Minstens 26 sterf op paaie van Sondag af

Die ongeluk op die R37 naby Nelspruit in Mpumalanga (22 Desember 2014) Foto: ER24

Die ongeluk op die R37 naby Nelspruit in Mpumalanga (22 Desember 2014) Foto: ER24

Minstens 26 mense is dood in ongelukke wat sedert Sondag aangemeld is.

Tien mense is Sondag dood in ʼn botsing op die N1 tussen Leeu-Gamka en Beaufort-Wes in die Wes-Kaap. Donald Grant, LUR vir vervoer in die provinsie, het gesê ʼn ligte afleweringsvoertuig en ʼn minibustaxi het gebots. Agt mense is in die ongeluk beseer.

In KwaZulu-Natal is een persoon Maandag dood en 17 mense beseer in ʼn botsing tussen ʼn minibustaxi en ʼn polisievoertuig. Volgens Garrith Jamieson, woordvoerder van Rescue Care, was die taxibestuurder in die wrak vasgekeer en hy is op die toneel dood verklaar. Vier polisiebeamptes en 13 van die taxi se insittendes is beseer.

Vier mans is dood nadat twee bakkies op die N11 buite Ladysmith gebots het. Robert McKenzie, woordvoerder van die provinsiale nooddienste, het gesê drie mense is in die botsing beseer en is na ʼn nabygeleë hospitaal vervoer vir behandeling.

ʼn Man is dood en twee mense is beseer nadat die motor waarin hulle gery het omgeslaan en verskeie kere gerol het in Waterfall. Chitra Bodasing, woordvoerder van ER24, het gesê die bestuurder van die motor het vermoedelik beheer verloor. Die motor het verskeie kere gerol en die insittendes is uit die motor geslinger.

In Mpumalanga is vier mense, insluitend ʼn baba, dood nadat twee voertuie Maandag op die R37 naby Nelspruit gebots het. Pieter Rossouw, woordvoerder van ER24, het gesê een van die motors het glo die ander motor probeer verbysteek toe die ongeluk plaasgevind het. Drie mense is in die ongeluk beseer.

In Gauteng is vier mans dood aangetref in ʼn motor in Dobsonville. Soweto. Ao. Kay Makhubela, woordvoerder van die polisie, het gesê die motor het vermoedelik klippe getref voor dit teen ʼn boom gebots het.

ʼn Man is Sondag dood in ʼn botsing reg van voor in Witkoppenweg in Bloubosrand. Werner Vermaak, woordvoerder van ER24, het gesê ʼn Toyota Corolla en ʼn Jeep het reg van voor gebots. Volgens Vermaak het die bestuurder van die Jeep ligte beserings opgedoen.

Die bestuurder van die Corolla was in die motor se wrak vasgekeer. Die man, glo in sy 50’s, het noodlottige beserings opgedoen en is op die toneel dood verklaar. Sy liggaam moes met meganiese toerusting uit die wrak verwyder word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Trippie ·

Ek is mal oor spoed maar ek dink dit is mal om te jaag. Jy bewys geen naasteliefde om ander nie in ag te neem nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.